Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Wanneer die kleiner partye kop uitsteek

Is die vorming van ’n groot getal nuwe politieke partye ’n unieke plaaslike verskynsel? Pieter Labuschagne kyk na die internasionale tendense rondom die stigting van nuwe, klein partye in gevestigde en ontluikende demokrasieë.

Partye te kies en te keur. Plakkate van Suid-Afrika se grootste politieke partye tydens verlede jaar se verkiesing. Foto: Getty Images

Die plaaslike tendens in die demokratiese era is die stigting van talle klein politieke partye wat soos spreekwoordelike paddastoele oornag opskiet.

Die meeste van hulle maak min of geen daadwerklike politieke indruk nie en verdwyn weer net so vinnig.

Die voordeel van die proporsionele kiesstelsel is wel dat dit ook kleiner politieke partye inspraak in die parlement gee. In dié opsig word die demokratiese ideaal gedien, omdat dit demokrasie tot op die laagste vlak vestig.

Die kort lewensduur van sulke partye is egter ook ’n verkwisting van geld, tyd en selfs stemme. ’n Beduidende getal van dié nuutgestigte, kleiner partye haal dikwels nie eens die vereiste drempel vir verteenwoordiging in die parlement nie.

Daar het 88 nuwe, klein politieke partye sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 in Suid-Afrika ontstaan.

Die ondoeltreffendheid van klein partye met net een of twee verteenwoordigers in die parlement, is ook ’n verdere negatiewe faktor.

Die 88 nuwe, klein politieke partye wat sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994 in Suid-Afrika ontstaan het, kan ook negatiewe gevolge op ’n ander vlak hê.

’n Mens kan tereg vra of dit moontlik is dat die groot getal nuwe klein partye wat kom, demokratiese konsolidasie in die land vertraag en ook politieke onstabiliteit in die hand werk?

Die amper onbeperkte vorming van nuwe, klein partye kan as deel van demokratiese uitbundigheid in ’n oop en vry demokratiese samelewing gesien word – maar gebeur dit nie dalk ten koste van sterker opposisiepartye en demokratiese konsolidasie nie?

In die verkiesing van 2019 het daar 28 nuwe politieke partye op die toneel verskyn – gemeet aan die huidige tendens sal meer as die helfte van hulle voor die volgende verkiesing in 2024 verdwyn.

Min steun vir nuwe partye

Wie onthou nog die Women Forward-party? Foto: Getty Images

Vir die doeleindes van dié artikel word daar na binnestelselpartye en buitestelsel- politieke partye verwys.

Binnestelselpartye verwys na sterker gevestigde partye, wat reeds deel was van twee of meer verkiesingsiklusse, steun ontvang, gegroei en taamlik stabiel gebly het.

Binnestelselpartye sluit die ANC, DA, EFF, UDM en Cope in.

Die buitestelselpartye is nuwe partye wat vir die eerste keer aan die verkiesing deelneem of min steun ontvang het wanneer dit ’n tweede keer aan ’n verkiesing deelgeneem het.

As die verkiesingsuitslae sedert 1994 ontleed word, blyk dit dat die sterk binnestelsel- politieke partye gemiddeld meer as 90% van die totale steun ontvang het. Die kleiner nuwe partye in die buitestelselkategorie wat getallegewys ver in die meerderheid was, het gesamentlik minder as 8% van die totale steun verwerf.

Dié lae suksessyfer keer egter nie die vorming van nog nuwe partye vir die volgende verkiesingsiklus nie.

In 2014 het 12 van die nuwe kleiner politieke partye ná die verkiesing verdwyn, ’n verdwynkoers van amper 50%.

Die verdwynkoers – die tempo waarteen die kleiner partye ná ’n eerste deelname aan ’n verkiesing verdwyn – neem ook toe.

In die tydperk 1999-2004 was die verdwynkoers in die omgewing van 30%. Hierdie hoë verdwynkoers het mense egter nie afgeskrik om nuwe klein politieke partye te vorm nie.

Die vorming van nuwe kleiner partye het inteendeel eerder ’n opwaartse kurwe getoon met die nuwe rekord van 28 nuwe politieke partye wat aan 2019 se verkiesing deelgeneem het.

In 2014 het die verdwynkoers verder toegeneem, met 12 van die nuwe kleiner politieke partye wat ná die verkiesing verdwyn het, ’n verdwynkoers van amper 50%.

Die getal nuwe kleiner partye wat direk ná elke verkiesing verdwyn het, word hier onder in hakies weergegee.

Ná 1999 (vyf), ná 2004 (sewe), ná 2009 (13) en ná 2014 (12).

Die situasie elders ter wêreld

’n Stembrief vir Amerikaners in die buiteland. Amerikaanse kiesers se steun word meestal tussen die twee groot partye verdeel. Foto: Getty Images

Verskil die plaaslike vorming van nuwe politieke partye en die verdwynkoers van die internasionale standaard?

In die post-demokratiese fase ná 1990 het daar in voormalige kommunistiese lande gemiddeld 5,6 nuwe partye met elke verkiesingsiklus ontstaan.

Dit is heelwat minder as die plaaslike gemiddeld van 15.

Die volgende vraag is hoeveel steun die nuwe politieke partye in die buitestelselkategorie gekry het in vergelyking met dié van die gevestigde partye in die binnestelselkategorie?

