Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Bekgeveg kry ama-naam

’n Nuwe boek met ’n unieke Zoeloe-naam vir elkeen van die 600 voëls wat in KwaZulu-Natal aangetref word, het pas verskyn, skryf Janine Stephen.

’n Kwikstertjie (umvemve) probeer sy bes om die kuiken van die uphezukomkhono (piet-my-vrou) gelukkig te hou.

Daar is ’n Zoeloe-gesegde wat waarsku dat moeilikheid op hande is. Dit lui “Umathebathebane usego-qile” – die sperwer se vlerke is gevou.

Enigeen wat al gesien het hoe die sperwer sy vlerke vou voordat hy duik, sal presies weet wat daarmee bedoel word.

Gevaar kom deesdae in baie vorms en gedaantes voor in ’n wêreld waar natuurlike ekosisteme én kulture onder druk is. Om gemeenskappe te leer oor bewaring word elke dag belangriker en soos Sakhamuzi Mhlongo verduidelik, dit is soveel makliker om dit in iemand se moedertaal te doen.

“As kinders in hul eie taal oor voëls kan lees, sal hulle meer selfversekerd wees, dinge beter onthou en die boodskap aan ander mense kan oordra,” sê hy. “Die taal van die voorvaders help om hul belangstelling te prikkel.”

Daarom leer Mhlongo, ’n voëlgids en omgewingsopvoedkundige, graag die Zoeloenaam vir die piet-my-vrou: uphezukomkhono. Dis ook ’n klanknabootsing en beteken “kry die skoffel”.

Mhlongo verduidelik: “Ons voorvaders het nie televisie of kalenders gehad nie. So as uphezukomkhono roep, het hulle geweet dis tyd om te plant.

“Taal is deel van ons.

“Om ons spreektaal te verloor is een van ons grootste gevare. In ’n wêreld waar alles vooruitgaan moet ons nie ons identiteit verloor nie. Kinders sal miskien ’n naam vergeet, maar ’n storie vergeet hulle nie gou nie.”

Prof. Noleen Turner, een van die leiers van die naamgee-projek, tydens ’n werkswinkel met ’n paar professionele Zoeloe-voëlgidse.

Mhlongo, wat naby Eshowe in KwaZulu-Natal bly, is in Nyoni (wat “voëls” beteken) gebore en hy het ’n belangrike rol gespeel in die reuseprojek om unieke Zoeloe-name te gee aan elkeen van die 600 voëlspesies wat in die provinsie voorkom.

Die saadjie vir die projek is in 2003 geplant toe Noleen Turner, deesdae ere-navorsingsprofessor aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, hom gekontak het om te hoor of dit regtig so is dat die kenmerkende en kleurvolle nataljanfrederik nie sy eie Zoeloe-naam het nie. Mhlongo het die leemte in die leksikon bevestig – maar gesê as hy sou kon, hy die voël ’n ononkositini (konsertina) sou noem vanweë sy pragtige musikale roep.

En so is die Zoeloe-voëlnaamprojek gebore. Die kuikentjie wat soveel jaar gelede uit sy dop gekruip het, het nou wasdom bereik in die vorm van die Roberts Birds of KwaZulu-Natal and Their Zulu Names, uitgegee deur die John Voelcker-voëlboekfonds, die eerste praktiese gids in sy soort. Nou kan voëlkykgidse én die algemene publiek hul inkonjane (swaeltjies) van hul inhlolamvula (windswaels) – hulle wat die reën voorspel – onderskei

Die veldgids is uitgelê in dieselfde styl as die bekende en gerekende Roberts-gidse en bevat ’n foto, verspreidingskaarte, die Engelse, Zoeloe- en Latynse name van elke voël plus beskrywings van die oorsprong van die Zoeloe-naam. Dit is meer as ’n blote identifikasiegids. Besonderhede oor die geskiedenis, plaaslike kultuur en mondelinge tradisie wat agter baie van die Zoeloe-name lê, is ook opgeteken.

