Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Zara Malherbe se pa
Stephan Malherbe by ’n foto van sy dogter Zara, ’n gr. 11-leerling van die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl, wat op 13 November haarself geskiet het. Minder as 48 uur vroeër het Jade Gouws, nog ’n gr. 11-leerling aan dieselfde skool, ook haar eie lewe geneem. Foto: Edrea du Toit

"Ek skryf nou vir juffrou hierdie brief, want ná Jade was almal op soek na ’n brief. Ek vertrou juffrou om dan hierdie boodskap oor te dra I guess. Ek sal dit dus nie te persoonlik maak nie. Hierdie is my public passing announcement.”

So begin die 17-jarige Zara Malherbe van die Paarl haar laaste WhatsApp-boodskap aan ’n geliefde oudonderwyseres.

“Die belangrikste ding is dat hierdie niemand se skuld is nie. Ek was net nooit bedoel om oud te word nie. My brein is al teen my gekant vandat ek gebore is, ek’s gewire om iewers uit te brand. Ek het lank probeer baklei, maar daar kom ’n punt waar die struggle die reward outweigh. Ek’s net moeg vir baklei teen myself. Wat is die punt van enigiets? Ons skryf toetse en leer dinge en worry oor puntlose goed, vir watse rede nou eintlik?! Skool het die laaste bietjie uit my uitgevat. Ek’s moeg daarvoor om te voel asof ek dom is en niks gaan bereik nie . . .”

Stephan Malherbe kyk op van sy dogter se brief op sy selfoon.

“Dit het my twee dae gevat voordat ek dit kon lees . . .

“Toe ons by haar kom, het sy het op ’n kombersie onder die boom gelê. My eerste gedagte was dat sy soos Sneeuwitjie lyk met haar swart hare . . . ons almal is in ’n toestand . . . en sy is so rustig en haal nog asem . . .

“Haar speakertjie het by haar gelê. Ek wonder so waarna het sy in haar laaste oomblikke geluister. Mila, haar sussie, sê Die Heuwels Fantasties se ‘Mejuffrou Sonneblom’ was Zara se greatste liedjie. En ‘Sonvanger’.

“Altyd son, Zaartjie. Met hierdie donkerte binne haar.

“Anderdag in die kar het ek na hierdie liedjies geluister, en toe huil ek heelpad. Dit slaan my, van tyd tot tyd oorweldig dit my.”

“Dit was my en Zara se gunstelingfoto van ons saam, afgeneem op Sandbaai op 13 Junie vanjaar. Dis vir my so onwerklik.”
“Sy was mal oor klein Stephan, en het altyd gespot vir hóm het sy die liefste in die hele familie.”Foto: Verskaf

Saam op die sitkamerbank hier in Wellington sit Stephan se verloofde, Nicola, en hul vier maande oue seuntjie, wat vernoem is na sy pa. Stephan is in 2016 van Heidi, Zara en die 14-jarige Mila se ma, geskei. Vir klein Stephan is sy die liefste in die hele familie, het Zara altyd gesê, vertel hy.

“Die doodsbrief troos my. Ek besef nou, ten spyte van die mooi in Zara se lewe, haar vriende en al haar talente, ten spyte van alles, kon sy nie meer nie.

“Dit vat ’n man op ’n perd om op 17 op ’n kombersie onder ’n boom te gaan sit en te weet wat jy gaan doen. ’n Brief te skryf sonder te veel verwyte en beskuldigings, al is dit jou kans om dit te doen, want niemand kan na jou toe terugkom daaroor nie. Musiek aan te sit. ’n Pistool uit die kluis te haal en jouself te skiet . . . min van ons het soveel guts.

“Ek respekteer haar besluit. Dit breek my hart. Maar dit was haar wens.

“Ek sit snags hier op die stoep met my gedagtes en my vrae. Hoekom, my kind, hoekom? Dagbreek kyk ek na Simonsberg, daar het ek grootgeword, daar het my dogtertjie gegroet. Dis elke oggend my bidplekkie op die stoep.”

Jade Gouws, ’n ander gr. 11-leerling van La Rochelle, het minder as 48 uur voor Zara se dood ook haar eie lewe geneem.

“Ek dink dit het Zara laat dink dis nie so moeilik nie, dit kan vir haar ’n uitweg wees. In ons laaste WhatsApp-gesprek die aand voor haar dood het Zara gesê sy is ontsteld oor Jade. Ek sê toe vir haar dis ongelooflik sad, en mens moet nou sterk staan, en vertel haar my een vriend is in die week in die gim oorlede. Sy antwoord: Bly uit die gim, pappa, dis gevaarlik, met ’n glimlag-emoji, want ek is nie ’n groot oefen-ou nie.”

