Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Dis ’n vat so vir vakbonde
Gideon du Plessis

Die spanning binne die driepartyalliansie van die ANC, SAKP en Cosatu was hoog op die agenda vir die vakverbond Cosatu se kongres verlede week.

Hierdie spanning bestaan reeds geruime tyd en dit het in 2014 vanuit Cosatu-geledere daartoe gelei dat Cosatu se eertydse hoofsekretaris, Zwelinzima Vavi, en die metaalwerkersvakbond Numsa Cosatu verlaat het. Vavi en Numsa het toe die opposisie-vakbondfederasie Saftu gestig. Hoewel voorgenoemde gebeure hoofsaaklik deur ’n pro- en anti-Zuma-sentiment gedryf is, was daar toe reeds ’n hewige debat in Cosatu-geledere oor hul voortgesette verbintenis tot die driepartyalliansie.

Die spanning vier nou hoogty met Cosatu se onlangse nasionale wegbly-aksie oor kwessies soos korrupsie en geen verhogings vir staatsamptenare.

Die Cosatu-dinamika oor die geskil oor salarisverhogings in die staatsdiens en die onttrekkingsdebat kan teruggevoer word na die staatsdiensvakbonde wat die private sektor se vakbonde binne Cosatu onttroon het. Die staatsdiensvakbonde is nou die grootste vakbondgroepering in die federasie en hul griewe beïnvloed Cosatu se strategiese besluitneming.

Benewens die geskil oor loonverhogings kan die alliansie-onttrekking ook aangevuur word deur nouer samewerking tussen die ideologies belynde Cosatu en Saftu en ’n verdere toename in werkloosheid. As die vervolging van korrupte politieke ampsdraers nie na behore geskied nie en as die regering aan strenger IMF-besparingsmaatreëls toegee, kan dit ook tot onttrekking aanleiding gee.

’n Besluit van Cosatu om van die alliansie weg te breek, kan slegs geneem word op ’n nasionale kongres van Cosatu. Die volgende kongres vind aan die einde van 2021 plaas. Cosatu behoort wel in die opbou na die 2021- munisipale verkiesing weer geluide te maak om nie die ANC in die verkiesing te steun indien daar nie aan hul eise voldoen word nie.

Aanstaande jaar is moontlik nog té vroeg vir ’n wegbreek en die ANC behoort met pres. Ramaphosa se bemiddelingsvaardighede ’n eerste amptelike poging van Cosatu om onttrekking te bewerkstellig, af te weer.

Die spanning in die alliansie kan breekpunt bereik teen 2024, wanneer Suid-Afrika se volgende nasionale verkiesing én Cosatu se nasionale kongres gehou word. Cosatu se grondwet maak voorsiening vir ’n spesiale kongres en die alliansiekwessie sal die hou van ’n spesiale nasionale kongres regverdig, wat beteken dat skeuring vroeër kan geskied. Die moontlikheid van samesmelting tussen Cosatu en Saftu sal ’n alliansieskeuring versnel.

Wat Cosatu in gedagte sal moet hou, is dat hy moontlik in die regering se hande kan speel as hy uit die alliansie wegbreek. Oudpres. Kgalema Motlanthe het in 2013 in ’n gesprek met Solidariteit gesê die alliansie het na sy mening sy doel gedien, dat Cosatu die regerende party in sy regeerfunksie begin rem en dat ’n skeuring voordele vir die ANC sal inhou.

Cosatu-lede het die onlangs landwyd in verskeie sentra betoog.

Cosatu moet ook in gedagte hou dat sy strategiese posisionering en die regering se hantering van Cosatu bepaal watter invloed ander vakbonde het. Toe die regering Cosatu tot so twee jaar gelede nog in alle strategiese besluite geken het, was hy (die regering) genoodsaak om ook breër met ander vakbonde en vakbondfederasies te konsulteer om beskuldigings van vooroordeel jeens Cosatu teen te werk.

Só is die profiel van ander vakbondgroeperinge verhoog, terwyl die sensitiwiteit wat die regering teenoor vakbonde geopenbaar het, meegebring het dat werkgewers meer toegeeflik teenoor populistiese vakbonde was. Met die regering wat Cosatu gereelder die rug toekeer, gebeur dit dat groot werkgewers meer minagtend begin optree teenoor veral populistiese vakbonde se eise tydens afleggings- en salarisonderhandelingsprosesse vanweë minder versigtigheid oor moontlike regeringsinmenging.

Die gevaar vir Cosatu is dan dat die einde van die driepartyalliansie die einde van vakbonde, en veral populistiese vakbonde, se mag kan beteken.

  • Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit

Meer oor:  Cosatu  |  Sakp  |  Anc  |  Solidariteit  |  Gideon Du Plessis  |  Vakbonde  |  Arbeidsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.