Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dís nou ’n boek waaruit ’n kind kan leer

Hoe lank sal dit jou neem om op Google vas te stel watter Suid-Afrikaners leiers op hul gebied in die wetenskappe is? Toemaar, jy hoef nie die sommetjie te maak nie.

Engela Duvenage in haar element in die natuur. Foto: Verskaf

Kry net Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika deur Engela Duvenage en jy het voor jou ’n wonderboek propvol inligting wat nie eens Google jou alles sou kon gee nie.

Dié boek bevat ’n merkwaardige versameling van 102 stories in ’n boeiende verteltrant, feiteblokkies, toonaangewende en gewone mense wat hul stempel op vooruitgang afgedruk het en mense wat terugslae in sukses omgeskakel het.

Die skrywer Jaco Jacobs, wat self nie terugstaan as dit by feiteboeke vir kinders kom nie, het so gereageer toe hy Uitvinders onder oë gehad het: “Dit is sowaar een van die indrukwekkendste niefiksieboeke vir kinders nog in Afrikaans. Ek kan my skaars indink hoeveel werk in die 376 bladsye gesit is.

“Van Chris Barnard, Mark Shuttleworth, Elon Musk en Imtiaz Sooliman tot Glenda Gray en die Abdool Karims wat die voortou geneem het met die hantering van die Covid-19-pandemie, en al dié baanbrekers se verhale word lekker toeganklik vertel en met ekstra blokkies feite toegelig. Wraggies ’n trots Suid-Afrikaanse boek as daar al ooit een was!”

’n Boek vir elke kind, skool, ouer en biblioteek.

Beplanning

Duvenage sê sy hou van “positiewe stories” en wil hê “die publiek moet weet daar is mense wat, ongeag wat in die land gebeur, elke dag werk toe gaan en hul ding doen. Dit is almal mense met ’n onblusbare passie”.

Vir die regte balans en ’n sinvolle oorsig het sy die wetenskaplikes aanvanklik in groepe gedeel. Sy het gesoek vir eerstes, soos Chris Barnard wat die eerste hartoorplanting gedoen het. Toe mense na wie iets genoem is, soos Maureen Coetzee na wie ’n muskietspesie genoem is, “sekerlik die grootste eer wat ’n navorser te beurt kan val”.

Sy het ook wetenskaplikes in leiersposisies ingesluit, soos die wiskundige Daja Reddy wat as president van die magtige internasionale wetenskapraad gekies is.In die groepe is medici, ruimtekenners, dierekenners, geoloë, weer- en waterkundiges, Nobelpryswenners, fossielkenners. En doodgewone planmakers, want soos Duvenage sê, “almal in die boek is nie akademici nie. Neem byvoorbeeld Dirkie Jerling, ’n knap vrou van Hennenman in die Vrystaat. Sy het in 2018 ’n eerste plek in Nampo se Boereplannekompetisie vir haar windpompverwante patent verower.”

Gunstelinge

Een van Duvenage se gunstelingstories is oor die eertydse Kapenaar Allan Cormack, wat aanvanklik nie sy doktorsgraad kon behaal nie ondanks ’n paar jaar se studie aan die Universiteit van Oxford in Engeland.

“Hy het na Suid-Afrika teruggekeer sonder die doktorsgraad, maar darem met ’n bruid aan sy sy.” Selfs sulke lekker inligting kry jy in die stories.

“Uiteindelik het Cormack die Nobelprys ontvang vir die ontwikkeling van die CAT-skandeerder, ’n apparaat wat vinnige fotokwaliteit-beelde van die mens se liggaam verskaf en nou nog daagliks in hospitale die wêreld oor gebruik word.”

Nog een van Duvenage se gunstelingstories is oor die fisikus Buyisiwe Sondezi. “Sy wou haar lewe lank een of ander eerste doen, soos om eerste in matriek te kon staan, wat sy nie bereik het nie. Uiteindelik was sy die eerste vrou in Afrika wat in ’n veld van eksperimentele fisika haar doktorsgraad verwerf het.”

Duvenage, ’n wetenskapjoernalis wat in Wellington woon, gesels land en sand oor haar ontmoetings met nuusmakers, soos die kinderhartspesialis Susan Vosloo, die fossielkenner Rob Gess in Grahamstad, wie se lewenswerk dit is om skalieklip op te kap op soek na visfossiele, Winston Wicomb, ’n broer van die sanger Randall Wicomb, en sy harttassie wat die vervoer van oorplantingsorgane oor ver afstande moontlik gemaak het. 

Duvenage het sowat vyf jaar met die gedagte gespeel van so ’n omvattende boek vir kinders, veral ook vir haar dogters, Elena en Marike. Twee keer het uitgewers haar die deur gewys, maar Lapa het binne ’n dag die waarde van haar voorlegging ingesien en na sowat twee jaar is die projek afgehandel.

Duvenage se wens is dat soveel as moontlik kinders, ook volwassenes, die inligting in hul eie taal sal kan lees. Daarby is die boek ’n bron van beroepe vir kinders wat in die natuur en ander wetenskappe belang stel. Dit is ook geskik vir begripstoetse op skool.Sy werk tans aan die Engelse vertaling en hoop dit sal in braille omgesit word en in ander Suid-Afrikaanse tale vertaal kan word.

  • Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika deur Engela Duvenage is ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en kos R330 by Lapa.
Loopbaan

Engela Duvenage het ’n BA met sosiologie en sielkunde, honneurs in joernalistiek en ’n MPhil in wetenskapjoernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch (US) verwerf.

By Cape Nature het sy praktiese kennis opgedoen en agt jaar lank as wetenskapjoernalis in die fakulteit natuurwetenskappe aan die US oor navorsing geskryf.

Sy het verskeie wêreldkonferensies oor wetenskapjoernalistiek bygewoon, het by verskeie gemeenskapskoerante gewerk en lewer sedert 2013 as vryskut bydraes aan ’n menigte tydskrifte, koerante en ander publikasies. Onder haar talle pryse is drie rektorspryse (2010 tot 2012) vir uitstaande diens aan die US en die Britse Hoë Kommissaris se prys vir ’n artikel oor klimaatverandering in 2011.

Uitvinders, planmakers en ander slimkoppe van Suid-Afrika is haar eerste boek vir kinders.


Meer oor:  Engela Duvenhage  |  Boeke  |  Jaco Jacobs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.