Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs sien nou uit na meer stabiliteit
Ruben de Haas, plaasvervangerskrumskakel, het sy eerste drie vir die Cheetahs gedruk. Foto: Gallo Images

Ná al die ontwrigting in die Superrugby Unlocked-reeks sien die Cheetahs uit na meer stabiliteit en die terugkeer van ’n paar beseerdes in die Curriebekerreeks.

Die Vrystaters het Saterdag terug op die wenpad gekom met ’n bonuspunt deur Griekwas met 28-9 verslaan het.

Die span geniet nou ’n loslootjie, waarna hy sy Curriebeker-veldtog teen die omgekrapte Blou Bulle op Loftus Versfeld sal begin.

Die Cheetahs het ná hul Unlocked-sege oor die Bulle momentum verloor toe hulle wedstryd teen die Leeus gekanselleer is. Hulle het daarna ’n loslootjie gehad en moes ’n paar staatmakers vervang wie se kontrakte verstryk het.

Almal het nou aangepas, so ons sal meer stabiliteit hê vir die tweede deel van die kompetisie.
Hawies Fourie

“Almal het nou aangepas, so ons sal meer stabiliteit hê vir die tweede deel van die kompetisie,” sê Hawies Fourie, die Cheetahs se afrigter.

“Daar is ook heelwat van die beseerde spelers wat binne die volgende twee tot drie weke kan terugkeer – spelers soos Wilmar Arnoldi (haker) en Reniel Hugo (slot). Charles Marais (stut) moet drie weke uitsit en Ruan Pienaar (skrumskakel) kan dalk ook voor die einde van Desember reg wees.

“Die laaste twee, drie weke was nie maklik nie, veral ná die wedstryd teen die Leeus wat afgelas is. Daarna het ons ’n loslootjie gehad en nie goed gespeel teen die Haaie en Stormers nie.

Hawies Fourie, afrigter van die Cheetahs.

“Dit was daarom belangrik vir ons om vandag weer op die wenpad te kom en met ’n ordentlike vertoning vorendag te kom.

“Ek was nie tevrede met die eerste helfte nie, maar die tweede helfte was heelwat beter,” sê Fourie.

Griekwas het rustyd met 9-8 voorgeloop.

“Ons het te veel swak of simpel strafskoppe in die eerste helfte afgestaan. Dít het gemaak dat ons die inisiatief verloor het.

“Ek het gevoel ons het goed begin die eerste 10 tot 15 minute maar daarna het Griekwas meer die inisiatief gekry.

“Op die aanval het hul voorspelers oor die voordeellyn gekom. Ons het nie goed genoeg verdedig nie. Ek het gevoel ons gee vir hulle maklike meters. Dan is jy onder druk en staan jy strafskoppe af. Drie punte later staan jy terug op die middellyn.

Ek het ook gedink ons skopspel was verkeerd, maar dit het in die tweede helfte verbeter.
Hawies Fourie

“Ek het rustyd gevra dat ons meer klinies moet wees vir ons voorspelers om te oorheers en dat die verdediging, veral die regstreekse duikslae, beter moet wees. Ek het ook gedink ons skopspel was verkeerd, maar dit het in die tweede helfte verbeter.”

Fourie sê die speeltoestande het sake moeilik.

Hy sê hulle was voorbereid op ’n nat wedstryd.

“Ek dink ons het ’n bietjie beter aangepas in die tweede helfte, ons het nie soveel strafskoppe soos in die eerste helfte afgestaan nie.

“Dit was belangrik vir ons om vyf ligapunte te kry en ons was rêrig bly om daardie drie reg aan die einde te gaan druk.”

Twee drieë in die laaste tien minute, deur die plaasvervangerskrumskakel Ruben de Haas en die agtsteman Jeandré Rudolph, het aansien aan die telling gegee.

Puntemakers:

Cheetahs 28 (8): Drieë: Andisa Ntsila, Howard Mnisi, Ruben de Haas, Jeandré Rudolph. Doelskop: Reinhardt Fortuin. Strafdoele: Tian Schoeman (2).

Griekwas 9 (9): Strafdoele: Tinus de Beer (3).


Meer oor:  Ruben De Haas  |  Hawies Fourie  |  Bloemfontein  |  Superrugby Unlocked-Reeks  |  Cheetahs  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.