Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Dit gaan oor die genot uit boeke’
Hanlie Retief gesels met Rudie van Rensburg
Stiptelik seweuur elke oggend klop hulle aan die deur van ’n lang man met ’n lui stap: Kassie Kasselman in sy rooi windjekker met die sjokoladekol, Brylcreem-kamstrepe in sy hare en wit sokkies sigbaar onder sy hoogwaterbroek.

Stiptelik seweuur elke oggend klop hulle aan die deur van ’n lang man met ’n lui stap: Kassie Kasselman in sy rooi windjekker met die sjokoladekol, Brylcreem-kamstrepe in sy hare en wit sokkies sigbaar onder sy hoogwaterbroek.

Tussen boeke en skilderye in sy huis in Welgemoed, Bellville. Foto: Edrea du Toit

Hans van Kraaienburg, 90-jarige ouetehuis-anargis met koddige, argaïese idiome en opdragte soos dié in Huis Madeliefie se mansbadkamer: Staan nader as jy korrel. Onthou, jy het ’n kortsnoet-pistooltjie in jou hande, nie ’n langloopgeweer nie.

Heeloggend kom maak die karakters hulle tuis in Rudie van Rensburg se skrywerskop.

Voëltjie Trollip met sy jakkalsdraffie en enkele haar op sy kop wat “heen en weer wieg soos ’n lugdraad”. Rooi Els, Kassie se sidekick in die polisie se Spesiale Spookeenheid wat nou en dan ’n dowwe vraag vra. Die donker karakters waaraan Rudie so graag skryf, Abdul Koopman, “die doodpister van vlamme”, Jackal Williams, die watchdog oor die drug runners wat Rudie gelukkig nie oor sy hart kry om te assassinate nie, want dáái sou nou vir jou ’n sad loss gawies het, skryf ’n leser.

Ek probeer soos ’n koerantman skryf, en my oog is ook nie op literêre pryse nie.

In die Afrikaanse leeswêreld is Rudie van Rensburg nou loshande so warm soos ’n Karooklip op ’n hoogsomermiddag.

Sy boeke was die afgelope drie maande Afrikaanse topverkopers by Exclusive Books: Merk in Augustus en Hans gee Herklaas horings in September en Oktober. Albei was ook bo-aan Nielsen se topverkoperlys vir Afrikaanse fiksie.

Tobie Cronjé se skreeusnaakse voorlesings op RSG van die twee Hans-boeke het van Rudie ’n huishoudelike naam gemaak.

En dit was so amper nié.

“Johan Coertzen, ek en Emile Terblanche het 38 jaar gelede die wilde perd opgesaal om ’n koerant in Bloemfontein te begin. Hier is ons by die eerste oplaag van Bloemnuus wat in Oktober 1982 afgelewer is.”

Sy eerste boek, Slagyster, se manuskrip het langer as ’n jaar op ’n uitgewerslessenaar gelê en stof vergaar. Toe Rudie niks hoor nie, het hy bedees gedog hulle hou seker nie daarvan nie.

“Ek was in elk geval te skaam om te bel, dalk sê hulle dis só pateties, dit was nie eens die moeite werd om jou te laat weet nie.”

Toe, meer as ’n jaar later, kry hy uit die bloute ’n e-pos: Ons aanvaar jou boek. “Dit was die ongelooflikste verrassing. Ek het al amper vergeet van die boek.”

“Hoekom met mý gesels? Ek is net ’n gewone ou."

Sy vriendelike, lang skrywer wat altyd met alles om hom tevrede is, eintlik tevrede in sy hele wese, beskryf Eben Pienaar, reklamebestuurder van NB-Uitgewers hom.

Op ’n laatlentemiddag hier in Welgemoed, in ’n vertrek omring met boeke en sy skilderye, sit daardie 2,01 m-lyf in ’n stoel gevou.

Rustig. Grysbaard. Basstem. Oë wat meer sien as net kyk.

“Al die lelike skilderye wat ek nie verkoop kon kry nie, hang in my huis,” spot hy droog en keer in dieselfde asem: “Hoekom met mý gesels? Ek is net ’n gewone ou. As ek in koerante en tydskrifte kyk, lyk dit of die lewe vreeslik skeef is – akteurs en skrywers en sulke ouens kry die aandag, terwyl die dokters en gesondheidswerkers die éintlike helde is.”

Ná sy aftrede het Rudie van Rensburg voltyds begin skilder. Verskeie van sy skilderye is oorsee verkoop. Hy het sy eerste roman Slagyster tussendeur geskryf. En nou het skryf die oorhand gekry. Foto: Verskaf

Al van skooldae af haat Rudie dit soos die pes as mense ’n ophef van hom maak.

Sy pa, Basie, was ’n minister en as sy bestuurder vir Rudie in die swart Cadillac met die vlaggie voorop by Eie Haard, Hoërskool Sentraal in Bloemfontein se koshuis, gaan aflaai, het die lang slungel van ’n seun altyd twee blokke weg uitgeklim en dan bult-op met ’n kwartaal se bagasie opgesukkel tot by die koshuis.

