Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘'n Gifbeker wag op Biden’

Amerika verkeer tans in ’n baie gevaarlike situasie met die ekonomie wat in duie stort en Joe Biden wat ’n “vergifte kelk” van die Republikeinse Party gaan ontvang, sê Tony Karon, ’n Suid-Afrikaans-gebore joernalis en politieke ontleder wat in Amerika woon en werk, aan Murray La Vita.

Tony Karon het in Suid-Afrika kulturele vervreemding ervaar.

“Die Republikeinse Party gee die teuels aan ’n administrasie wat hulle gaan kniehalter . . . Hulle gaan Biden laat smeek vir enige samewerking,” sê Karon in ’n zoom-onderhoud uit Brooklyn, New York.

“So, basies het Biden ’n vergifte kelk ontvang. Hy gaan die bewind oorneem op ’n tydstip wanneer dit veilig is om te voorspel dat nog tienduisende Amerikaners aan Covid-19 gaan sterf.

“Die ekonomie is besig om in duie te stort. Die werklike werkloosheidsyfer in Amerika is op die oomblik een uit elke vier mense. Die Republikeine wou nie eens vir Trump geld gee vir ’n stimulus wat geld in mense se sakke sou beteken en die ekonomie aan die lewe kon hou nie. Mitch McConnell [Republikeinse leier van die senaat] wou nie Trump se reddingsplan steun nie.

Die idee om wit mans van min of meer ’n werkersklasagtergrond te bewapen om swart mense te polisieer, is die DNS van Amerikaanse polisiëring.

“Biden gaan níks van hierdie ouens kry nie, so die ekonomie gaan in ’n groot, groot gemors wees. Dit gaan lank neem om Covid in bedwang te kry; die Black Lives Matter-rebellie . . . Die polisie maak elke week mense dood. Hoe gaan hy dít hanteer?

“Die sentristiese Demokrate het nie oplossings vir hierdie probleme nie, want dit is struktureel. Die polisiemag . . . Dis nie ’n geval van vrot appels nie. Die héle stelsel is basies ontwerp . . . Die polisiemag polisieer die swart bevolking asof hulle ’n besettingsmag is, asof daardie hele bevolking ’n vyandige bevolking is, soos in Irak – enigiemand kan ’n gevaarlike vyand wees.

“Die oorsprong van die Amerikaanse polisiemag is die slawepatrollies wat geskep is om ontsnapte slawe op te spoor. Die idee om wit mans van min of meer ’n werkersklasagtergrond te bewapen om swart mense te polisieer, is die DNS van Amerikaanse polisiëring.”

‘Wandelende Jood’

Karon en sy vrou, Jann Cheifitz.

Karon is ’n voormalige anti-apartheidsaktivis en is tans redaksionele bestuurder van Al Jazeera se digitale videokanaal AJ+. Hy was voorheen senior redakteur van Time.com en het ook vir John F. Kennedy Jr. se tydskrif George gewerk.

“Ek is al sedert middel-’93 hier. Ek en Jann [Cheifitz], wat ’n paar maande ná my hierheen gekom het, is in 1994 hier getroud. Ons seun, Gabriel, is in 1996 gebore en ons dogter, Milla, in 2003.

“Ons het nie ’n bewuste besluit geneem om uit Suid-Afrika te emigreer nie. Ék het aanvanklik gekom om net ’n paar maande hier rond te reis. Maar toe raak ek verlief op Brooklyn.

“New York voel na die natuurlike tuiste vir ’n eerste generasie kind van Afrika wie se familiewortels in Jiddisje Oos-Europa lê.

“As ’n wit linksgesinde – of miskien is ek net ’n wandelende Jood! – in Suid-Afrika het ek, en baie ander soos ek, ’n kulturele vervreemding ervaar. Ons kon ons nie met enige van die hoofstrome van wit Suid-Afrikaanse kultuur vereenselwig nie.

“Maar, hoewel ons ons moreel en polities met swart Suid-Afrika kon vereenselwig deur die ANC – ons het byvoorbeeld die woorde van elke vryheidslied geken en mbaqanga op ons partytjies gespeel – was daar duidelike perke aan die graad waartoe ons dít as ons kultuur kon beleef.

. . . ons het onsself verbeel as burgers van ’n wêreldwye lefty-kultuur.

“So, ons is kulturele nomade van ’n aard wie se plek in die wêreld meer bepaal is deur ’n soort progressiewe kultuur, of dit nou Joe Strummer en sy punk sosialisme en rebel white-boy liefde vir reggae is, of die romans van Gabriel Garcia Marquez, of CLR James se werk oor die geskiedenis van die Karibiese wêreld en van krieket, of Papa Wemba of Nusrat Fateh Ali Khan of LKJ [Linton Kwesi Johnson] of Ousmane Sembene, of die rolprente van Claire Denis of van Bernardo Bertolucci of Djibril Diop Mambéty . . . ons het onsself verbeel as burgers van ’n wêreldwye lefty-kultuur.

