Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Leon van Nierop oor omstrede Oscar-dokkie

The Life and Trials of Oscar Pistorius.
Regisseur: Daniel Gordon. Op DStv 218 en DStv Catch Up.
 ****

Nes ’n mens dink jy weet alles van die hofsaak van die dekade wat destyds regstreeks op televisie uitgesaai is, skud hierdie dokumentêr jou opnuut wakker en word daar nuwe lig op Oscar Pistorius se lewe, wat vanuit elke denkbare hoek benader word, gewerp. Wat dit opspraakwekkend maak, is dat dit Oscar se prestasies jukstaponeer met die dramatiese hofsaak. Ook met onderhoude van vorige vriendinne en ander mense soos sy oom, sy oudskoolhoof, vriende en warm oomblikke met sy ouma.

Wat die kyker meesleur, is die opdraande stryd van die jong atleet wie se bene as baba onder sy knieë afgesit is, en hoe hy ten spyte daarvan, ’n wêreldkampioen-atleet geword het.

Wat die kyker meesleur, is die opdraande stryd van die jong atleet wie se bene as baba onder sy knieë afgesit is, en hoe hy ten spyte daarvan, ’n wêreldkampioen-atleet geword het.

Ons sien ’n vasbeslote man wat tot ’n ikoon verhef is, die mentor en superster-atleet wat die ganske land bewonder het en ook vele toekomstige atlete geïnspireer het.

Hierna is ons toeskouers van sy val wat dit in ’n moderne tragedie verander. Hy is aangekla van die moord op sy vriendin Reeva Steenkamp. Die dokumentêr ondersoek nie net die hofsaak nie, maar wys ook die druk waaronder Pistorius was nadat hy op die wêreldverhoog beland het.

Oomblikke kom na vore wat bewys dat hy ’n private en nederige kampioen was, maar ook hoe hy in die tydperk voor Steenkamp se dood vreemd begin optree het, en dat die stres en die spanning van ’n mislukte verhouding hom gestriem het.

Ook dat woede, aggressie en frustrasie opgebou het totdat die drukpot ontplof het.

Waarop die Bafta-wenner en regisseur Daniel Gordon sonder sensasie fokus, is die moderne Suid-Afrikaanse tragedie van ’n gestremde man wat groot hoogtes bereik het ten spyte van struikelblokke. Maar ook hoe die dood van sy ma, en grootliks afwesige pa, hom verder gestriem het.

Maar dit is die openhartige gesprekke (sommige te lank en herhalend) met mense wat hom geken het en hul indrukke dikwels reguit weergee, wat werk.

Die hofsaak word, met die uitsondering van enkele pertinente tonele, nie die fokuspunt nie, maar wel sy prestasies, hoe sy bewonderaars hom ervaar het, en hoe hy, veral op skool, gepresteer het en as ’n gewone seun en atleet aanvaar is.

Hierdie grepe is verantwoordelik vir die dokumentêr se suksesvoller oomblikke.

Kritiek is dat sommige episodes te deeglik is en situasies en inligting oordadig beklemtoon en herhalend uitgerek word.

Maar wat dit tot ’n vierster-dokumentêr verhef, is die eerlikheid en nugterheid waarmee dit gemaak is.

Soms raak die geweldige akklamasie te veel, maar dit word ook gekontrasteer met die tragedie wat sy prestasies byna uitgewis het, en ’n gebroke man, wat so emosioneel gedurende sy hofsaak was, laat knak het.

Ook die bedroefde maar strak gesigte van die Steenkamps waarop die kamera herhaaldelik fokus spreek boekdele gedurende sy emosionele pleidooie.

Die opinies van vriende en familie wat elkeen ’n sekere prentjie (uit hul oogpunt) van hom skep, versterk die dokumentêr en onderstreep aspekte waarvan ons nie altyd bewus was nie.

Dis veral ’n voormalige vriendin wat nie doekies omdraai nie, wat insiggewende inligting gee.

Al dink jy jy ken die storie, hierdie dokumentêr bied toegang tot die man agter die glansbeeld, dikwels tragies en weerloos.

Dit bestaan uit vier episodes.

  • 13 (Taal)

Hillary. Regisseur Nanette Burstein op Showmax ***

Dit is inderdaad die week van dokumentêre. As jy wil asem skep van die Pistorius-drama, skakel oor na Showmax en kyk hoe nóg ’n ikoon, Hillary Clinton, die vrou van staal, politieke hoogtes bereik het toe sy byna die volgende president van Amerika geword het. Ook hoe Donald Trump haar uitgestof het. Maar veral hoe behendig sy dit hanteer het.

Wat hier werk, is die humor wat sy na die dokumentêr bring, en ook hoe sy haarself, dikwels humoristies, sien.

Haar kinder- en studentelewe word belig, asook haar opgang op die politieke verhoog veral nadat sy Bill Clinton ontmoet het. Wat hier werk, is die humor wat sy na die dokumentêr bring, en ook hoe sy haarself, dikwels humoristies, sien. Maar natuurlik val die fokus op die moordende verkiesingsveldtog en die glimlag wat altyd om die mondhoeke van ’n vrou geplooi het wat nie bekend was om haar mededeelsame glimlagte nie.

Aanbeveel as jy in haar loopbaan belangstel, maar hier is nie soveel nuwe perspektiewe waarvan jy nie bewus was nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.