Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
LUISTER: Waldimar Pelser: Trump is reg én verkeerd oor Covid

Die Republikeine het ’n voordeel in 3 November se verkiesing: Hulle het twee kandidate; die Demokrate ’n futlose één.

In die Republikeine se hoek veg twee Donald Trumps.

Die een het in 29 September se onpresidensiële debat soos ’n Afrika-despoot geweier om te bevestig hy sal die uitslae van die verkiesing aanvaar, gelieg oor kiesbedrog, en die gesprek so beduiwel dat besluitelose kiesers Trump agterna beskryf het as “mal”, ’n “boelie”, “chaoties” en “on-Amerikaans”.

Dit was walglik. Wie op aarde kan vir hom stem? het ek myself gevra.

Die ander Trump het Donderdag in Tennessee mak geglimlag vir die moderator, NBC se Kristen Welker, sy opponent met respek hanteer en soms selfs sin oor Covid-19 gepraat.

In die Demokrate se hoek veg één man, Joe Biden (77). Sy uitstaande prestasie in die debatte was dat hy nie seniel geklink het nie en erns gemaak het met die heropsoek van die middelgrond. Biden, ’n establishment-man, is ’n sober oupa met die ongemaklike mandaat om ’n al hoe meer linkse party as kompromiskandidaat te lei. Hy het Donderdag die hoop uitgespreek dat Amerikaners die verkiesing op 3 November nie net sal beskou as ’n referendum oor Trump se karakter nie, maar ook oor sy hantering van die Covid-19-pandemie, waaraan 223 000 Amerikaners sedert Maart dood is.

Of dít “min” is (per capita) of “baie”, hang af van jou politiek. Hier’s Biden: “Enigiemand wat verantwoordelik is vir soveel sterftes behoort nie in sy amp aan te bly nie.”

Baie van sy kritiek is geldig: Dit was Trump wat die risiko van Covid-19 onderspeel het. In Februarie het hy gesê die virus sal “verdwyn”; in Mei dat infeksiekoerse daal terwyl dit gestyg het; in Junie dat Covid-19 “wegkwyn” terwyl die teenoorgestelde waar was; in Julie dat die VSA se sterftekoers die laagste in die wêreld was (dit was gemiddeld); en pas weer dat ’n entstof oor “weke” beskikbaar sal wees, terwyl kliniese proewe nog lank nie voltooi is nie. Dit was Trump wat grappe oor bleikmiddel as ’n Covid-19-kuur die eter ingestuur het en China se hantering van die pandemie op 24 Januarie geloof het as “deursigtig”.

Oor al dié kritiek was Trump Donderdag bra beredeneerd.

Die “sterftekoers daal”, het hy gesê. Hy is reg – en dit daal ook in Suid-Afrika. Alhoewel die minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, die afgelope week “nuwe” sterftes aangekon­dig het van 102 (Donderdag), 85 (Woensdag), 164 (Dinsdag), 61 (Maandag), 63 (Sondag), 38 (Saterdag) en 61 (laas Vrydag), was dié meestal ou sterftes. Daar is geen toename in sterftes nie. Die eintlike sterftes per 48 uur, laat staan nog per dag, was die afgelope sewe dae eerder 20, agt, geen, 11, geen, vyf, en vyf.

Trump het ook gesê “pieke” in infeksies kom oral voor. Hy was reg. In Frankryk en Brittanje is toenames pas met hernude inperkings begroet – al bly sterftes gering.

Die siekte verloor van sy trefkrag.

Trump het ook gesê Amerika leer (en moet leer) om met Covid-19 saam te leef. Hy het reg. Selfs prof. Salim Abdool Karim, die regering se hoof-Covid-19-raadgewer, sê so, terwyl wetenskaplikes soos prof. Shabir Madhi van Wits al vir maande waarsku voortgesette inperkings kan tot meer sterftes as Covid-19 lei.

Wanneer Trump sê 99% van mense herstel, kon hy bygevoeg het dat ’n bulletin van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) op 14 Oktober bevind het die infeksiesterftekoers in 51 studies was gemiddeld 0,23%. Wanneer Trump sê dat ons nou daarop moet fokus om kwesbare en ou mense te beveilig, herhaal hy nie net die siening van die 11 085 wetenskaplikes wat op 4 Oktober die Great Barrington-verklaring onderteken het teen grendelstate nie, maar ook die woorde van pres. Cyril Ramaphosa op 15 Augustus: “Ons moet ou mense en diegene met onderliggende toestande teen blootstelling aan die virus beskerm.”

Trump se kommer oor die ekonomiese skade van inperkings strook ook met ’n nuwe konsensus.

Dr. David Nabarro, die WGO se spesiale gesant oor Covid-19, het in Oktober gepleit lande moet ophou om inperking as hul “primêre beheermaatreël” teen die virus te gebruik en gewaarsku dat armoede wêreldwyd weens streng inperkings teen volgende jaar kan “verdubbel”.

In dieselfde week waarin Statistieke Suid-Afrika onthul het 2,2 miljoen Suid-Afrikaners het hul werk tydens die inperking verloor, het dr. Nic Spaull van die Universiteit Stellenbosch en sy span bevind arm mense word die swaarste deur die inperkings getref. Hulle kan meestal nie van die huis af werk nie. Intussen het 37% van Suid-Afrikaners nie meer geld vir kos nie.

Die vrees vir Covid-19 keer boonop dat miljoene mense noodsaaklike mediese behandeling probeer kry. Die kardioloog dr. David Jankelow waarsku in Rapport oor ’n “tweede openbare gesondheidskrisis”.

Trump behoort onverkiesbaar te wees omdat hy so diep oneerlik en oneerbaar is. Maar in seldsame oomblikke is hy ook reg. En in sy pleidooie vir ’n oper ekonomie en sy gemaan teen histerie bevind hy hom nie in die geselskap van narre nie maar topwetenskaplikes – oral.

Meer oor:  Donald Trump  |  Wag 'N Bietjie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.