Dit was hul laaste gesprek.

“My Zaartjie-Boems, my Sonneblomkind . . . van kleins af het sy ’n ou siel gehad. Sy was altyd in beheer, selfs met die beplanning van haar dood. Al waaraan ek my troos, is dat dit háár besluit was. Sy is nie vermoor of iets aangedoen nie. Sy het dit gekies. So sleg soos dit vir my is, so graag as wat ek dit wil verander. Haar besluit. En vir die een keer in haar lewe was dit die verkeerde besluit. En ongelukkig die finale een.”

Amanda Lochner, Zara se hoof by die Hoër Meisieskool La Rochelle in die Paarl, het Stephan verlede Vrydagoggend gebel en gesê een van Zara se vorige onderwyseresse het ’n WhatsApp van Zara gekry, dit lyk soos ’n selfmoordbrief.

“Zara het dié dag nie eksamen geskryf nie, sy was by haar ma se woonstelletjie op die plaas Backsberg. Ek en Nicola jaag toe plaas toe, hazard-ligte aan. Intussen het Heidi teruggebel en ek het vir haar gesê ons moet op die plaas kom, ons het moeilikheid.

Conradie van Wyk en Zara voor sy matriekafskeid.

“Die wynmaker het die skoot gehoor en toe kry hulle vir Zara. Heidi en Mila het voor ons daar aangekom. Heidi het huis se kant toe gehardloop en Mila na die boom waar Zara gewoonlik sit, en haar daar gekry.

“Toe ons daar kom was daar al ’n paar mense. Zara het haarself teen die slaap geskiet. Sy het nog asemgehaal en Michael Back se skoondogter, ’n dokter, het haar lugweg probeer oophou. Ek het haar hand vasgehou.

“Wat vir my erg is, is dat Milatjie haar gesien het. Zara was Mila se alles. Die twee sussies was altyd saam, óf by hul ma, óf by ons, óf in die koshuis. Gelukkig het ons almal goeie verhoudings ná die egskeiding. Almal kyk nou na mekaar, en veral na Mila.

“Zara is in die hospitaal dood. So . . . dis maar hoe dit gebeur het. Dis só onwerklik en deurmekaar.”

Hy bly ’n oomblik stil. Trek sy asem diep in.

“Laat ek dit nou maar sê: Zara het aan depressie gely. Twee jaar gelede was ons almal bekommerd oor haar, want daar is baie depressie in die familie. Ook haar onderwysers was bekommerd. Sy was vir ’n ruk by ’n sielkundige in die Paarl. Sy het nie antidepressante gedrink nie, sy wou nie, bang só iets benadeel dalk haar kanse om keuring vir medies te kry.

“Maar die afgelope ses maande sou jy nie eens kon raai sy was al ooit depressief nie. Daar was altyd ’n klomp vriendinne om haar, sy was só sosiaal, sy wou altyd iemand saambring naweke. Haar matriekafskeidrok vir volgende jaar was klaar geteken, ek en Nicola het ’n lang lys reëlings vir haar 18de verjaardagpartytjie in Februarie. Swembad, bussie, Kampsbaai . . . Sy en Mila sou Saterdag ’n modelkursus gaan doen. Sy het sommer nóú die dag haar leerlingrybewys gekry, was so opgewonde daaroor.

“ ’n Paar weke terug was sy by haar vriend Conradie van Wyk, hulle gaan al ’n ruk uit, se matriekafskeid by die Hoër Landbouskool in die Paarl. Arme Conradie is stukkend, hy sê vir my oom, sy was die mooiste meisie daardie aand.

“Ek was so trots op my kind, hulle het so mooi saam gelyk, en ek sê vir Conradie sy het darem nou ’n matriekafskeid gehad, al was dit nie haar eie een nie.”

Hy wys ’n video waar Zara vir haar pa ’n “simpel dansie” in die kombuis probeer leer. Heupswaaie en baie giggels, want Pa sukkel. Luister net hoe lag sy, en sy stem breek.

