Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Deon Meyer ontpop as sanger op nuwe album

Hy is bekend om sy spanningsromans, maar nou kan aanhangers van die skrywer Deon Meyer hom vir die eerste keer hoor sing.

Hy sing boonop ’n toonsetting van ’n gedig wat hy vir sy vrou, Marianne, geskryf het.

Deon Meyer en Lize Beekman in die ateljee. Foto: Christelle Pretorius Photography

Dit verskyn op die sangeres Lize Beekman se eerste album in nege jaar, Hier en nou, wat vandeesmaand uitgereik word en Woensdag op RSG bekend gestel is.

Beekman, wat die toonsetting gedoen het, het gereken “Oase” moet as ’n duet opgeneem word.

Meyer sê in ’n verklaring hy loop reeds sedert 2007 ’n pad met Beekman se musiek.

“Ek het toe al saam met Lize begin sing kort nadat ek haar album Draadkar oor die see gekoop het. Ek het luidkeels en meegevoer aan dié duette deelgeneem, want haar stem en musiek en liriek doen dit aan mens.”

Beekman het uiteraard nie hiervan geweet nie.

Meyer het haar leer ken toe hy haar gevra het om ’n lied vir die rolprent Die laaste tango te skryf. Dié lied was “Kom ons dans”.

“Eers toe het ek die moed gehad om vir haar te sê van my begeerte om eendag net een liedjie saam met haar te kan sing. Sonder ’n gehoor, natuurlik, dalk net op die agterstoep van ons Karoo-huis, sou sy daar wou kom kuier. Sy het taktvol gesê dit sal lekker wees.

“Natuurlik het besige lewens gesorg dat dit nooit gebeur nie. Ek was agterna skaam oor my voorbarigheid, seker omdat al haar aanhangers dieselfde wens koester. Ons het ten minste vriende gebly!”

Beekman het op Meyer se troue verlede jaar gesing.

“Ek weet nou nog nie wie die meeste verlig was dat ek die noot so min of meer kon hou nie – ek of Lize."

Op die onthaal het hy ’n gedig vir Marianne voorgelees.

Beekman en die sanger Coenie de Villiers het net daar besluit dit moet getoonset word.

Meyer het nie daarvan geweet nie.

Beekman het dit stil-stil gedoen, en saam met De Villiers en kitaarmaestro Mauritz Lotz die musiek daarvoor opgeneem.

Hulle het op die US Woordfees vanjaar by die Meyer-egpaar gaan kuier en die komposisie vir hulle gespeel.

Beekman het gevra of sy dit op haar nuwe album mag insluit. ’n Paar weke later het sy Meyer gebel en gesê sy dink dit moet as ’n duet opgeneem word.

Meyer was senuagtig oor die singery en het elke oggend hard geoefen.

“Ek weet nou nog nie wie die meeste verlig was dat ek die noot so min of meer kon hou nie – ek of Lize.

“Ondanks my voortdurende vrese dat ek haar sou teleurstel, was die daaropvolgende ateljee-opnames ’n heerlike ervaring wat ek vir niks sal verruil nie. Dié medewerking was loutere lekkerte, ’n reuse-eer en -voorreg, en vir my en Marianne onbeskryflik kosbaar.”

Meer oor:  Rsg  |  Us Woordfees  |  Lize Beekman  |  Deon Meyer  |  Boeke  |  Musiek  |  Skrywers  |  Sangers  |  Album  |  Radio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.