Die rooskeelkolpensie of umagumejana – die klein Gumede-vrou.

Die rooikophoutkapper, byvoorbeeld, het twee Zoeloe-name: isinqonqotho, wat verwys na die manier waarop mense by die deur staan en “Nqo Nqo!” (“klop-klop”) sê as hulle wil inkom. Maar hy word ook “ons steek hulle” of usibagwebe genoem omdat hulle hul insekprooi aan dorings ophang.

Die maraboe se naam is inqelendlovu, ’n samestelling van “aasvoël” danksy sy kaal kop en “van ’n olifant” vanweë sy grootte.

Turner, wat eers op universiteit geleer Zoeloe praat het, se navorsing oor Zoeloe-voëlname het ses jaar gelede eers vlamgevat toe sy finansiering gekry het om saam met haar medeskrywer en mede-Zoeloe-professor Adrian Koopman ’n reeks werksessies saam met die beste Zoeloe-voëlgidse in die provinsie te begin.

Tydens die omvattende proses het hulle al die bestaande historiese Zoeloe-name ingesamel; oorvleuelende name aan verskillende spesies toegedeel en nuwe name geskep vir spesies wat geen Zoeloe-naam gehad het nie – soos die kusvoël die swarttobie, wat nou uozila in Zoeloe heet – na iemand wat in rougewaad geklee is.

Agttien voëlgidse het bydraes gelewer wat deur die derde medeskrywer, die ekoloog Roger Porter, vir wetenskaplike akkuraatheid nagegaan is. Dit help tog nie mens noem die lepelaar isixulamasela (“die een wat paddas vreet”) as die voël dit nie doen nie.

Thabile Khuzwayo, ’n voëlgids wat in die Gingindlovu-omgewing, naby Eshowe, gebore is, sê sy het die naamgeeproses met groot verantwoordelikheid benader. Sy sou teruggaan na haar geboortegebied om met die grysaards te konsulteer om seker te maak dat die lys volledig is en geen naam oor die hoof gesien word nie.

Themba Mthembu, nog ’n kundige gids, stem saam.

“ ’n Mens wil nie afwyk van hoe jou voorvaders of jou ouma die voël sien nie. Jy is besig om ’n besluit namens so baie mense te neem en jy wil nie ’n fout maak nie!”

Fiskaallaksman of ilunga, ’n Zoeloenaam wat ook gebruik word vir swart beeste met wit strepe.

Name is daarom getrou versamel – soos die ou naam vir die berghaan, indlamadoda (“wat mense eet”), ’n naam wat die voël gekry het vanweë sy gewoonte om te eet aan die lyke van gevalle soldate op die slagveld.

Die doel was konsensus, maar daar was ook lewendige woordewisselings.

Mhlongo onthou die debat om die kuifkopvisvanger.

Die ou Zoeloenaam vir die voëltjie is inhlunuyamanzi – “iemand wat haar vagina in die water doop” – vanweë die voëltjie se gewoonte om laag oor die wateroppervlak te vlieg. Vrees vir die chaos wat in die klaskamer gaan losbars as jy vir kinders dié naam probeer leer, het hulle uiteindelik laat besluit op ’n ander, meer neutrale naam.

Daar was egter steeds baie ruimte vir kreatiwiteit, want 67% van die voëls in die provinsie het geen Zoeloe-naam gehad nie. Honderde name is dus in die werksessies geskep. Die meeste is gekoppel aan die voël se gedrag, sy verekleed, habitat en roep – en soms ook aan sy verhouding met mense.

Een van Mhlongo se gunstelingkeuses is unongoyana vir die groen houtkapper. Die naam is ’n vervorming van Ngoye, die stuk bos wat die enigste plek in die land is waar dié voëltjie nog te sien is.

En ook die mooi nuwe naam vir die rooskeelkolpensie. In Zoeloe heet dié voëltjie nou umagumejana of “die klein Gumede-vrou” – ’n verwysing na die Gumede-familie, wat beroemd is vir hul fyn kralewerk.

