Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
KYK: Op hoeveel swart steun kan Trump reken?

Beteken die oënskynlike steun van twee bekende kletsrymers dat jong swart mans hulle in aanstaande week se Amerikaanse presidentsverkiesing by Donald Trump gaan skaar, vra Sam Fulwood III.

Te oordeel aan die kortstondige, maar verwoede onlangse rits nuus- en sosialemediaberigte oor die presidensiële verkiesingsveldtogte van 2020, kan ’n voorheen verborge vloedgolf van steun onder jong swart mans die knoop vir pres. Donald Trump deurhak.

In die laaste dae van die veldtog het twee hip-hop kunstenaars – 50 Cent en Ice Cube – heelwat politieke aandag getrek toe hulle steun vir Trump uitgespreek het, of minstens gesê het hulle is gewillig om met hom in ’n tweede termyn saam te werk.

Veral 50 Cent – gebore as Curtis James Jackson III – het eers Trump se herverkiesing gesteun en gesê hy is bang Joe Biden, die Demokratiese Party se kandidaat, sal sy belasting verhoog.

“Yeah, I don’t want to be 20cent,” het hy geskryf en gesê hoër belasting vir rykes is ’n “baie, baie slegte idee. Ek hou nie daarvan nie.”

50 Cent het later sy steun teruggetrek nadat van sy ondersteuners heftig teen sy uitspraak te velde getrek het.

Ice Cube – O’Shea Jackson – het Trump wel nie in soveel woorde gesteun nie. Hy het in onderhoude toegegee dat hy met amptenare van die Trump-veldtog gepraat het oor sy Contract with Black America.

Ice Cube het dié kontrak van 13 punte in Julie onthul in reaksie op die dood van George Floyd en dit beskryf as ’n “bloudruk om ekonomiese rasse-regverdigheid” te bereik. Van sy voorstelle kyk na finansiële hervorming sowel as hervormings in die polisie, strafregstelsel en onderwys.

Ice Cube tydens ’n konsert in Oklahoma City. Foto: Getty Images

Deur met amptenare van die Trump-veldtog te praat, het Ice Cube vir ’n raadgewer van dié veldtog die gaping geskep om te twiet dat die kletsrymer saam met Span Trump aan boord is – ’n uitspraak wat nie heeltemal met die werklikheid tred hou nie.

As iemand wat die raakpunte tussen ras, openbare beleid, verkiesings, die media en populêre kultuur bestudeer, weet ek meer as genoeg van dié onderwerp om te sê dat 50 Cent en Ice Cube nie algemene swart politieke denke of verborge pro-Trump aktivisme onder swart mans verteenwoordig nie.

Inteendeel.

Hulle is buitestanders wat die groter swart kiesersgemeenskap, wat jong swart mans insluit, betref en dit is onwaarskynlik dat hulle betekenisvolle swart steun van Biden sal wegrokkel.

Min steun vir Trump

Pres. Donald Trump praat met ondersteuners in Omaha, Nebraska. Foto: AP

In ’n studie wat ek vroeër dié somer saam met kollegas by die American University se Center for Congressional and Presidential Studies and School of Communications gedoen het, het ons bevind Trump is toenemend ongewild onder swart Amerikaners.

Byvoorbeeld: Onder al die 1 215 swart Amerikaanse respondente wat vroeg in Julie ondervra is in ses deurslaggewende sogenaamde swaaistate (Wisconsin, Michigan, Pennsilvanië, Noord-Carolina, Georgia en Florida) het slegs 7% gesê hulle is van plan om vir Trump te stem en 66% het gesê hulle wil vir Biden stem.

Onder swart mans het 10% gesê hulle verkies Trump – ietwat meer as die algemene syfer, maar heelwat minder as die 60% van swart mans wat gesê het hulle verkies Biden.

Bykans ’n derde van swart mans, 29%, het gesê hulle gaan vir iemand anders stem of hulle weet nie wie om te steun nie.

Joe Biden, die Demokratiese Party se kandidaat vir aanstaande week se Amerikaanse presidentsverkiesing, praat met ondersteuners in Atlanta, Georgia. Foto: Reuters

Ons bevindings stem ooreen met historiese swart stempatrone. Sedert die burgerregte-beweging van die laat 1960’s, het Republikeinse kandidate nooit meer as 13% van swart Amerikaners se stemme gekry nie.

Volgens syfers wat versamel en ontleed is deur die Pew Research Center, het Trump 8% gekry van die stemme wat in 2016 deur swart Amerikaners uitgebring is, effens beter as die 6% wat Mitt Romney, die Republikeinse kandidaat in 2012, gekry het.

