Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Drienasies: Ledesma steeds breëbors

Ten spyte van die gelykopuitslag, sou dit ’n geval van drastiese kontras in emosies wees vir die afrigters van die Poemas en die Wallabies.

Mario Ledesma, afrigter van die Poemas. Foto: Getty Images

Nadat die twee spanne se Driesnasies-wedstryd gelykop met 15-15 geëindig het, sal alles op die spel wees in die laaste twee rondes van dié toernooi.

Daar was waarskynlik diegene wat verwag het dat die Suidelike Halfrond se jaarlikse toernooi ’n saai affêre sou wees nadat die Springbokke hulle onttrek het, maar Argentinië het vinnig die teendeel bewys.

Dít nadat die Poemas verlede week die eerste keer in hul geskiedenis die All Blacks tot oorgawe kon dwing en met Saterdag se uitslag verseker het dat die spanning hoog sal loop in die aanloop tot die bekroning van die kampioene.

Ofskoon die Argentyne en Australiërs se kragmeting nie noodwendig een was wat in die geskiedenis sal uitstaan of waarvan die hoogtepunte herhaaldelik gekyk gaan word nie, het dié uitslag beteken dat al drie die spanne nou gelykop is met ses punte op die punteleer.

Die Australiërs sal voor die skerms vasgenael wees wanneer die Poemas en die All Blacks mekaar volgende week weer pak, voordat hulle in die daaropvolgende naweek self weer met Mario Ledesma se span moet swaarde kruis.

Ledesma glo sy span is tot heelwat meer in staat as wat hy Saterdag gewys het, maar die Argentynse afrigter was steeds vol lof vir sy spelers.

“Die eerste gedagte is trots,” sê hy.

“Hulle (die Wallabies) het ons probeer moeg maak en ek het in ’n stadium gedink dit werk, maar die spelers het vasgebyt.”

Ons gaan herstel en dan baie mooi dink oor hoe ons die volgende vertonings sal aanpak.
Mario Ledesma

Heelwat is in die aanloop tot die wedstryd gesê oor Michael Cheika, die Wallabies se voormalige afrigter, se insluiting in die Argentynse afrigtingspan, maar Ledesma glo nie dat dit veel van ’n faktor was nie.

“Hy is ongelooflik. Hy was net uitstaande in die afgelope maand. Selfs Saterdagoggend toe hy van die spelers, wat nie die 23-tal gehaal het nie, uitgevat het om te gaan oefen.

“Ek dink nie daar was enige iets spesiaal die week nie. Australië het nou ’n nuwe span wat in beheer is, so enige iets wat hy (Cheika) sien is as ’n buitestander.”

Met wedstryde teen die All Blacks en Wallabies wat weer in die komende twee weke wag, wou Ledesma nie veel uitwei oor hoe hy te werk sal gaan om seker te maak dat sy spelers voorbereid en opgewasse vir die groot take is nie.

“Ons gaan herstel en dan baie mooi dink oor hoe ons die volgende vertonings sal aanpak.” – Sportredaksie, Reuters

Meer oor:  Mario Ledesma  |  Michael Cheika  |  Drienasies-Reeks  |  Wallabies  |  Poemas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.