“As jy na die voël kyk, lyk al die swart en wit kolletjies soos ’n eksotiese kralehalssnoer,” sê Turner.

Afleidings van Engelse name of woorde is ontmoedig. Een welklinkende uitsondering is die Afrikaanse breëbek, ’n skaars voël wat in die noordelike woude voorkom. Die voël heet umasikulufu, ’n woord afgelei van “skroef” of “screw”. Enigeen wat al die voël se kenmerkende sirkelvormige pronkvlug gesien het, sal onmiddellik weet waar dié naam vandaan kom.

Hoewel ’n groot deel van hul werk was om verskillende name te gee aan voëls wat dieselfde naam deel (baie verskillende arende het byvoorbeeld bekend gestaan as ukhozi) was daar aan die ander kant van die spektrum ook baie voëls wat meer as een naam gehad het. Die onverwagte rekordhouer was die rooineklewerik, wat nie minder nie as 12 Zoeloename het – grotendeels vanweë bygelowe wat sy vlugpatrone verbind met geluk of voorbodes.

Sommige van die name wat nie die paal gehaal het nie, is uiteindelik gebruik vir ander voëls met soortgelyke gewoontes.

Die dwergvisvanger of uzangume – een wat sit en voor hom uitstaar.

Name het ’n soort simboliek wat mense se intieme wisselwerking met die natuur weerspieël wat meer weeg as blote identifikasie, sê die Zoeloe-kenner Marguerite Poland.

Voël- en diername help dus met ’n groter begrip van die omgewing: ’n roomwit nguni-koei met ’n gespikkelde vel word dus in Zoeloe emaqandakacilo of “eiers van die kiewiet” genoem.

Die Zoeloe-voëlnaamprojek probeer dus hierdie jare lange verhouding tussen mens en dier opteken en bestendig. Turner hoop dit sal help om groter belangstelling in, bewustheid en beskerming van die provinsiale erfenis te bevorder.

Voëls is op sigself kosbaar, maar daar is ook groot geld in voëltoerisme en dit kan ’n belangrike finansiële inspuiting vir landelike gebiede wees. Dit is Themba Mthembu se groot obsessie – net so groot soos sy liefde vir voëls.

Mthembu (42) het grootgeword op die klein Nibela-skiereiland, aan die noordelike punt van die St. Lucia-meer, waar veldwagters sy belangstelling in voëlkyk aangewakker het. Nadat hy in 2001 as voëlgids opgelei is, het hy sy eie maatskappy gestig en lei nou toere na gewilde voëlkykplekke soos Ndumo, die Thembe-olifantpark en die Isi­mangaliso-vleilandpark.

Hy is al baie jare betrokke by omgewingsopvoedingsprojekte en het pryse ontvang vir sy bewaringspogings. Oor die jare heen het hy ’n groot verskuiwing gesien.

Toe hy die eerste keer belangstelling begin toon in bewaring het mense hom name genoem.

Hy was die malletjie wat met ’n verkyker rondloop en mense vra om nie hul veld te brand in sekere voëls se paartyd nie.

“Dit was eers toe ek ander malletjies na die omgewing gebring het wat bereid was om mense te betaal om voëls op hul grond te kyk dat mense se gesindheid verander het.”

Dit is danksy sy pogings dat skaars voëlsoorte soos die bedreigde rooskeelkalkoentjie (inqomfebomvu) nou veilig is in gemeenskappe wat Mthembu geleer het om “voëlvriendelik” te wees.

Die voëls lok op hul beurt toeriste en die plaaslike bevolking kan ’n klein aandeel geniet uit die voëlkykbedryf, wat na raming tussen R920 miljoen en R1,7 miljard werd is.

Die nuwe Zoeloe-naamgids, glo Mthembu, sal ’n nuttige sake- en opvoedkundige hulpmiddel wees en hy hoop dat eksemplare in sy omgewing te koop sal wees. Die pragtige name moet die jonger geslag daaraan herinner dat die plaaslike mense al vir eeue na aan die natuur bly.