“Ek onthou hoe ek in 1984 in Johannesburg weggesluip het van ’n Nusas-kongres waarvoor ek gatvol was en na die rolprent Beat Street gaan kyk het. Dit was een van die eerste rolprente waarin die jong hip-hop-kultuur in New York uitgebeeld word. Ek het gedink: Ja! Dít!”

‘Hulle verag Trump’

Die Republikeinse Party is ’n nasionalistiese, regsgesinde party wat die belange van miljardêrs dien, maar tog verag die Republikeinse establishment pres. Donald Trump, sê Karon.

Die Republikeinse establishment “het Trump nie meer nodig nie”. Foto: Reuters

“Hulle weet egter hy het die party se basis uitgebou en gesorg dat die tradisionele Republikeinse agenda van deregulering en verminderde belasting vir miljardêrs gedien word, maar dit terselfdertyd vermy om geld te bestee aan enige van die populistiese ekonomiese beloftes wat in 2016 gemaak is en op die wit werkersklas gemik was.

“Die Republikeinse establishment het Trump nie meer nodig nie, al het hulle sy steunbasis nodig. In die aangesig van ’n pandemie waarin nog duisende Amerikaners kan sterf en ’n ekonomiese ineenstorting, sou ’n mens kon sê die uitslag van die verkiesing het die weg goed gebaan vir ’n meer bevoegde post-Trump regsgesinde orde om behoorlik beslag te kry.”

Hy wys op ’n ontleding van die sosioloog en skrywer Zeynep Tufecki waarin sy uiteensit waarom die Republikeinse Party in hul skik is: Die federale hooggeregshof is “in hul hoek” en hulle sal waarskynlik beheer oor die senaat behou. Daarby het die party sy eie koalisie gediversifiseer deur meer vrouekandidate by te kry sowel as meer steun van mense van kleur.

‘Siniese blik’

Hoe het hy die Trump-bewind beleef?

“Dit is nie asof pre-Trump-Amerika vir my ’n paradys was nie. Die Clinton-era . . . Hy was baie regsgesind en baie rassisties en het hierdie soort van Wall Street-politiek bedryf; die Demokratiese Party het onder hom ’n Wall Street-party geword.

Ons was natuurlik almal geskok omdat daar ’n naakte rassisme was.

“Ek skryf al vir ’n lang ruk oor Amerikaanse politiek. Ek het ’n baie siniese blik op die Clinton-era gehad; was glad nie beïndruk met die Bush-era nie, en, om eerlik te wees, was ek ook baie skepties oor die Obama-administrasie.

“Obama het in die middel van die 2008- ekonomiese ineenstorting aan die bewind gekom en basies die banke gered terwyl die res van die land in nood verkeer.

“So, toe Trump aan die bewind kom . . . Ons was natuurlik almal geskok omdat daar ’n naakte rassisme was.”

Trump en oorlog

Daar is baie illusies oor wat in die Trump-era gebeur het.

Wat my egter irriteer is liberale wat Trump vir alles blameer omdat hy Trump is.

“Ook wat sy buitelandse beleid betref. Dít is die magtigste nasie ter wêreld, maar as jy nou Iran was en Biden sê: ‘O, ons kan ’n nuwe ooreenkoms aangaan oor kernwapens . . .’ Hoe op aarde kan Iran dit ernstig opneem komende van ’n land wat oor vier jaar weer ’n Trump as president kan kies? Dit is ’n heeltemal onstabiele stelsel wat volledig afhanklik is van populistiese demagoë.

“Wat my egter irriteer is liberale wat Trump vir alles blameer omdat hy Trump is. Toe hy na Noord-Korea uitgereik het en met hulle samesprekings begin voer het . . . Hoekom is dit ’n slegte ding as ’n Amerikaanse president probeer om die temperatuur te laat daal en die gevaar van oorlog verminder in ’n konflik wat Amerika wesenlik sélf geskep het?

“Daar is gevalle waar ’n veglustiger president, soos George W. Bush, oorlog sou gemaak het, naamlik met Iran, Sirië en Venezuela. En Trump het dit nié gedoen nie. Sy populistiese instink het hom laat besef gewone Amerikaners wil nie in oorloë betrokke wees nie.”

Biden gaan nie “sterk op buitelandse beleid gerig wees nie”. Foto: Tom Brenner/Reuters

Biden se administrasie gaan nie sterk op buitelandse beleid gerig wees nie, meen Karon.

“Daardie neiging wat by Trump nogal ekstreem gelyk het, naamlik ’n VSA wat ’n verminderde rol in die wêreld speel, sal voortgaan. Daar sal pogings wees om ’n stabieler multilaterale stelsel te vestig, maar jy gaan nie sien hoe Amerikaanse troepe na alle dele van die wêreld gestuur word nie.”

Skenkers vs kiesers

Korrupsie is in Amerika wettig, sê Karon.

“In enige ander land sal dit korrupsie wees as ’n miljardêr in die geheim ’n miljard dollar aan ’n politieke kandidaat gee sodat daardie kandidaat sy belange bevorder. In Amerika is dit heeltemal wettig.

