Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Sonja Loots: Greta maak wêreld beter met perfekte riposte . . .

Riposte en l’esprit de l’escalier: Twee Franse woorde wat dikwels ook in ander tale as leengoed gebruik word vir onderskeidelik ’n gevatte en raak antwoord; en die frustrasie wat mens beleef as jy te laat besef wat jy moes gesê het.

Die 18de-eeuse ensiklopedis Denis Diderot, een van die slimste mense wat ooit geleef het, het glo die frase uitgedink vir wanneer die perfekte antwoord jou te laat te binne skiet. Dit het een keer met hom gebeur op die trappe na die sypaadjie, voor ’n huis in Parys waaruit hy woedend gestorm het. Daar is al gesê dat mens deesdae eerder sou kon praat van l’esprit d’uber, omdat jy reeds in die huurmotor sit wanneer jy besef hoe jy met groter waardigheid uit die stryd sou kon getree het.

Die teenkant van die munt is die enorme plesier wanneer jy iemand wat jou onderskat, beledig of verkleineer het met die perfekte riposte op hul plek sit. Die woord is ontleen aan terminologie uit die veld van skermkuns, en in daardie konteks verwys dit na die teenstoot waarmee jy terugbaklei nadat jy ’n aanval van jou teenstander afgeweer het. In verbale onderonsies kom dit maar eintlik op presies dieselfde neer.

Daar is ’n paar legendariese voorbeelde. Gevra wat hy van die Westerse beskawing dink, sou Mahatma Gandhi glo geantwoord het hy dink so iets sal ’n goeie idee wees.

Winston Churchill kon ook teregwysings met perfekte tydsberekening uitdeel. Die bekendste en beste voorbeeld het te doen met ’n relletjie tussen hom en Nancy Astor, die eerste vrou in die Britse Laerhuis. “As ek jou vrou was, sou ek jou tee vergiftig het,” het die burggravin gebits. Waarop Churchill teruggekap het: “As ek jou man was, het ek dit gedrink.”

Miskien het moderne tegnologie die kuns van die gevatte antwoord makliker gemaak.

Churchill se antwoord op ’n telegram van die dramaturg George Bernard Shaw was byna ewe skerpsinnig. Shaw het twee komplimentêre kaartjies na een van sy vertonings aan Churchill gestuur met die woorde: “Bring ’n vriend. As jy een het.” Churchill het laat weet hy kan nie die openingsaand bywoon nie. “Ek sal die tweede vertoning bywoon. As daar een is.”

Dorothy Parker se kwinkslae bied ook ryke stof. Haar pad het op ’n keer gekruis met die dramaturg Clare Boothe Luce, ’n erge feeks. Luce het by ’n deur opsy gestaan vir Parker met die woorde: “Ouderdom voor skoonheid”. Waarop Parker koeltjies van háár laat hoor het: “Pêrels voor die swyne”.

Miskien het moderne tegnologie die kuns van die gevatte antwoord makliker gemaak. Daar is altyd WhatsApp of Twitter as jy die laaste woord wil inkry. Dit is juis te danke aan die moontlikhede wat dié platforms bied dat die wêreld die afgelope week kon skater oor ’n perfekte riposte deur daardie verdekselse slim klein snip Greta Thunberg.

Toe Time verlede jaar vir Thunberg as dié tydskrif se Persoonlikheid van die Jaar gekies het, het Trump haar verering as “so ridiculous” afgemaak. Hy het bygevoeg dat sy moet werk aan haar “anger management problem”, met ’n pel moet gaan fliek en afgesluit met die neerbuigende raad: “Chill Greta, Chill!”

Dit het 11 maande geneem voor sy hom geantwoord het, maar dit was die moeite werd om te wag. Donderdag, toe Trump in hoofletters sy humeur op Twitter begin verloor en Repelsteeltjie-rasend getwiet het dat die tellery van die stemmery moet stop, was dit Greta se kans.

Dit was ook ’n dag ná Amerika se amptelike uittrede as bondgenoot van die Paryse klimaatsverdrag, wat haar tydsberekening ekstra trefkrag gegee het.

“So ridiculous,” het sy in antwoord op sy “STOP THE COUNT!”-tirade getwiet. En toe het sy die res van sy woorde in sy gesig teruggegooi. “Donald must work on his Anger Management problem, then go to a good old-fashioned movie with a friend! Chill Donald, Chill!”

Vyftig woorde wat die wêreld sommer in ’n oogwink weer ’n beter plek gemaak het, ten spyte van die feit dat dit nog onduidelik was of sy kierangs gaan braai of nie.

Meer oor:  Sonja Loots  |  Greta Thunberg  |  Skuinskyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.