Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Maatskappye
Covid: Appèl laat eisers nog wag
Ryan Woolley, uitvoerende hoof van Insurance Claims Africa, wat die versekeringseise namens die toerismebedryf behartig.

Polishouers sal waarskynlik eers teen die middel 2021 vir seker weet of versekeraars hul eise vir bedryfsonderbreking weens Covid-19 sal uitbetaal.

Dit volg nadat Santam Vrydag gesê het hy gaan aansoek doen om verlof tot appèl teen ’n uitspraak van die hooggeregshof die afgelope week wat hom aanspreeklik hou vir polishouers se pandemie-verwante eise.”

Die appèlsaak sal die uitbetaling van eise net verder uitstel, sê Elna du Toit, van Ma-Afrika Hotels – een van die eisers. “Dit sal dus ’n jaar wees sedert polishouers die eerste keer bedryfsonderbrekingseise ingedien het.”

’n Volbank regters het eenparig in die guns van Ma-Afrika Hotels en Stellenbosch Kitchens beslis, wat saam met ICA ’n eis teen Santam ingedien het. Die versekeringsmaatskappy moet ook die regskoste betaal.

Ryan Woolley, uitvoerende hoof van Insurance Claims Africa (ICA), die regsfirma wat versekeringseise namens die toerismesektor behartig, sê as Santam se appèlaansoek slaag, hoop hy die saak sal darem teen Februarie volgende jaar aangehoor word. “Dan volg die uitspraak hopelik drie maande later.”

Santam se aankondiging dat hy om verlof tot appèl gaan aansoek doen, is nie onverwags nie.

Guardrisk, die versekerings­filiaal van Momentum, het ook geappelleer teen ’n hooggeregshofuitspraak in Julie vanjaar waarin hy beveel is om die bedryfsonderbrekingseis van Café Chameleon te betaal. Die appèlsaak is veronderstel om môre in die appèlhof in Bloemfontein aangehoor te word, maar Santam en Guardrisk het gesamentlik ’n versoek aan die appèlhof gerig dat die saak uitgestel word. Die versekeraars wil hê die twee appèlsake moet saam aangehoor word.

Ma-Afrika Hotels en Café Charmeleon het die versekeraars se aansoeke amptelik teengestaan.

Prof. Birgit Kuschke, direkteur van die prokureursfirma Kuschke Prozesky wat ook aan die Universiteit van Pretoria se eenheid vir versekeringsreg verbonde is, sê die hooggeregshof het Dinsdag in sy uitspraak verwys na regspraak in onder meer Brittanje, die VSA, Duitsland, Kanada, Nederland, Australië en Nieu-Seeland waar beslis is die uitbreking van Covid-19 en die gevolglike inperking was ’n onvermydelike en noodsaaklike gevolg van die pandemie.

Santam sê hy het die gevolge van die hofuitspraak bespreek met sy herversekeraar, wat saamstem dat die uitspraak op appèl geneem moet word.

Prof. Robert Vivian, dosent in finansies en versekering aan die Universiteit van die Witwatersrand, sê alle primêre versekeraars soos Santam en Guardrisk verseker ’n gedeelte van hul risiko by herversekeraars, berig Maya Fisher-French van Rapport se susterskoerant City Press.

Volgens Vivian was dit onwaarskynlik dat elke land se versekeraars met dieselfde risiko op een slag (Covid-19) te kampe sou hê.

Alhoewel primêre versekeraars genoeg reserwes behoort te hê om eise te eerbiedig, is dit wel kommerwekkend dat versekeraars oor die wêreld heen hulle op dieselfde tyd vir dieselfde gebeurtenis op herversekeraars beroep. Dit kan die internasionale reserwes van herversekeraars uitput, sê Vivian.

Intussen hoop Woolley as die versekeraars se appèlsake misluk, sal hulle dit nie tot in die konstitusionele hof voer nie.

Kuschke sê dis “ontstellend” dat Santam die mening van die Gedragsowerheid van die Finansiële Sektor (FSCA) klaarblyklik in die wind slaan.

In sy hofstukke het Santam aangevoer die eisers het hulle verlaat op mediaverklarings van die FSCA (die liggaam het hom by die Café Chameleon-uitspraak geskaar). Maar volgens Santam is die standpunte van die FSCA “irrelevant en ongegrond” en moet dit dus verwerp word.

“Santam se houding is dus eintlik dat ons ’n waghond (die FSCA) het wie se tande getrek is,” sê Kuschke.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.