Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Hotelle omgekrap oor Santam wil appelleer
Santam en Sanlam se kantore in Sandton, Johannesburg. Foto: Elvira Wood

Dit is duidelik dat versekeraars nooit beplan het om eise vir die pandemie aan die gasvryheidsbedryf te betaal nie.

Selfs nie toe daar gesê is hulle wil eers regsekerheid daaroor hê nie.

Dit is die reaksie van die Gasvryheidsvereniging van Suid-Afrika (Fedhasa) nadat Santam Vrydag aangekondig het dat hy aansoek gaan doen om verlof tot appèl teen die hooggeregshof in Kaapstad se uitspraak oor die kwessie.

’n Volbank regters het Dinsdag met koste in die guns van Ma-Afrika Hotels en Stellenbosch Kitchens beslis.

Hulle het die eis saam met Insurance Claims Africa, ’n spesialismaatskappy wat versekeringseise namens ondernemings hanteer, ingedien.

LEES OOK: Pandemie-eise: Santam gaan appelleer, wil nie betaal

Die hof het beslis dat die versekeraar Ma-Afrika se eis moet betaal vir die tydperk wat die hotelgroep se deure weens die inperking gesluit was omdat hy dekking teen die ontwrigting van sy sakebedrywighede weens aansteeklike siektes by Santam gehad het.

Santam betwis die uitspraak op grond van veral die tydperk waarop die dekking van toepassing is.

Volgens Santam is versekering vir sake-onderbrekings net vir drie maande geldig. Die hof het egter beslis dat weens die uitwerking van die staat van inperking en die verwoesting van die Covid-19-pandemie is die tydperk waarvoor geëis kan word eintlik 18 maande.

Dit vermenigvuldig die eise van ondernemings met ses en bring die eise van die ICA se kliënte teen versekeraars nou op tussen R36 miljard en R42 miljard te staan.

Rosemary Anderson, voorsitter van Fedhasa, sê in ’n verklaring Santam se aansoek om appèl gaan die proses vertraag.

“Toe die koronavirus uitgebreek het, het ons lede geglo dat hierdie polisuitbetalings die broodnodige reddingsboei sou wees waarvoor hulle beplan het, net om te ontdek dat hul versekeraars wegstap van hul wetlike verpligtinge.

“Behalwe dat hulle nie die dekking verskaf het nie, het versekeraars hul gasvryheidsklante ook aan maande se vertragingstaktieke onderwerp, hulle gevra om herhaaldelik inligting in te dien, waarvan sommige heeltemal onredelik was, om net terug te keer met ’n weiering om te betaal.

“En nou dit: regsekerheid is verskaf en tog vertraag hulle steeds die proses,” sê sy.

En nou dit: regsekerheid is verskaf en tog vertraag hulle steeds die proses.
Rosemary Anderson

Anderson waarsku dat die bedryf nie vinnig gaan vergeet hoe sleg die versekeringsbedryf hulle behandel het nie.

Sy sê ook daar is geen twyfel dat die versekeraars nie hul kliënte regverdig behandel het nie.

“Die pandemie het verwoesting gesaai in die gasvryheidsbedryf, met honderde maatskappye en werkgeleenthede wat verlore gegaan het.

“Hoewel grense weer oop is, sal dit naïef wees om te dink dat dinge weer normaal is vir ons gasvryheidsondernemings,” sê sy.

Anderson wys daarop dat baie lande steeds nie internasionale reise toelaat nie.

Ondernemings sal ook nie meer salarisse vir werknemers van die Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid-19-Ters kan eis nie. Dit volg nadat die departement van arbeid en indiensneming aangekondig het, dat hy geen eise ná 15 Oktober sal aanvaar nie.

Baie ondernemings wat hul deure reeds moes sluit weens die impak van die pandemie sal dalk nou nie meer eise teen versekeraars kan indien nie.

“Fedhasa doen dus ’n beroep op versekeraars om die regte ding te doen en die verwoestende verliese wat die gasvryheidsbedryf nog sal ly, te stuit deur te betaal wat hulle verskuldig is.”

Meer oor:  Fedhasa  |  Santam  |  Rosemary Anderson  |  Pandemie-Eise  |  Hotelle  |  Gasvryheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.