Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Politieke agenda polariseer
Jan van Riebeeck

Daar is geen plek vir onware "geskiedskrywing nie", skryf Albert Blake.

Wanneer oudregter Johann Kriegler ’n mening uitspreek, luister mense. Daarom roep die vreemde aanbevelings in sy resensie van Patric Tariq Mellet se omstrede The Lie of 1652 verlede week om verantwoording.

Kriegler aanvaar die bevindings van Dan Sleigh, ’n gerekende kenner van die VOC-tydperk aan die Kaap, in ’n artikel in Die Burger dat Mellet se werk feitelik en ideologies verdag is.

Kriegler noem dat die taal in Mellet se boek “ideologies gelaai” is, dat “eenogige menings as feitestellings sonder bewysplaas opgedis” word en dat die narratief “by tye kennelik ongeloofwaardig” is.

Mellet se siening is dat ons land se geskiedenis deur apartheid- en koloniale geskiedskrywing tot ’n onherkenbare en vervalste witsentriese beeld van die werklikheid verwring is. Dis vir hom ’n verhaal van wit vergrype, uitbuiting en roofsug. Mellet self is ’n struggle-veteraan en vurige aktivis.

Nadat Kriegler die ernstige wanvoorstellings in Mellet se boek aanvaar, kom hy met die aanbeveling – eerder ’n sterk propagering – dat wit mense moeite moet doen om dit steeds te lees, maar om dit nie as geskiedskrywing te benader nie. Kortom, Kriegler beskou Mellet se werk as noodsaaklike leesstof vir enigeen wat vanuit die tradisionele wit geledere begrip wil toon asook om ’n hele aantal aspekte van radikale Afrikane van nader te bekyk.

Dié siening laat die rooi ligte onmiddellik flikker. Watter waarde kan aan enige gevolgtrekking geheg word wanneer dit nie op bewese feite nie, maar op onwaarhede berus? Sulke gevolgtrekkings gaan mos altyd verdag bly? Moet ons nie te alle tye die waarheid nastreef en ons beginsels daarop grond nie?

Die gewone leser is dalk ook nie noodwendig ’n belese intellektueel nie en kan dalk gewoon nie in staat wees om sinvolle afleidings te maak nie, veral as hy nie alternatiewe tot sy beskikking het wat al die moontlike onwaarhede in Mellet se boek uitwys nie. Boonop pleeg Mellet die onverskoonbare sonde vir ’n “geskiedkundige” deurdat sy “eindnotas” nie aan die standaarde van wetenskaplike geskiedskrywing voldoen nie.

Talle aannames word sonder enige bronverwysings gemaak. “Feite” wat hy verskaf en die gevolgtrekkings daarop kan gevolglik nie geverifieer word nie. Sy gebruik van primêre bronne is ook verdag. Geen bronnelys word verskaf nie. Boonop het Mellet ’n ooglopende deursigtige politieke agenda, wat totaal onaanvaarbaar vir wetenskaplike geskiedskrywing is.

Wanneer The Lie of 1652 met ’n formidabele werk soos Die VOC aan die Kaap geskryf deur die internasionaal erkende historici Con de Wet, Leon Hattingh en Jan Visagie vergelyk word, getuig dit van ’n naïewe verstaan aan die kant van Mellet van die 17de-eeuse VOC.

Talle slaggate lê op die loer vir ’n resensent wat nie ’n kundige is op die gebied van die werk wat hy resenseer nie.

Hoe kan daar enigsins in dié omstandighede van ’n leser verwag word om in moeilike tye geld uit te gee op ’n boek wat die resensent self erken op verdagte “feite” berus vir die uitsluitlike doel om insigte in die struggle-denke te kry? Of het dit al só deel van ons in Suid-Afrika geword om maar verby onwaarhede te kyk?

Talle slaggate lê op die loer vir ’n resensent wat nie ’n kundige is op die gebied van die werk wat hy resenseer nie. Kriegler is juis geen kundige oor die vroeë tydperk van die VOC nie. Hy bespreek nie waar Mellet feitlik fouteer en absurde afleidings maak nie. Daarvoor is die leser aangewese om na Sleigh se weergawe vir leiding te gaan.

Kriegler beperk hom grootliks in sy resensie tot die noodsaaklikheid om sy lesers te oortuig om Mellet se weergawe te lees. Hy bespreek gevolglik ook nie die kerngedeeltes van die boek wat onder meer gaan of daar gevestigde handel bestaan het tussen die inheemse mense en verbygaande Europese skepe voor die koms van Jan van Riebeeck nie. Dieselfde geld vir ander bestaande “mites” volgens Mellet soos dat daar nie ’n leë binneland met die koms van wit mense na die Kaap was nie.

Mellet gaan uit sy pad om gevestigde historiese vertolkings op die kop te draai in sy poging om ’n sensasioneel nuwe geskiedenis te skep. Dit is alreeds duidelik met die lees van die titel, agterplat en voorwoord van die boek.