Swart steun vir die Demokratiese kandidaat Barack Obama was uiteraard oorweldigend. Hy het ’n voorsprong van 91 punte in 2008 gehad en 87 punte in 2012.

50 Cent toe hy in Februarie vanjaar in Miami, Florida, opgetree het. Hy gaan nie vir Joe Biden stem nie omdat hy nie meer belasting wil betaal nie. Foto: Getty Images

Onlangse peilings dui daarop dat Trump se steun onder swart Amerikaners die tendens van die verlede sal volg. ’n Peiling van Gallup het opgemerk dat dit “hoogs onwaarskynlik” is dat dié stempatrone onder swart Amerikaners sal verander met vanjaar se verkiesing.

Die onlangse Wall Street Journal/NBC News-peiling van 13-16 September het bevind dat Biden met 90% teen 5% voorloop teenoor Trump onder swart kiesers.

Gallup se saamgevoegde peilings van 30 Julie tot 3 Augustus en 31 Augustus tot 13 September wys dat 11% van swart Amerikaanse kiesers tevrede is met Trump, ’n rowwe aanduiding dat dié persentasie vir hom kan stem. Daarenteen is 87% ontevrede met hom.

Baie jonger swart Amerikaners – met millenniër-mans aan die voorpunt – is so deur politiek ontnugter dat hulle dalk glad nie sal gaan stem nie.

En volgens die nuwe CBS-BET-peiling wat op 25 Oktober bekend gemaak is, het slegs 8% van waarskynlike swart kiesers gesê hulle sal vir Trump stem.

Tog, volgens ’n CBS News-berig oor die peiling, het die “helfte van ouer (‘senior’) swart mense gesê hulle sal vir Biden stem meestal omdat hulle van hom hou, maar dié steun neem tot 28% af onder kiesers jonger as 30.”

Eerder as ’n grootskeepse swaai van swart kiesersteun na Trump en die Republikeine in navolging van 50 Cent en Ice Cube, dui ons navorsing daarop dat baie jonger swart Amerikaners – met millenniër-mans aan die voorpunt – so deur politiek ontnugter is dat hulle dalk glad nie sal gaan stem nie.

Wat is die punt?

Swart kiesers stem tradisioneel nie in groot getalle vir die Republikeinse Party nie. Pres. Donald Trump het in 2016 die steun van slegs 6% van swart keisers gekry. Foto: Getty Images

Baie swart Amerikaners wat vir die eerste keer kan stem of nog relatiewe nuwe kiesers is, het in fokusgroepe aan ons gesê hulle sien nie die nut daarvan in om tussen die mindere van twee euwels te kies nie.

Anders as hul ouers en grootouers wat in die tye van rasse-segregasie, die burgerregte-beweging en ’n radikale rassetransformasie van die Amerikaanse samelewing geleef het, het jong swart mense wat in die afgelope 30 jaar grootgeword het in fokusgroepe aan ons gesê daar is min tot niks wat hulle kan aanhaal as voorbeelde van vooruitgang wat direk aan politiek of ’n stemmery toegeskryf kan word nie.

Baie van wat hulle in hul leeftyd ervaar het, was die negatiewe gevolge van die politieke dooiepunt in Washington, aanhoudende ekonomiese ongelykheid, die groterwordende gesondheidsongelykheid wat hul gemeenskappe raak, en die vernietigende studieskuld wat dit bykans onmoontlik maak om welvaart te bewerkstellig deur ’n huis te koop of te spaar.

Een kletsrymer wat beslis nie vir pres. Donald Trump gaan stem nie. Common tree op voordat Joe Biden ondersteuners in Atlanta, Georgia, toegespreek het. Foto: AP

En miskien die dodelikste en mees dramatiese is die hernieude golwe van rassisme en polisiegeweld wat teen hulle en hul geliefdes gemik is.

Dit is daarom geen wonder nie dat sommige swart mans – veral dié wat desperaat is om by die politiek betrokke te raak om omstandighede vir hulle en hul gemeenskappe te verbeter – ander opsies vir die politieke status quo soek.

Dit is in daardie diepte van wanhoop wat die Trump-veldtog ’n vastrapplek probeer kry deur te maak asof jong swart mans by hulle inval.

Niks kan verder van die waarheid af wees nie. Of, soos die kletsrymers graag sê: Moenie die bohaai (“hype”) glo nie.

* Fulwood is ’n navorsingsgenoot van die Center for Congressional and Presidential Studies aan die American University. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.