In gevestigde ouer demokrasieë vind die wisseling in steun hoofsaaklik tussen politieke partye in die gevestigde binnestelsel plaas.

In Duitsland skuif kiesers hul steun hoofsaaklik tussen die gevestigde ouer partye skuif en min steun vloei na die nuwer partye.

In die VSA was die wisseling in steun 3,3% tussen die gevestigde binnestelselpartye, met ’n wisseling van net 0,1% by die buitestelsel- (nuwe) partye.

In Duitsland was die wisseling in steun by die gevestigde binnestelselpartye gemiddeld 7,8% en by die buitestelselpartye net 0,2%. Dit beteken dat kiesers hul steun hoofsaaklik tussen die gevestigde ouer partye skuif en dat min steun na die nuwer partye vloei.

Wanneer daar na die voormalige kommunistiese lande ná 1990 gekyk word, is dit interessant hoe hoog die wisseling weer by die buitestelsel- (nuwe) party is.

In Bulgarye was die steunwisseling 30% en in Slowakye 24%. Daar was dus veel meer steun vir die nuwer partye, wat op ’n dinamiese stelsel dui.

Aan die ander kant dui dit egter op meer wisseling en onstabiliteit as in gevestigde demokrasieë.

Die gevolgtrekking is dus dat steun in die gevestigde demokrasieë hoofsaaklik na die gevestigde binnestelselpartye vloei en dat die steun vir nuwe partye in die binnestelsel relatief laag bly. Dit veronderstel dat die gevestigde partye stabiel is en dat die partypolitieke stelsel gestabiliseer het.

Die situasie in Suid-Afrika

Die EFF en Cope was die enigste sogenaamde nuwe partye wat noemenswaardige sterk steun in hul eerste verkiesings getrek het. Foto: Getty Images

Steun vir nuwe partye in Suid-Afrika is baie klein en in dié opsig is daar sterk ooreenkomste met gevestigde en stabiele demokrasieë.

Die enigste keer toe daar sterk steun vir buitestelselpartye was, was in 2009 toe Cope van die ANC weggebreek het en in 2014 toe die EFF dieselfde paadjie gevolg het.

As dié twee partye se aandeel buite rekening gelaat word, is die steun vir buitestelselpartye minder as 3% soos wat die tabel hier onder toon.

Beteken dit dus dat die plaaslike partypolitieke stelsel gekonsolideer het omdat die stabiele, gevestigde partye deurgaans steun van meer as 90% trek?

Die antwoord is ongelukkig nee, omdat die groot getal klein partye wat gereeld verskyn net om weer te verdwyn ’n negatiewe faktor is.

Die plaaslike politieke stelsel toon dus duidelik te veel wisseling en gevolglik ’n mate van onstabiliteit.

In verlede jaar se verkiesing was dit veral jong kiesers wat nie wou registreer nie.

’n Bykomende onrusbarende faktor is die toenemende politieke apatie onder baie kiesers ondanks die wye keuse van politieke partye.

In verlede jaar se verkiesing was dit veral jong kiesers wat nie wou registreer nie. In die ouderdomsgroep van 18-19 jaar was daar ’n afname van 47% in die getal kiesers wat geregistreer het vergeleke met 2014.

Die getal geregistreerde kiesers wat wel gaan stem het, het ook gedaal van 73,4% in 2014 tot 65,9% in 2019.

Waarom word so baie nuwe partye gestig in SA?

Pieter Labuschagne

In akademiese kringe word aangevoer dat gefragmenteerde partypolitieke stelsels dikwels tot die ontstaan van nuwe partye aanleiding gee. In gevestigde demokrasieë is verskille kleiner en is daar meer stabiliteit, wat die vorming van nuwe partye inhibeer.

Die plaaslike proporsionele stelsel moedig voorts die vorming van nuwe partye aan. ’n Party het sowat 45 000 stemme nodig om een verteenwoordiger in die parlement te kry.

Vir baie opportuniste lyk dié drempel baie haalbaar.

In ’n enkellid-kiesafdelingstelsel sou sowat drie tot vier partye oorheers het en kleiner partye geen kans gestaan het nie.

’n Verdere probleem is dat die meeste nuwe partye ontstaan weens persoonlikheidsbotsing in groter partye.

Een van die verklarings vir die vorming van nuwe partye is natuurlik dat leiers in die gemeenskap en die burgerlike samelewing ontevrede met die regerende partye en die huidige binnestelselpartye is. Die probleem is dat die “ontevredenheid” nie die steun van 92% vir die binnestelselpartye verklaar nie.

Daar is natuurlik verskeie redes vir die ontstaan van nuwe politieke partye, soos politieke naïwiteit en die oorskatting van eie steun. Dan is daar uiteraard politieke opportunisme, wat gewoonlik nie tot veel lei nie.

’n Verdere probleem is dat die meeste nuwe partye ontstaan weens persoonlikheidsbotsing in groter partye. Dit beteken nie veel vir groei nie, want die ontstaan van sulke partye is dikwels nie op ’n beleidstandpunt gegrond nie.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Cope  |  Udm  |  Eff  |  Pieter Labuschagne  |  Duitsland  |  Amerika  |  Suid-Afrika  |  Bulgarye  |  Demokrasie  |  Politieke Partye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.