Die omstredenheid van die boek het reeds tekens van ’n morsige nadraai.

Die gevaar is dat die regter se resensie met sy gevleuelde taalgebruik oningeligtes op ’n dwaalspoor kan bring. ’n Hele geslag wit mense bestaan reeds wat formeel niks van hul eie verlede geleer is nie en wat net aan ’n verdraaide ANC-geskiedenis blootgestel is. By die breë Suid-Afrikaanse jeug bestaan ’n ontstellende gebrek aan ’n gebalanseerde kennis van ons land se geskiedenis.

Moet hulle aan Mellet se twyfelagtighede blootgestel word? Ek’s bevrees die keer slaag die begaafde regter nie die appèl nie.

Die omstredenheid van die boek het reeds tekens van ’n morsige nadraai. Mellet het met ’n platvloerse tirade op sosiale en ander media op ’n persoonlik vlak teen Sleigh uitgevaar. Die ploertige detail daarvan verdien nie hier verdere aandag nie behalwe dat Mellet ook die rassekaart speel wanneer hy deur Sleigh in ’n hoek gedryf word. In die proses probeer hy Sleigh as maar net nog ’n “white Afrikaner . . . colonial supremacist . . .” afmaak. Dit werp net verdere twyfel of Mellet in geheel gesien enigsins ernstig opgeneem kan word (gaan lees gerus sy kommentaar en oordeel self).

Daarteenoor is Sleigh se reaksie veel waardiger as hy in Die Burger kortweg antwoord dat hy nie Mellet ken nie en by implikasie nie sy asem op ’n sinnelose woordestryd gaan mors nie.

Die vraag is of werke soos dié van Mellet enigsins help om wedersydse begrip vir mekaar te skep. Vererger dit nie eerder polarisasie nie? Vir die navorser kan Mellet se verdraaide weergawe miskien akademiese betekenis vir hoogstens ’n faset van die struggle-psige bied, maar onwaarhede gaan eenvoudig nie tot noodsaaklikhede harmonie onder gewone mense in ons land bydra nie. Waarskynlik gaan die boek deur die een kant bloot geïgnoreer word as net maar nog ’n voorbeeld in ’n tyd waarin daar onuitputlike bombardemente van verdraaide feite is. Die ander kant sal dit seker as dogma aanvaar. Dit is ongelukkig nog ’n voorbeeld van die tragiese polarisasie waaronder ons land gebuk gaan.

Wat ons broodnodig het is ’n gedeelde geskiedenis met ’n verdraagsame wete dat daar nie perfekte geskiedskrywing bestaan nie.

Natuurlik is dit ook die plig van wit mense om moeite te doen om die ander kant te verstaan. Hulle was ongetwyfeld vir baie lank daaraan skuldig dat die geskiedenis onewewigtig en Afrikaner-sentries aangebied is. ’n Magdom verkeerde opvattings bestaan onder baie. Dit moet verander. Daar is gevolglik niks verkeerd met ’n objektiewe herondersoek van die verlede en vernuwende denke nie. Dit is in werklikheid noodsaaklik. Niks in die verlede behoort té heilig te wees om eerlik ontleed te word nie. ’n Gemeenskap word nie net gemeet aan dit wat hy wil onthou nie, maar ook aan dit wat hy wil vergeet.

’n Soeke na objektiwiteit is egter sonder uitsondering almal se plig. Ook om mekaar se verskillende vertolkings te verstaan in die proses om by die waarheid uit te kom. By Mellet is daardie strewe afwesig. Daar is ook nie ’n kritiese selfondersoek nie – verbittering wel. Opmerklik is dat daar geen toegewings van sy kant gemaak word nie, selfs wanneer hy nie sy foute kan verdedig nie. Vir hom is die wit kolonialiste die skuldiges en basta verder. Daarmee het hy ’n gulde geleentheid verspeel om sy weergawe op ’n ander wyse aan te bied en die moontlikheid laat glip om tot nuwe objektiewe historiese gevolgtrekkings te kom. Al wat oorbly is ’n identiteits- en populistiese weergawe.

Geskiedskrywing sal nooit perfek wees nie. Daarvoor is almal van ons op ’n manier té vasgevang in sy eie subjektiwiteit. Dit beteken nie dat daar ooit afgewyk mag word van die beginsel dat daar te alle tye met die optekening van die verlede ’n eerlike strewe na die waarheid moet wees nie.

Wat ons broodnodig het is ’n gedeelde geskiedenis met ’n verdraagsame wete dat daar nie perfekte geskiedskrywing bestaan nie. Ons sal ver vorder as ’n vertolking van die verlede sonder vooropgestelde politieke agendas benader word. Niemand behoort die geskiedenis vir hul eie voordeel aan te wend nie.

Of is dit ’n verwagting wat in ons land onbereikbaar is?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.