Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Pierneef: Hiéroor is vertoning vir kinders geweier

“Kinders wat die teater besoek, moenie aan vertonings blootgestel word waarin enige seksuele element of ondertoon voorkom nie.”

So lui ’n verklaring wat die Pierneefteater in Villeria, Pretoria, Woensdagaand uitgereik het nadat twee vertonings van ’n poppeteaterproduksie waarin gay karakters voorkom, deur dié teater gekanselleer is.

Van die karakters in die poppeteaterproduksie ‘Drizzels’. Foto: Marco du Plessis

“Ongeag of dit homoseksueel of heteroseksueel is, word sulke inhoud as onvanpas vir die betrokke ouderdom (drie tot tien jaar) beskou. Dié beginsel word gehandhaaf ongeag die seksuele oriëntering van die kunstenaars, organiseerders, aanbieders of die karakters op die verhoog.”

Jopie Koen, eienaar en bestuurder van die Pierneef-teater, se prokureur, Louw Erasmus, het dié verklaring namens die teater uitgereik.

Netwerk24 het Koen sedert Maandag meer as een keer om kommentaar genader, maar dit was onsuksesvol.

Drizzels, die poppeteaterproduksie waarin die gay karakters voorkom, hoewel dit nie op die naam genoem word nie, sou Donderdag en Vrydag op die planke wees.

Marco du Plessis, skrywer van Drizzels, het verlede Donderdag ’n oproep van Koen ontvang nadat ’n gereelde teaterganger na bewering oor die produksie gekla het.

Sommige van die karakters is gay, maar die produksie wat vandeesweek opgevoer sou word, handel nié daaroor nie. Zinzi die sebra is gay, en Freddy en Rajesh, twee getroude pa’s, het Toni die tier aangeneem.

Drizzels bestaan uit verskillende produksies met verskillende verhale, maar dieselfde karakters kom daarin voor. In Augustus is ’n produksie aanlyn aangebied waarin Zinzi geboelie word omdat sy anders is. Toni die Tier het haar strepe gesteel omdat sy gay is.

“Een van die belangrikste vereistes is die beskerming van kinderregte. Wanneer vryheid van spraak moontlik kinders van ’n jong ouderdom leed kan aandoen, sal die teater só ’n produksie weier. Indien ’n produksie soos Drizzels aan ’n volwasse gehoor opgevoer sou word, sou dit met graagte toegelaat word.”

Die produksie wat vandeesweek op die planke sou wees gaan egter oor die Covid-19-pandemie. Terselfdertyd word nóg ’n produksie van Drizzels, wat oor die besoedeling van die see handel, vandeesweek virtueel op die Vrystaat Kunstefees se Snelstroomfees aangebied.

Volgens Du Plessis stel sy geselskap dit ten doel om teater aan kinders te bied wat nie by hoofstroomteater aanklank vind nie.

“Die Pierneef-teater sal sowel die emosionele as geestelike welstand van kinders beskerm soos deur die Grondwet uiteengesit,” lui die teaterverklaring verder.

“Daar is met skok verneem van nuusberigte en mense se aantygings dat die Pierneefteater hom skuldig maak aan ’n handeling wat teen die LGBTQ-gemeenskap diskrimineer. Hierdie aantygings word verwerp. Selfs al het die teater ’n fout begaan met die aansoek van die teatergeselskap, is die besluit geneem sonder enige vyandigheid teenoor die LGBTQ-gemeenskap.”

Volgens die verklaring lê die sukses van die Pierneef-teater, wat sedert 2003 bestaan, daarin dat alle kunstenaars welkom is om daar op te tree.

“Ongeag hul kultuur, geloofsoortuiging, gender, ras of seksuele oriëntasie. Die uitvoerende kunste ken geen grense nie en die Pierneef-teater beaam die beginsels van menswaardigheid, gelykheid en vryheid.

“Een van die belangrikste vereistes is die beskerming van kinderregte. Wanneer vryheid van spraak moontlik kinders van ’n jong ouderdom leed kan aandoen, sal die teater só ’n produksie weier.

“Indien ’n produksie soos Drizzels aan ’n volwasse gehoor opgevoer sou word, sou dit met graagte toegelaat word.”

• Intussen word ’n produksie van Drizzels op 7 November in die Lucit-restaurant in Rietondale, Pretoria, opgevoer. Die vertoning begin om 10:00 en kaartjies kos R50.

Bel 061 527 7465 om te bespreek.

Meer oor:  Jopie Koen  |  Pierneefteater  |  Pretoria  |  Teater  |  Gay  |  Poppeteater  |  Drizzels  |  Lgbtq
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.