Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Curriebeker perd van ander kleur vir Bulle
Marco van Staden, Bok-flank van die Bulle, verloor die bal Saterdag in kontak teen die Pumas. Van Staden is uitstekend op dreef en is verreweg die voorste oopkantflank in Suid-Afrikaanse rugby op die oomblik. Foto: Gallo Images

Die Bulle begin die Curriebekerreeks die naweek met wenmomentum en ’n buffer van vier ligapunte, maar hokaai eers met die gunsteling-etiket, sê Jake White, die span se afrigter.

Op grond van die groot oorwinnings wat die Bulle in die afgelope Superrugby Unlocked-reeks oor die Stormers en die Haaie behaal het en die wegsege oor die Leeus, is dit nie wensdenkery om te voorspel die Curriebeker is op pad Loftus Versfeld toe nie.

White sê dít sal nie so maklik wees nie.

“As jy die bepalings gesien het, sal jy weet. Ons het nou vier wegwedstryde en net twee by die huis.

“Ons was gelukkig om vier keer tuis te speel (in die Superreeks). Dit sal ’n gelykmaker wees en ons uitdaging is nou om weg van die huis af te wen.

“Daardie wedstryde is teen die Westelike Provinsie (komende Saterdag op Nuweland), die Haaie, die Pumas en Griekwas. Dit gaan baie moeiliker wees.”

Ons het nou vier wegwedstryde en net twee by die huis.
Jake White

So goed soos wat die Bulle Saterdag in die Superreeks op Loftus in die eerste helfte teen die Pumas was, so onoortuigend was hulle ná rustyd.

Trouens, die Pumas het die tweede helfte met 5-0 “gewen” ná die Bulle vroeg ’n voorsprong van 21-0 gehad het.

White sê hulle het verwag dat die besoekers met groot vuur sou speel in veral die eerste 20 minute.

“Ek het die spelers gevra dat ons goed moet begin en die ouens het dit gedoen. Ons was ná 24 minute met 21-0 voor.

“Ek dink ek het nagelaat om aandag te gee aan die laaste 60 minute.”

Die Bulle-plaasvervangers wat in die tweede helfte in die agttal ’n kans gekry het, het tweede viool gespeel en die losskakel Chris Smith was nie so in beheer soos die veteraan Morné Steyn tot dusver die seisoen nie.

“Dit wat sover ons tekortkoming was, het niks te doen met die spelers nie. Dit is die situasie waarin ons is.

“Vat vir Morné, wat een van ons topspelers is, en nou moet jy vir Chris Smith sy eerste wedstryd gee.

“Dit is nie dat hy nie goed genoeg is nie, maar ons het nog nie genoeg saam geoefen en gespeel nie.

Dit wat sover ons tekortkoming was, het niks te doen met die spelers nie.
Jake White

“Die pak wat aan die einde op die veld was, het nog nie saam gespeel nie.

“Ons is ’n nuwe groep met nuwe afrigters en spelers en jy kan dit soms sien, maar ons sal dit regkry.”

Jimmy Stonehouse, die Pumas se afrigter, was in sy noppies met sy span se vertoning in die tweede helfte, maar sê hulle kan nie aanhou om eers ná rustyd wakker te skrik nie.

Die Pumas se Jimmy Stonehouse. Foto: Gallo Images

“Jy kan nie net in een helfte speel nie. Jy moet opdaag en van die begin af inklim,” sê hy.

Hy sê die onverdiende nederlaag wat die Pumas vroeër in die reeks tuis teen die Stormers gely het, was ’n groot slag vir hulle.

“Ons het in daardie stadium agt van ons eerstekeusespelers met beserings verloor. Dit was waarskynlik ’n keerpunt in ons veldtog.”

Stonehouse is gevra of die wedstryd teen die Leeus, wat weens Covid-19-gevalle onder die Pumas nie gespeel is nie, nog gaan plaasvind.

Die Superreeks is afgehandel, maar die spanne se ligapunte word na die Curriebekerreeks oorgedra.

“Ek het gesien die Leeus het voorgestel dat ons Dinsdag speel.

“Daar word van ons verwag om vandag teen die Bulle te speel, Dinsdag teen die Leeus en Vrydagaand in Durban teen die Haaie. Jammer, dit is eenvoudig nie moontlik nie.”

• Puntemakers:

  • Bulle 21: Drieë: Kurt-Lee Arendse, Chris Smith, Ivan van Zyl. Doelskoppe: Smith (3).
  • Pumas 5: Drie: HP van Schoor.
Meer oor:  Jake White  |  Jimmy Stonehouse  |  Bulle  |  Curriebeker  |  Pumas  |  Superrugby Unlocked-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.