Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Teater
Delikate drama ‘Covid Moons’ open die Royal Arts Town-amfiteater
Die Royal Arts Town-amfiteater in Riebeeck-Kasteel.Foto: Neil Geldenhuys

Covid Moons

Royal Arts Town-amfiteater, Riebeeck-Kasteel

****

Daar was dalk nie ’n volmaan as komplement vir Clare Stopford se delikate verhoudingsdrama Covid Moons nie, maar daar was ’n helder sterredak.

Dit het bo die Royal Arts Town-amfiteater in Riebeek-Kasteel geflonker Vrydagaand as viering van die opening van dié magiese nuwe vergaderplek in die Riebeekvallei.

Soos met antieke teater van Griekse tye sit die gehoor in die opelug in ’n semisirkel om die verhoog. Daar heers ’n vriendelike geselligheid op die mooi skemeraand. Almal is tjoepstil as die ligte verdof. Net ’n paar krieke kriek. Die jong stedelinge Magda (Nicol Steyn) en Lufuno (Sipumziwe Licwaba) leer mekaar as bure ken. Elke dag gesels hulle oor die balkonmuurtjie in die woonstelkompleks waar hulle woon. Die kunsstudent Magda woon in ’n studentekommune en die bemarker Lufuno is in Kaapstad vir ’n werksonderhoud, wat dalk nie in sy guns gaan uitdraai nie. Dit is tydens die eerste strawwe inperking van vlak 5 in Suid-Afrika. Hulle raak vinnig aangewese op mekaar: huismaats, vriende en familie is ver, maar nie net weens reisbeperkings nie. Daar is ook emosionele redes. Die gehoor leer die twee vinnig ken. Daar is ’n reuseskerm agter die verhoog waar die gesigte van familie en vriende wat inbel, verskyn. Als so herkenbaar van daardie tydperk vanjaar. Ons lewe op skerms, ons intiemste sake word virtueel hanteer, selfs die afskeid van ’n geliefde was op ’n skerm.

Lufuno (Sipumziwe Licwaba) was te sien in die drama “Covid Moons”, waarmee die Royal Arts Town-amfiteater Vrydagaand geopen is.

Geheime kom aan die lig. Lufuno se skouers knak onder al die verantwoordelikhede wat op hom rus as werkende man wat sy ouers en jonger familielede moet ondersteun. Magda kán net nie huis toe gaan nie, die rede raak gou duidelik. Dan word haar geliefde ouma ook nog ernstig siek aan Covid-19. Die stel simboliseer traliewerk soos ’n tronk weens die inperking, maar ook die verwagtinge van hul families en al die verpligtinge. Daar hang ’n pienk maan as belofte oor die twee ingeperktes.

’n Mens kan redeneer dat die Covid-19-pandemie om ons tier, jy wil dit tog nie beleef op ’n aandjie uit nie. Toe nie. Covid Moons onderstreep ons gedeelde menswees, ons buurmanskap en dat mense nou meer as ooit op mekaar aangewese is – selfs op vreemdelinge. Dit is ook so snaaks aanvanklik omdat die karakters so uiteenlopend is – Magda se sielvolle maandanse teenoor Lufuno se logiese en nugter blik op die lewe. Hulle skaaf so ’n bietjie aan mekaar se lewensuitkyk.

Hier het ons ’n sensitiewe, menslike hantering van ’n ingrypende ommekeer in die moderne lewe wat die onsigbare koronavirus gebring het. Daar sal seker nog vele saaklike studies oor inperking en die nasleep van Covid-19 gedoen word. Hierdie is na my wete die eerste plaaslike toneelstuk met die pandemie as agtergrond. Dit vat die menslike kant en onmeetbare opofferinge wat die pandemie verg, sprekend vas.

Steyn en Licwaba vertolk hul karakters as bruisend jonk en hoopvol oor die lewe, maar beeld ook hul geldige vrese vir die toekoms uit. Stopford het ’n sensitiewe en teer drama geskep. Dit is geanker in onsekerheid en ontworteling, maar sy laat hoop en deernis aangroei soos ’n wonderskone volmaan.

* Die speelvak van Covid Moons by die Royal Arts Town-amfiteater is verby. Die volgende aanbiedinge in die amfiteater is An Audience with Emily Hobhouse met Lynita Crofford op 4 en 5 Desember. Crofford het ’n Standard Bank Ovation-toekenning ontvang vir die vertolking van Hobhouse, wat die haglike omstandighede in die Britse konsentrasiekampe onder die wêreld se aandag gebring het.

Op 18 en 19 Desember is Oom Schalk from the Heart aan die beurt met David Muller as die minlike Oom Schalk, wie se wilde stories oud en jonk sal bekoor. Muller word wyd geloof vir hierdie vertolking.

Die amfiteater is in op die terrein van die Royal Hotel op Riebeeck-Kasteel geleë. Om te bespreek gaan na die webblad artstown.co.za.

Daar is spesiale pakkette vir teaterkaartjies en akkommodasie beskikbaar. Bel Shawn by Riebeek Valley Tours by 082 528 6785 of stuur e-pos na goodintentconnections@gmail.com.

Meer oor:  Riebeeck-Kasteel  |  Amfiteater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.