Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
EFF: ‘Ons dreig niemand . . .’
Die EFF se arbeidspan Donderdag in Phuthaditjhaba (voorheen QwaQwa) in die Vrystaat. Foto: Hlengiwe Mkhaliphi

Enige maatskappy wat selfs net “huiwer” om met die EFF se nuutgestigte arbeidskantoor saam te werk, sal met die “mag van die massas” te doen kry, het die hoof van die arbeidskantoor, die EFF-LP Hlengiwe Mkhaliphi, Vrydag in ’n onderhoud met Rapport gesê.

Sy ontken egter dat dít op “intimidasie” neerkom.

Rapport het Mkhaliphi genader om duidelikheid te kry oor die EFF se arbeidstrategie ná talle betogings deur EFF-lede by sake-ondernemings oor arbeidstwiste, wat insluit die trae uitbetaling van Covid-19-Ters-voordele aan werkers wat daarvoor kwalifiseer.

Dit lyk egter al hoe meer of bykans enige arbeidsgeskil genoeg is om die EFF se “vegters” te laat mobiliseer.

Die afgelope week het ’n video in Rapport se hande beland van die EFF-LP Naledi Chirwa waarop gesien en gehoor kan word hoe sy ’n vulstasie-eienaar in Kareedouw in die Oos-Kaap dreig.

In die video sê Chirwa vir die eienaar dat sy die vulstasie sal sluit as hy weer sou toelaat dat vroue saans alleen daar werk.

“Wie dink jy is jy?” gil Chirwa in die video op die man.

“Dit is die EFF, en ek is ’n lid van die f*kk*n parlement. Hierdie goed gaan nie werk nie. Jy’s ’n lafaard . . . Ongelukkig vir jou is ek nie net enige mens nie, ek’s ’n lid van die f*kk*n parlement.”

Rapport wou by Mkhaliphi weet of dié tirade dan nie op “intimidasie” neerkom nie.

Die EFF se arbeidspan Vrydag in Secunda. Foto: Hlengiwe Mkhaliphi

Hierop het sy gesê: “Ons intimideer niemand nie. As ’n maatskappy huiwerig is (om saam met ons te werk), dan moet ons mag gebruik, en daardie mag is die mag van die massas. Maar ons probeer altyd eers aan ’n tafel met die bestuur sit.”

“Ons dreig niemand nie,” het sy gesê.

Mkhaliphi het met die onderhoud Vrydag pas teruggekeer van ’n betoging by die Evander-goudmyn in Secunda waar die EFF se arbeidspan ’n memorandum aan die mynbestuur oorhandig het oor onbetaalde Covid-19-Ters-voordele en enkele ander sake.

Dié voordeel word namens werkers geëis by die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) en die EFF probeer die wanbetaling daarvan beveg.

Vrydag se betoging was Mkhaliphi se tweede die afgelope week hieroor.

Donderdag was sy by ’n betoging by JV Clothing in Phuthaditjhaba (voorheen QwaQwa) in die Vrystaat, waar sy beweer ook probleme met die betaling van Covid-19-Ters-voordele is.

Verlede week het sy “ná ’n groot gesukkel” ’n onderhoud gekry met die uitvoerende hoof van die Sun International-hotelgroep, Andrew Leeming, ook oor die Ters-voordeel.

Op dié vergadering het Leeming aangedui dat hulle lank vat om die uitbetaling te doen omdat dit ’n enorme administratiewe proses is om meer as 8 000 werkers te betaal.

Hy het by navraag bevestig die werkers is die afgelope week betaal.

Vroeër in November is die aflewer-apteek Pharmacy Direct se arm ook gedraai om die Covid-19-Ters-voordele wat hulle geëis het, terug te betaal aan die departement van indiensneming en arbeid. Dit nadat die EFF-leier, Julius Malema, met ’n massabetoging buite Pharmacy Direct se kantore in Centurion begin het.

Naledi Chirwa, EFF-LP, dreig ’n vulstasie-eienaar in Kareedouw in die Oos-Kaap.

Die DA-LP Andrew Whitfield het verlede week getwiet oor ’n sakeman in Port Elizabeth wat deur “EFF-lede geïntimideer is” nadat werknemers ’n saak by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verloor het.

Rapport is bewus van soortgelyke voorvalle in die Wes-Kaap en Limpopo. Die EFF ontken egter dat die arbeidskantoor ’n manier vir die party is om die vakbondwese te betree.

“Ons sentrale bevelstruktuur (die EFF se hoogste struktuur) het in September daaroor gepraat, maar daar is besluit om nie ’n rigting te volg waardeur ons ’n vakbond stig nie,” het Mkhaliphi gesê.

Sy erken wel dat die besluit om die arbeidskantoor te stig, in Junie geneem is om “die vakuum te vul wat vakbonde laat”.

“Dit is ’n vakuum wat gekom het ná die inperking, waarna ons gesien het dat alle werknemers onder hul werkgewers ly.”

Rapport wou by haar weet waarom die EFF dan telkens ’n verlenging van ’n strenger inperking ondersteun het.

“Ons is ’n organisasie wat die armes ondersteun, en sal hulle altyd eerste stel,” het sy gesê.

Dit is die EFF, en ek is ’n lid van die f*kk*n parlement. Hierdie goed gaan nie werk nie. Jy’s ’n lafaard . . . Ongelukkig vir jou is ek nie net enige mens nie, ek’s ’n lid van die f*kk*n parlement.
Naledi Chirwa

Mkhaliphi sê die arbeidskantoor het ook nie langtermyndoelwitte nie: “Ons fokus nou op die Ters-voordele, maar later sal ons weer saamkom en beoordeel wat volgende is.”

Rapport het vir Leeming gevra waarom hy ’n vergadering aan Mkhaliphi toegestaan het, waarop hy geantwoord het dat Mkhaliphi op die vergadering aangedring het omdat sy ’n parlementslid is.

“Ons is baie positief oor hoe ons die Ters-betalings hanteer en ons is trots op hoe ons as ’n maatskappy altyd oop en deursigtig is, so ons was gelukkig om die vergadering te hou as dit werknemers se bekommernisse die hoof sou bied,” sê Leeming.

Hy het bevestig dat sy maatskappy geen opdragte van die EFF ontvang het nie.

Meer oor:  Naledi Chirwa  |  Arbeidsake  |  Intimidasie  |  Eff  |  Vakbonde  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.