Hoewel die indruk bestaan ??dat “bewaring en toerisme nie deel van die Zoeloe-kultuur is nie”, sê hy, het tradisionele praktyke dikwels verseker dat ons in balans met die grond leef – soos tradisionele geweefde visvywers, wat toegelaat het dat klein vissies ontsnap – anders as die moderne nette, wat alles voor die voet doodmaak.

Daar is interessante parallelle tussen die Zoeloe-voëlnaamprojek en die standaardisering van Afrikaanse voëlname ’n paar dekades gelede.

Die Afrikaanse proses is ook deur ’n komitee van kundiges gedoen en het ook heelwat raadpleging gekos. Dit het ook ses jaar geduur.

Die veearts Morné de la Rey was intiem betrokke by daardie proses, wat in die laat 1990’s begin het. Die komitee het begin deur eers soveel moontlik menings en idees in te samel, gegrond op alle beskikbare voëlname wat hulle in voëlboeke in die streek kon identifiseer. Daarna is konseplyste vir kommentaar aan alle belangstellendes en die publiek gestuur – baie soortgelyk aan die proses waarin kundige Zoeloe-gidse na hul gemeenskappe teruggekeer het om ou name te ondersoek en nuwe voorbeelde te toets. Daar was ook koerantberigte en radiobesprekings.

“Ons het ’n behoorlike werk gedoen,” het De la Rey ’n paar jaar gelede aan my gesê. “Dit was nie net ’n klomp mense wat om ’n braai sit nie.”

Net soos die Zoeloe-naamgewers gevind het, was een van die grootste probleme voëls wat onder veelvuldige name bekend is. Daar was byvoorbeeld meer as 21 streekname vir die tiptol.

Hul riglyne het bepaal as een spesie onder verskillende name geken word, hulle sou probeer om die mees algemeen gebruikte naam te identifiseer.

Ou volksname is ook gerespekteer, soos nimmersat (eerder as geelbekooievaar). Hulle het ook voorkeur gegee aan die mees beskrywende naam – daarom praat ons in Afrikaans van “kolpensies” eerder as robbins.

Meer as 15 000 e-posse later is die lys soos dit vandag in alle Afrikaanse voëlboeke gebruik word gefinaliseer. Net soos ook die geval sal wees met die nuwe Zoeloe-voëlnaamlys.

Turner hoop sy sal eendag ’n manier vind om die hele veldgids volledig in Zoeloe te laat vertaal. Maar op die oomblik put hulle genoeg vreugde uit die feit dat die eerste oplaag van 500 eksemplare reeds uitverkoop is.

Die John Voelcker-voëlboekfonds sê ’n tweede oplaag is reeds by die drukkers.

“Ons erken dat ons met die eerste oplaag dalk oorversigtig was,” sê die fonds se Ingrid Weiersbye, “maar dit was totaal nuwe terrein vir ons.”

Weiersbye beskryf die gids as ’n “ware goedvoelboek” gegrond op gesonde taalkundige beginsels en -praktyk wat hopelik mense sal aanmoedig om sommer ’n nuwe taal ook te leer. En leer kan lekker wees. Toe Sakhamuzi Mhlongo ’n seun was, het hy soms ’n “eend met bloedrooi sokkies” teëgekom wanneer hy gaan visvang.

Dit was eers toe hy ’n groep voëlkykers raakloop wat by hom wou weet waar hulle een kon sien, dat sy belangstelling in voëlkyk geprikkel is.

Of jy hom ’n finfoot, ’n watertrapper of igwedlamanzi (“die een wat in die water roei”) noem, maak seker nie saak nie, maar om die eend met die rooi sokkies op sy regte naam te noem, is die begin van ’n interessante nuwe reis.

Meer oor:  Kwazulu-Natal  |  John Voelcker-Voëlboekfonds  |  Boek  |  Zoeloe  |  Voëls
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.