Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Groot, groot probleme wag in 2021
Tony Leon in 2006. Foto: Gallo Images

Die DA se swak uitslae in die onlangse munisipale tussenverkiesings is slegte nuus, nie net vir die party nie, maar ook vir die land. In ’n stadium dat die ANC die land tot op die afgrond van fiskale mislukking gelei het, het ons ’n sterk alternatief in opposisie nodig.

Maar hoe het ons hier gekom?

Die party wat Helen Zille by Tony Leon in 2007 geërf het, was in ’n puik toestand. Onder sy leiding het die DP se steun gegroei van 1,7% tot 12,4%. Leon se grootste prestasie, uniek in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis, was om die grootste deel van wit Afrikaanse kiesers te oorreed om vir ’n party gelei deur ’n Engelsman te stem.

Hierdie veelrassige koalisie van wit, bruin, Indiër- en ’n beduidende swart steun was nie gebou op rassepolitiek nie, maar op grond van onbeskaamde liberale kritiek op die ANC-regering. Die party se swart voorsitter, Joe Seremane, was ’n man van onkreukbare integriteit met eg liberale sienings en party-eenheid was die gevolg van ’n samehangende en gedeelde visie. Ten spyte van die feit dat Leon moes veg teen ’n eensydige en vyandige media wat grotendeels die ANC-weergawe van politieke korrektheid aanvaar het, was kiesers beïndruk met sy moed en boodskap.

Onder Helen Zille het hierdie samehang geleidelik verdwyn. Sy was ook ’n persoon met dryfkrag, integriteit en moed, maar sy het probeer om met die ANC mee te ding deur die ideologiese gaping tussen die twee partye te verklein en in die proses het sy op noodlottige wyse begin flankeer met identiteitspolitiek. Om die party meer aanneemlik te maak vir swart kiesers is swart politici sonder ervaring té vinnig bevorder. Die gevolg was die een ramp ná die ander. Patricia de Lille is as lid verwelkom en – ondanks haar bekende outokratiese neigings – is sy in beheer geplaas van die juweel in die DA-kroon, die Kaapstad-metroraad. Lindiwe Mazibuko is, ná net twee jaar as LP, deur Zille tot parlementêre leier bevorder totdat sy ontdek het dat sy en Mazibuko (wat van haarself as toekomstige president begin praat het) ernstige beleidsverskille gehad het. Dit is gevolg deur die klug van Mamphela Ramphele wat uitgenooi is as die party se presidensiële keuse (en duidelik die volgende DA-leier), terwyl sy in werklikheid self nie by die DA wou aansluit nie. Binne dae het dit tot ’n groot fiasko gelei en die party se geloofwaardigheid was aan flarde.

Daarna het Zille plek gemaak vir haar protégé, Mmusi Maimane, ’n lekeprediker wat nie in evolusie glo nie. Dit was duidelik ’n treinongeluk wat plek soek om te gebeur. Hy het nie net ’n gebrek aan politieke ervaring gehad nie, maar was ’n bewonderaar van Thabo Mbeki en glad nie gepla oor Mbeki se vigsbeleid of standpunt oor Zimbabwe nie. Dit alleen moes hom as onbevoeg uitgewys het.

Met sy kroning was die party se skuif na ANC Lite voltooi. Alle samehang was verlore. Maimane se natuurlike instinkte was soos die van die ANC, kompleet met prekies oor “wit bevoorregting”. Hy het geen natuurlike simpatie gehad met die Afrikaanssprekende lede en ondersteuners van die party nie en was geneig om outomaties te aanvaar dat hulle skuldig was. En so is Leon se grootste prestasie ongedaan gemaak.

Die skade is voltooi deur die party se keuse van Herman Mashaba as sy burgemeesterskandidaat in Johannesburg. Weer is ’n politieke nuweling gevra om ’n komplekse koalisie in die grootste stad in die land te lei – ’n uitnodiging vir probleme.

Die post-Zille-party kan nie tot sy reg kom met Zille wat nog in haar 70ste jaar in ’n leierspos sit nie.

