Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Slaap is lekker, maar dit gaan allermins al jou kwellings oplos

“Maak my wakker as dit alles verby is.”

Dit is die wrang soort grap wat mense maak wanneer hulle genoeg gehad het, en ek hoor dit al hoe meer. Om in te sluimer totdat alle probleme opgelos is klink aanloklik in hierdie jaar waarin soveel dinge oorstaan, agterweë bly, in onbruik raak, verval, opgeskort en gekanselleer word.

Dit is die jaar van onbesliste en onuitgemaakte sake, van swewende en hangende dilemmas, van stilstand en afwagting.

Miskien is dit ook die jaar om ou verhale oor mense wat lank geslaap het af te stof. Washington Irving se “Rip van Winkel” is een van die bekendste.

Rip se vrou probeer van hom ’n hardwerkende gesinsman maak, maar hy kuier op ’n bankie voor die kroeg of gaan jag.

Baie van ons onthou die kinderliedjie met Carike Keuzenkamp wat hieroor sing: “En somtyds stap hy met sy hond Wolf die berge in / En dan jag hy in die digte woude en vergeet hy sy gesin.”

Aan die begin van Irving se verhaal is Rip se plaas die mees verwaarloosde in die kontrei. Sy erfporsie is op en sy vrou raak al hoe kwaaier. Hy vaar die Catskills in om eekhorings te jag, gaan dut onder ’n boom en word eers 20 jaar later wakker.

Sy vrou kan nie meer aan hom karring nie, want sy is dood. Hy is ook ontslae van die juk van Britse oorheersing. Terwyl hy geslaap het, het die Amerikaanse Revolusie plaasgevind. Op die uithangbord voor die kroeg pryk George Washington se gesig in die plek van koning George III s’n.

Sy probleme is skynbaar opgelos.

Die groot probleme is iets van die verlede.

Natuurlik het Van Winkel baie soortgenote. Die verhaal van Epimenides, ’n skaapwagter wat 57 jaar in ’n grot omgeslaap het, dateer van die derde eeu n.C.

’n Soortgelyke verhaal is “Die sewe slapers van Efese”, oor Christene wat omstreeks 250 n.C. in ’n grot weggekruip het weens vervolging deur die Romeine. Hulle het 200 jaar later wakker geword nadat die hele ryk Christelik geword het.

In die Islamitiese tradisie is daar die verhaal van Uzair, wie se hartseer oor die vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs so groot was dat God hom laat slaap het tot nadat Jerusalem herbou is.

Op die oog af is hierdie verhale oor ontvlugting, maar eintlik oorheers die tema van ontheemding. Wanneer Uzair sy geboorteland op ’n donkie binnery, weet slegs ’n ou, blinde slavin nog wie hy is. Rip van Winkel, ’n karakter wat wyd bekend is maar vlak verstaan word, is ontredderd wanneer hy wakker word. Sy geweer is opgeroes en hy roep vergeefs na sy hond. Sy ledemate is stram wanneer hy opstaan.

Van sy huis het net ’n verlate bouval oorgebly. Die uitgeteerde hond wat daar rondsluip, grom vir hom. Ook die herberg is vervalle en in die plek van die boom wat voorheen skadu oor sy bankie gegooi het, staan ’n vlagpaal. Sy vriende is ook dood.

Wat hierdie karakters gedink het die groot probleme van hul leeftyd is, is iets van die verlede. In die proses het hulle hul plek in die samelewing verloor en ontsettende eensaamheid “gewen”.

Rip se verhaal eindig wanneer hy iemand wat soos hý lyk teen ’n boom sien leun. Dit is sy seun. Dié is net so lui soos sy pa. Rip se versoek dat die seun na hul plaas begin omsien, is vergeefs.

Die lang slaap van Rip van Winkel het dus niks opgelos nie. Hy was ’n sukkelaar wat aan nog ’n sukkelaar geboorte gegee het. Wanneer hy op dieselfde bankie van ouds neersak, gee hy hom finaal oor aan mislukte taktieke en bose kringlope.

Moet my dus nie wakker maak as alles verby is nie.

Hierdie jaar se probleme is nie groter as alles wat ons aan mekaar het nie. Ek is bly dat ek nog hier is en oor almal wat saam met my hier is. Ten minste kan ons saam-saam besluit watter rigting ons nou moet inslaan.

* Dr. Sonja Loots doseer Afrikaans en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.