Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Krieket
KSA-hoës druk arm oor IKR-geleentheid

’n Verwoede armdrukkery het by Krieket Suid-Afrika (KSA) se hooftafel ontstaan tussen oudregter Zak Yacoob en Rihan Richards – onderskeidelik voorsitter van die tussentydse raad en die waarnemende president.

Zak Yacoob

Albei glo hulle het die mandaat om KSA by die Internasionale Krieketraad (IKR) te verteenwoordig. Ondanks twee weke se binnegevegte rondom dié kwessie, bly dit steeds onafgehandel.

Dit is ’n belangrike saak omdat die IKR midde in ’n verkiesing is. KSA se stem is belangrik vir die spel se internasionale magsbalans.

Greg Barclay van Nieu-Seeland en Singapoer se Imran Khwaja, ’n voormalige muurbalkampioen, is die twee kandidate vir die posisie van IKR-voorsitter.

Die stemproses vir die IKR-voorsitter bestaan uit drie stemrondes en Barclay is tans die voorloper nadat hy Woensdag se eerste ronde van stemme met 10-6 gewen het.

Die Kiwi het noue bande met die spel se Groot Drie – Indië, Engeland en Australië – terwyl Khawaja se veldtog geskoei was op ’n onderneming om die geldelike (en ander) behoeftes van kleiner lande in ag te neem.

Ondanks die plaaslike armdrukkery, was dit Richards wat Woensdag Suid-Afrika se stem in die geheime stemming uitgebring het. Hy sal dit môre weer doen in die tweede stemronde.

“Ek het hom gevra vir wie hy gestem het, maar hy wou my nie sê nie,” het Yacoob gister uit sy huis in Reservoir Hills, Durban, aan Rapport gesê.

“Ek vermoed hy het vir Nieu-Seeland gestem. Ek het ’n brief aan die IKR geskryf – dit is ’n taamlik ernstige probleem. Dit is ingewikkeld, want mense is verknog aan hierdie verteenwoordiging (by die IKR).

“Jy kan ’n saak vir albei kandidate uitmaak. Ek sien dit as iemand wat pro-ontwikkeling is, teen ’n kandidaat wat meer ’n tradisionele kapitalis is, as ek dit so kan stel. Ek dink dit gaan oor aan watter kant van die baarmoeder jy gebore is.

“Ek sou vir die kandidaat van Singapoer gestem het. Vir my is dit 55% in sy guns teen 45% vir die kandidaat van Nieu-Seeland.”

Rihan Richards

Richards, wat die Noord-Kaap op die lederaad verteenwoordig en by Beresford Williams as KSA se waarnemende president oorgeneem het, het gister aan Rapport gesê hy het by ’n verskeidenheid belanghebbendes, insluitend die lederaad, die spelersvereniging Saca en die KSA-bestuur, die mandaat gekry om Suid-Afrika se IKR-stem uit te bring.

Sekere bronne glo die lederaad se besluit van verlede week om nie die tussentydse raad aan te stel nie, was ’n slinkse plan om tyd te koop.

“Die aanvanklike besluit om nie die raad te bekragtig nie, was om vir hulle tyd te gee om vir Richards in plek te kry. Hulle het nou teësinnig die tussentydse raad aangestel, maar daar was ’n tydperk van twee weke waarin die lederaad dit nie gedoen het nie, totdat die minister (Nathi Mthethwa) gedwing is om sy tande verlede naweek te wys.”

Richards het egter steun uit sy lederaad. “Ek dink ’n krieketmens moet gaan (na die IKR) en Rihan het al ’n pad in die spel gestap, maar dis net my mening,” sê ’n lederaadslid.

Buiten vir die IKR-kwessie, word die tussentydse raad deur verskeie ander kwessies in die gesig gestaar. KSA se akte van inlywing (sy “grondwet”) moet aangepas word om ’n meerderheid onafhanklike direkteure in KSA se raad toe te laat. Die Fundudzi- forensiese verslag moet ook hanteer word.

“Dit is tydrowend, want dit is effens van ’n mynveld, maar ons maak goeie vordering,” sê Judith February, woordvoerder van die tussentydse raad.

“Ons moet ook begin aandag gee aan die feit dat daar te veel mense in KSA se bestuur is met waarnemende posisies en die feit dat hulle verskeie regsaksies van voormalige werknemers in die gesig staar.”

Die tydrowende aard van die proses het daarmee te make dat daar drie sentrums van mag in die spel is: die tussentydse raad, die lederaad en die KSA-bestuur.

February sê sy hoop die raad kan hul werk binne die aanvanklike tydraamwerk van drie maande afhandel.

“Mense is bereid om oor Kersfees te werk. Dit kan nie vir altyd voortsleep nie.”

Meer oor:  Ksa  |  Tussentydse Raad  |  Krieket Suid-Afrika  |  Ikg  |  Lederaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.