Dit is maklik om Zille te blameer vir hierdie kolossale foute, vir die feit dat sy identiteitspolitiek gespeel het en selfs probeer het om Leon uit die party se geskiedenis te vee. Maar hoe het die party se senior leiers sulke flaters toegelaat? Nou probeer die DA terugkeer na sy liberale wortels, maar hulle moet ten minste aan hulself verduidelik hoe en waarom hulle die pad so sleg byster geraak het. Toegegee, die skade kon maklik erger gewees het: Stel jou die ramp voor as die gek plan om Ramphele die leier te maak deurgevoer is.

Dit gaan nie maklik wees om die breekspul te herstel nie. Die post-Zille-party kan nie tot sy reg kom met Zille wat nog in haar 70ste jaar in ’n leierspos sit nie. Dit is intrinsiek moeilik om ’n veelrassige koalisie in Suid-Afrika bymekaar te hou. Dit kan slegs gedoen word deur ’n duidelike, helder visie. En deur prestasie en verdienste te beklemtoon eerder as simboliek. Binne die party moet bevordering slegs beskore wees vir diegene wat ’n stad ordentlik kan bestuur of ’n portefeulje as partywoordvoerder verdien. Hulle kan nie identiteitspolitiek bekostig nie – ’n benadering wat steun op die idee van rasse-bevoordeling en stil is oor prestasie.

Dit geld ook vir die land: Soos die regering se mislukkings meer word sal mense al hoe meer vertrou op wie ook al orde kan skep en dinge kan laat werk. ’n Mens kan dit reeds in Kaapstad sien. Mense weet dat ’n DA-administrasie ordentlike skole en hospitale beteken. Daarom trek hulle daarheen. Maar verdienste moet voortdurend versterk word. Kaapstad se administrasie is nie tans op peil nie. Koppe moet rol.

R. W. Johnson

Die DA besef nie watter prys hy gewen het met Afrikaner-steun nie. Oral waar Afrikaners betrokke was, het hulle vaardighede en vasberadenheid na die tafel gebring. Maar te dikwels is goeie aktiviste en organiseerders op plaaslike vlak gevra om opsy te staan vir die jongste wonderkind wat om identiteitspolitieke redes bo hulle bevorder is. Hulle het dit verduur totdat hulle besef het dat die DA hulle ook in die steek gelaat het in die stryd om Afrikaans of by Schweizer-Reneke. Nou het die DA wakker geskrik, maar weens die party se verwaarlosing van Afrikaners sal hulle waarskynlik moet vrede maak met die idee van die VF Plus as permanente koalisievennoot.

Die DA se grootste probleem nou is dat die party moet fokus op die mikroprobleem van goed vaar in die plaaslike verkiesing volgende jaar, terwyl hulle terselfdertyd ook die teenoorgestelde moet doen: Om te fokus op die makro-ekonomiese probleme van ’n naderende skuldstilstand en die groeiende onregeerbaarheid van die land. Het die party die intellektuele en kommunikatiewe vaardig-hede hiervoor? Leon het altyd buite die party raad gevra. Dit moet waarskynlik weer gebeur.

Wees egter van een ding seker: Groot, groot probleme wag volgende jaar. Die hele begrotingsraamwerk is afhanklik van ’n loonstilstand in die openbare sektor wat die hopeloos verdeelde ANC met moeite gaan verseker.

Die land het dringend ’n opposisie nodig wat oortuigende leiding kan gee om ons deur die onstuimige water wat voorlê, te navigeer.

Die Wêreldbank het reeds geweier om geld aan ons te leen, wat gelei het tot Tito Mboweni se hol en desperate uitspraak dat ons kan klaarkom sonder hulp van buite. Nóg pres. Cyril Ramaphosa nóg sy kabinet verstaan ??heeltemal die gemors waarin hulle verkeer. Dit is ’n perfekte storm.

Die land het dringend ’n opposisie nodig wat oortuigende leiding kan gee om ons deur die onstuimige water wat voorlê, te navigeer. As die DA dit kan doen, sal die politieke beloning groot wees.

Met honderde DA-raadswyke wat op die spel is, wil die DA-organisasie konsentreer op wat nodig is om volgende jaar wyke in George en Potchefstroom te herower, maar Steenhuisen en sy skadukabinet moet veral werk aan die groter politieke en ekonomiese probleme wat die heeltyd groter word.

  • R.W. Johnson is ’n historikus, joernalis, skrywer en politieke kommentator.
Meer oor:  R. W. Johnson  |  Menings  |  Perspektief  |  Stemme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.