“Heidi skryf in Zara se ‘begrafnisboekie’ van Zara se vasberadenheid. Sy het so ’n issue gehad dat jy moet happy wees in die vel waarin jy is. Almal moet wie en wat jy is, respekteer. Sy het vreeslik baklei vir ander mense se regte. Toe sy drie jaar terug vegan geword het, het sy vasgebyt daarmee, soos Heidi sê ‘al is dit wragtag nie maklik om ’n vegan in ’n skoolkoshuis te wees nie’. Sy sou eerder drie dae baked beans uit ’n blikkie eet as om haar mond aan iets te sit wat nie vegan is nie. Ek weet nie mooi wat ek met al die vegan patties in ons vrieskas gaan maak nie,” lag hy voor die hartseer hom weer insluk.

“Die inperking was vir die kinders moeilik, hulle was so min by die skool. Sy moes dié week begin eksamen skryf. Dié gr. 11-uitslae is maak of breek vir keuring. Sy wou met alle geweld ’n neurochirurg word.”

In haar doodsbrief skryf Zara: “Ek wil ook net sê ek’s lief vir almal en dat ek lucky was om mense in my lewe te hê wie so ’n groot invloed op my gehad het. I got really lucky.”

Sy bedank haar onderwyseres vir haar ondersteuning, vir al hul “chats oor religion, boeke, movies en random dinge”. En as daar lewe ná die dood is, “sal ek seker maak om altyd by julle rond te hang, en ek sal probeer seker maak julle lewens is vol sonneblomme”.

“Vrolik, ondersoekend, altyd met maatjies, skuus vriendínne, sy wou nie sê ek moet sê maatjies nie, want ‘pappa, ek is nie meer in die laerskool nie!’ ” Foto: Verskaf

Twee weke voor haar dood het Zara ’n album laat druk met 40 van haar gunstelingfoto’s. “Vreemd, kinders hou hul foto’s op hul selfone. Met haar dood was dié album op haar bedkassie.

“ ’n Paar weke gelede, toe ek vir haar ’n waterbottel koop, antwoord sy: Dankie, maar moenie nog goed stuur nie, ek wil nie nog goed versamel nie.” Wat vir my ook half snaaks was.

“Hoekom het ek nie die donker in my kind gesien nie?

“Ek het in my lewe nog nooit aan my kinders geslaan nie, maar as ek nou kon, sou ek vir haar gesê het: My kind, pappa is só lief vir jou, maar jy gaan ’n bleddie pak slae kry, hoekom doen jy dit?” Sy oë is vol trane.

“ ’n Vriend het gister die dominee Henk Gous se boek Om die ondraaglike te dra vir my gebring. Ek lees dit nou. Sy dogter het ook selfdood gepleeg. Selfs húlle, ’n dominee en ’n sielkundige, kon hul kind nie help nie.

“Nou die dag op RSG was daar ’n praatjie oor tienerselfdood. Hulle probeer toe ’n prentjie skep van ontoeganklike ouers, gesinne wat nie meer om ’n tafel sit en eet nie, besig met hul eie dinge. Dis waar. Maar nie altyd nie. Nie hier nie.

“Zara was twee jaar gelede op ’n skooltoer vir begaafde kinders in Amerika, hulle het topuniversiteite soos Yale en Harvard besoek. Ek wou hê sy moet sien daar is ’n wêreld daarbuite. Ek het vir haar alternatiewe probeer wys, haar probeer beskerm teen teleurstelling sou sy nie vir medies gekeur word nie. Sy het haarself onder soveel druk gesit, ek dink sy het moed opgegee voor sy eintlik probeer het.”

Ongelooflik, nou, is mense se uitreiking na hulle. Ongelooflik hoe baie mense hom SMS met hul kinders se stories en depressie.

By die skool is daar nou 24-uur-traumahulp. “Dertig kinders met probleme is die afgelope week gehelp. Dis té laat vir Zara en Jade, maar iets positiefs kom hieruit.

“Vir my is die belangrikste dat Zara nou vrede het.”

Sy sluit haar doodsbrief só af:

“Ek weet almal dink dood is sad, maar op die oomblik voel ek at peace. Ek sit op ’n rooi kombers met wit polka dots, onder my favourite boom, op lang, sagte gras wat eintlik gesnoei moet word. Hier waai ’n ligte windjie, maar dis warm en maak darem dat ek die gras kan ruik. Ek is op die oomblik so naby aan content soos wat ek kan kom. So moenie sad wees nie, weet dat ek finally nie meer seer het nie. Al my liefde, Zara.”

Meer oor:  Paarl  |  Zara Malherbe  |  Stephan Malherbe  |  Doodsbrief
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.