Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: ‘Bewoë jongetjie’ het geweet wat wag
Herman Lategan

kannetjie s.nw. Benaming vir 'n kind, veral 'n seun. Pikkie, tjokkertjie. – Woordeboek van die Afrikaanse Taal. Hoofredakteur: W.F. Botha.

As kind in die 1970’s onthou ek psigedeliese lawalampe, groen Chinese papierlampskerms wat van dakke afhang en fondues wat uit blink koperpotte opgedis is. Cinzano Spumante is gedrink.

Dan was daar die kitsch kunswerke van Tretchikoff soos The Dying Swan en die wulpse nimfe van J.H. Lynch wat kaalbolyf hul borste met hul arms omvou. Daar was egter een afdruk van ’n skildery wat uitgestaan het.

Losieshuise of bôrdinghuise was gewild in daardie dae en omtrent elke een het ’n paar van hulle in hul gange en eetkamers gehang. Dit was The Crying Boy deur Giovanni Bragolin, ’n hartseer seuntjie, weerloos, verlate en met ’n traan wat by sy wang afbiggel.

As kind het hy my geroer. Hy het gelyk asof hy my ouderdom was. Die eerste gewaarwording van melankolie het by my opgekom. Ek het nie verstaan wat daardie swaar gevoel was nie.

Kon hy nie maar uit die portret klim en met my kom speel nie?

Hy sou dan ophou huil of dalk kon ons saam ween oor hierdie groot gat binne ons harte.

Waar ek gegaan het met my ma het hierdie kind my agtervolg, asof ek telkemale in ’n spieël kyk.

Onlangs kom spook dié kind uit die verlede by my.

Groot was my verbasing toe ek lees dat daar oor hierdie knaap se portret 'n vloek rus. In September 1985 het die Britse poniekoerant The Sun ’n artikel gepubliseer met die opskrifte: “Blazing Curse of the Crying Boy” en “Crying Flame”. ’n Foto se onderskrif het gelees: “Tears for Fears”.

Luidens die artikels het brandweermanne beweer hulle het by 15 huise wat deur brande in puin gelê is hierdie afbeelding gesien. Die enigste objek wat ná elke vlammesee onbeskadig was, was die afdruk van The Crying Boy.

Een vrou het vertel sy het met haar eie oë gesien hoe dié skildery vorentoe en agtertoe beweeg het voordat haar woning tot op die grond afgebrand het.

’n Pizza-eetplek het ook in vlamme uitgebars. Al die kunswerke teen hul mure is vernietig, behalwe die een van die bewoë jongetjie.

Mense het rasend geraak. Hulle het geglo dit is net deur die Here se genade dat hulle nog veilig is, maar hul dag van afrekening kom.

Sakkevol van hierdie portrette is deur bang mense na The Sun gestuur totdat die redakteur besluit het alles moet in ’n groot vuur (bonfire) vernietig word. ’n Aanvallige, karig geklede bladsydrie-skoonheid is ingespan om langs die Teems die vagevuur aan te steek.

Een vir een het sy die portrette voor die brandweermanne en ’n skare opgesweeptes in die vuurgloed gegooi. Mense het toe aanvaar die kleed van die vloek is glo toe afgetrek.

Later het ’n kunsgalery agter die kap van die byl gekom. Hulle het ontdek die materiaal waarop die afdruk gemaak is, is brandbestand.

Die ou seuntjie het seker destyds onbewustelik geweet wat op hom wag – daarom die traan. Ai.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.