“Ek het onder die radar beweeg, deurgeskraap en studietye James Hadley Chase-boeke binne my geskiedenisboek gelees.

“My pa is op 50 oorlede, ek was maar 19. Hy was ’n kettingroker wat homself doodgewerk het. Een van my beste herinneringe is hoe ons Saterdae saam in Langstraat se tweedehandse boekwinkels rondgesnuffel het. Dan soek hy sy boeke uit, en ek myne. Ryk tye.”

Kassie Kasselman, die speurder in sy misdaadboeke, was bietjie van ’n waagstuk.

As Rudie self ’n karakter sou wees in een van sy boeke? por ek hom aan.

“Iets soos ’n poskantoorklerk wat ouens se briewe oopmaak om te kyk of hulle die land ondermyn. Beslis nie ’n held nie. Ek is vaal en oninteressant, ek en ou Kassie is maar dieselfde.”

Kassie Kasselman, die speurder in sy misdaadboeke, was bietjie van ’n waagstuk. Rudie wou nie die gewone misdaadboek-speurders skep nie, nie nóg ’n fris, misverstane werkslaaf met huweliksprobleme nie.

“Ek het lank aan Kassie gespook, ernstige Kassie wat erg is oor boeremusiek, posseëls en Cream Soda. Hy is al 30 jaar geskei, geen vrou kyk twee keer na hom nie en hy bly in sy woonstelletjie in Goodwood.”

“Oud-Volksblad-kollegas in Kaapstad ondersteun my by ’n boekbekendstelling. Voor van links: Nancy Oosthuizen, Hennie van Deventer, ek, Johan Coetsee en Mossie Burger. Agter: Jan Bezuidenhout, Tobie Wiese, Andre Brink, Ronelle Terreblanche, Francois Lotter, Tom Ferreira, Ansie Welman en Emile Terblanche. Foto: Verskaf

Die waagstuk het ’n treffer geword. Kassie is nou op pad kassie toe, daar is film-planne en ’n TV-reeks is op pad.

Dis ’n plek vir koffie en kuier en lees, hierdie huis waarin kinders grootgeword het, en troeteldiere oud.

In die boekrak staan hulle: Die krimi’s van sy ou Volksblad-kamerade Deon Meyer en Chris Karsten. Iewers het dié klomp jong verslaggewers destyds ’n misdaadgeen met hul Volksblad-koffie ingekry.

Ook in die rak is Henning Mankell en al die Jo Nesbo’s, Rudie se gunsteling-misdaadskrywer. “Ek is lief vir Skandinawiese skrywers. Hoe ironies: In die plek met die minste misdaad, skryf hulle die beste daaroor.”

’n Skrywer wat hom gereeld hardop laat lag – en dit gebeur selde, reken hy – is Etienne Leroux.

n Skrywer wat hom gereeld hardop laat lag – en dit gebeur selde, reken hy – is Etienne Leroux. “Sy satire bekoor my, sy fyn spot met mense, sy kritiek op die Suid-Afrika van sy tyd. In Magersfontein, o Magersfontein! kom dinge soos eiewaan, kleinlikheid, snobisme en hebsug onder sy satiriese soeklig. Met elke herlees ontdek ek nuwe insigte in sy briljante skryfwerk.”

Hy lees ál Leroux se boeke een keer elke dekade. En lag elke keer sy vrou Líze wakker langs hom in die bed.

Navorsing vir sy boeke neem nou omtrent al sy leestyd op. Vir Merk, sy nuutste, was dit reeksmoorde en verkragting. “Dis ’n vreeslike donker boek, maar dit het my nie regtig aangetas nie, ek het seker ’n dik vel ontwikkel. Maar ’n paar boeke terug, met Medusa, was dit ’n ander storie. Dit gaan oor pedofilie en die navorsing het my so ontstel, ek wou later nie meer daaroor skryf nie. Toe ek video’s daarvan by ’n polisiekontak gaan kyk het, is ek ná twee minute daar weg, ek kon nie verder kyk nie.”

“Volksblad-redaksie in 1978. Ek is oudergewoonte die lange in die middelste ry.” Foto: Verskaf

’n Gesprek met ’n kenner van pedofilie het hom oortuig om deur te druk. “Sy was passievol dat dit onder mense se aandag gebring moes word. En nou word sekere dele van die boek met gr. 10’s tot 12’s bespreek, want dit gaan ook oor mensehandel, en hoe maklik kinders as prooi geïdentifiseer word.

“Baie keer sê mense vir my maar waar krý ek hierdie donker goed, die verskriklike tonele. Ek weerspieël maar net die werklikheid. ’n Seun kap sy ouers met ’n byl dood. ’n Polisieman het al vir my gesê die grusaamste storie waaraan jy kan dink, het al gebeur, of was nog erger in die werklike lewe.”

Sy heel eerste boek, Slagyster, het deels in Nigerië afgespeel en met sy vrag navorsing kon Rudie agterna omtrent ’n doktorsverhandeling skryf. “Juis omdat ek nie daar was nie, was ek bang iemand sê vir my dis onrealisties,” hoor jy die joernalis.