“As jy na meningspeilings kyk, sal jy sien sowat 70% van Amerikaners van alle partye steun die idee van een of ander vorm van openbare gesondheidsorgstelsel, maar tog steun nie een van die partye dit nie. Dít is omdat skenkers harder praat as kiesers. Amerika bestee 17% van sy begroting aan gesondheidsorg; dít is omdat jy ’n winsgedrewe gesondheidsorgstelsel het.

“Farmaseutiese maatskappye en siekefondse en maatskappye wat hospitale besit, maak geweldig baie geld terwyl hulle in die proses ook mense se toegang tot gesondheidsorg beperk.”

Vier vroue

Karon lag en vra: “Klink ek pessimisties? Dis my Jiddisj-wortels. Maar daar is ook ’n goeie storie. Jy het ook die politiek van die Squad.

[Die Squad is die informele naam vir ’n groep van vier vroue wat in 2018 tot die Amerikaanse huis van verteenwoordigers verkies is. Hulle is Alexandria Ocasio-Cortez van New York, Ilhan Omar van Minnesota, Ayanna Pressley van Massachusetts, en Rashida Tlaib van Michigan.]

“Dit is die jong vroue van kleur in spesifiek linkse politiek en dit is besig om te groei. Die verteenwoordiging van uitgesproke linkse Demokrate van kleur in die Huis van Verteenwoordigers het meer as verdubbel in die afgelope verkiesing. En onthou, ál daardie mense begin deur in ’n voorverkiesing téén die establishment te staan en dan te wen. So, hulle kry die stemme.”

Harris en rassisme

Ons praat oor Kamala Harris, die aangewese vise-president.

Kamala Harris “het strukturele rassisme ervaar”. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Dis betreklik veilig om te sê Biden sal nie weer in 2024 om die presidentskap meeding nie – hy is te oud – so sy kan heel waarskynlik dan die presidentskandidaat wees.

... in hierdie magstelsel in Amerika kom ’n swart mens net iewers indien hy of sy bereid is om soos ’n wit man op te tree.

“Daar is niks werklik progressief omtrent haar nie. Sy was in die voorverkiesings die Wall Street-gunsteling wat fondsinsameling betref. As aanklaer het sy ’n reputasie van baie harde beleide gehad wat die grootste invloed op swart mense gehad het.

“Mense sal sê – en hulle is nie verkeerd nie – dat in hierdie magstelsel in Amerika kom ’n swart mens net iewers indien hy of sy bereid is om soos ’n wit man op te tree.

“Ek is seker sy val nie heeltemal in daardie kategorie nie. Sy was in Howard College, so sy het strukturele rassisme ervaar, en dít maak reeds ’n reuseverskil.

“Van strukturele rassisme gepraat – as jy ’n party het wat gelei word deur mense soos Nancy Pelosi en Chuck Schumer . . . strukturele rassisme is nie iets wat hulle al ooit ervaar het of werklik ken nie.

“So, ’n mens wil vertroue hê in iemand soos Harris, wat weet waarvan sy praat. Maar aan die ander kant het jy ook die harde lesse van Obama geleer. Hy het byvoorbeeld baie hard probeer om die Black Lives Matter-beweging ongedaan te maak deur koöptering.”

‘ ’n Kokaïen-ontploffinkie’

Te oordeel na sosiale media en kommentare op nuuswebwerwe is daar in Suid-Afrika talle Trump-aanhangers – waaraan sou hy dit toeskryf?

Trump wakker wit heerssugtiges, swaksinnige samesweringsteorieë en wantroue in wetenskap aan.

“Wel, ek weet nie juis hoe mense in Suid-Afrika voel nie, maar hier in Amerika kan jy sien hoe hy onder wit mense ’n gegriefdheid aanwakker wat belaglik is as die omvang van hul bevoorregting in ag geneem word.

“Hy maak ook staat op die ondermyning van die medialandskap tot so ’n mate dat Amerikaners nie meer enige stel algemene feite glo nie, om van aannames oor daardie feite nie eens te praat nie.

“Trump wakker wit heerssugtiges, swaksinnige samesweringsteorieë en wantroue in wetenskap aan. Hy bemagtig dít wat in diens staan van sy eie mag, al lewer hy in werklikheid nie veel meer nie as ’n soort kokaïen-ontploffinkie van tydelike bevrediging aan wit middel- en werkersklasmense; daardie momentele high waartydens hulle voel hulle is in beheer van alles en dat al hul kleinlike wrokke en griewe gelegitimeer en geëer word.

“Hy spreek tot ’n segment van wit Amerika wat ’n behoefte daaraan het om meerderwaardig te voel en verwag om bo mense van kleur bevoordeel te word . . . En ek dink daar is ook ’n sterk aanwesigheid van sulke mense in Suid-Afrika tot wie hy spreek.”

Meer oor:  Joe Biden  |  Kamala Harris  |  Donald Trump  |  Tony Karon  |  Republikeine  |  Demokrate  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.