“Ek bedink die eerste hoofstuk en van daar af skryf ek net aan. ’n Boek skryf homself.”

Anders as die meeste skrywers, wat ’n storie neem en van daar af detail uitwerk, bedink Rudie heel eerste ’n omgewing vir sy storie en begin dan “die legkaart bou”.

“Ek bedink die eerste hoofstuk en van daar af skryf ek net aan. ’n Boek skryf homself.”

Koerante bly sy grootste bron van inligting. Gewone papierkoerante. Altyd papierkoerante.

Soggens sesuur is dit koffie-en-koerant. “Twee goed wat sinoniem is met mekaar. My ma, sy’s nou al 96, het op tien Die Volksblad begin lees. Sy’s nog blakend gesond en bly in haar eie meenthuis in Bloemfontein. Toe die papier-Volksblad gestaak is, was dit vir haar ’n groot slag. Sy kan nie met ’n rekenaar werk nie en sy voel nou herderloos. Sy kry darem nog Sondae Rapport, dis vir haar wonderlik om nog ’n papierkoerant te kan vashou.”

“As sportverslaggewer by Die Volksblad saam met Clive Rice.” Foto: Verskaf

Met die inperking was Rudie self siek van bekommernis dat hy nie meer soggens sy koerant gaan kry nie, grinnik hy.

’n Fliek oor die joernaliste wat die Watergate-skandaal oopgevlek het, All the President’s Men, het sy kop weggedraai van onderwys, joernalistiek toe.

Sy tien jaar by Die Volksblad was loshande die beste van sy loopbaan, sê hy. “Dit was ’n middagkoerant, jy kom in die oggend daar in en daar is nog nie ’n woord geskryf nie, en twaalfuur is spertyd, daai adrenalien mis ek nog steeds. En die kameraadskap . . . 15 van ons klomp oud-Volksblad-manne hier in die Kaap kuier elke kwartaal saam.”

" Ons het gewerk dat die blou rook draai.”

Dis by Die Volksblad waar Rudie sinne sonder fieterjasies leer skryf het. “Ek probeer soos ’n koerantman skryf, en my oog is ook nie op literêre pryse nie.”

In 1982 het hy, Emile Terblanche en Johan Coertzen die “sprong in die donker” geneem deur Bloemnuus, die eerste gratis weekkoerant in die Vrystaat, te begin.

“Gevaarlike terrein vir drie platsak joernaliste sonder enige sake-ondervinding. Mense glo ons vandag nie, maar ons het Bloemnuus met net R60 begin. Ons het gewerk dat die blou rook draai.”

“Skoolkonsert op Akasiapark.” Toe Rudie se pa, Basie, op 33 ’n lid van die Volksraad geword het, het Rudie-hulle elke ses maande in die Kaap gebly. Foto: Verskaf

Bloemnuus is die melkkoerant genoem, want Rudie-hulle het die slim plan uitgedink om die koerant deur Dairy Belle saam met hul melk te laat aflewer.

En die koerantmanne wat hulle is, kon hulle ook geen heilige Bloemfonteinse koei ongeslag laat bly nie. Hy vertel hoe een van die rykste sakemanne in die stad oor die foon gegil het: “Ek sleep julle hof toe as julle een woord daaroor skryf”, toe gebruik hierdie drie musketiers presies dáárdie woorde as inleisin vir hul onthullende berig.

’n Jaar later het Perskor Bloemnuus gekoop. “As iemand my 38 jaar terug gesê het jou koerant gaan in 2020 nog bestaan, sou ek hom afgelag het.”

Sy 20 jaar in die korporatiewe wêreld was loshande die verveligste.

“Maar aanvanklik was ons wéér ’n lekker kreatiewe klomp by Sanlam se reklameafdeling.” Nog skrywers het uit dié Sanlam-era ontpop: benewens Deon Meyer ook Zirk van den Berg, François Bloemhof, Jaco Wolmarans en die illustreerder Piet Grobler.

“Maar soos ’n ou uiteindelik in bestuursposte beland moet jy die dinge doen wat vir ons regterbrein-ouens nie lekker is nie. ’n Slegte tyd in my lewe. En jy moet maar vasbyt want jy het ’n gesin om na om te sien en ’n huis om af te betaal.”

Ná sy aftrede het Rudie voltyds begin skilder. Dit was ’n volgende loopbaan, baie van sy skilderye is oorsee verkoop. Nou het skryf die oorhand gekry.

Wat vorentoe wag is onbekend en ongekaart. Maar as hierdie jintelman enige sê daarin kan hê, wil hy net aanhou skryf.

“Dit voel goed om te weet jou boeke is redelik genoeg dat mense dit wil koop. Maar dit gaan nie vir my daaroor nie. Dit gaan oor die genot wat ek uit boeke kry. As ek daai boek die eerste keer in my hand vashou . . . niks kom daarby nie,” sê hy en ’n vonkel kruip in sy oë.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.