Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Afgradering is ‘mosie van wantroue’ in Cyril, Tito

Hoewel die middernagtelike afgradering van staatseffekte tot erger rommelstatus nie onverwags was nie, bly dit slegte nuus vir Suid-Afrika.

Tito Mboweni, minister van finansies, moet die magtige staatsdiensvakbonde oorreed om verhogings prys te gee ten einde die staat se besteding te beheer.

Magda Wierzycka, uitvoerende hoof van die batebestuursfirma Sygnia, sê op Twitter die graderingsbesluite beteken meer geld sal nou nodig wees om rente op staatskuld te betaal, en “minder sal beskikbaar wees om die ekonomie aan die brand te skop. Dis ’n regstreekse uitwerking van die regering se onvermoë om besteding te besnoei, vererger deur Covid-19.”

Teen 10:30 Saterdagoggend het Tito Mboweni, minister van finansies, en die tesourie nog nie ’n woord gerep oor die afgraderings nie. Dis ongewoon – die kommunikasiespan van die tesourie sit gewoonlik met hul vingers op hul toetsborde en stuur kommentaar op graderingsbesluite uit sodra dit ontvang is, ongeag die tyd van die nag.

’n E-pos met vrae is ook nog nie beantwoord nie.

Daar is ’n gebrek aan vertroue of die moeilike besluite – soos oor die beperking van die problematiese salarisrekening – wel geneem gaan word ten einde die land se staatsdiensgeldsake te help stabiliseer.
Prof. Raymond Parsons van NWU

Moody’s Investors Service het staatseffekte met een vlak tot twee vlakke onder beleggingsgraad afgegradeer. Fitch Ratings het ’n afgradering tot drie vlakke onder beleggingsgraad gedoen. Albei het hul vooruitsigte op die graderings negatief gehou.

S&P Global Ratings het effens vroeër aangekondig hy verander nie aan sy graderings nie en ook nie aan die stabiele vooruitsig daarop nie.

LEES OOK: Moody’s en Fitch gradeer af; S&P nié

Al drie die gradeerders het twyfel uitgespreek oor die kern van Mboweni se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR), naamlik dat die staat se salarisrekening in toom gehou moet word. Mboweni het selfs gesê geen verhogings gaan vir nog drie jaar toegeken word nie, nadat die staat besluit het om vanjaar geen verhogings toe te staan nie, in weerwil van ’n loonooreenkoms wat drie jaar gelede met vakbonde beding is.

S&P en Fitch het albei in hul reaksie daarop gewys dat die staat nog nooit voorheen daarin kon slaag om binne sy begroting te bly wanneer dit by loononderhandelinge kom nie – selfs toe die verhogings op die tafel baie minder ambisieus was. Moody’s het die plan as “twyfelagtig” beskryf.

Razia Khan, hoofekonoom van Standard Chartered, het op Twitter gesê dit lyk vir haar asof reeds aanvaar word dat die regering die hofsaak oor vanjaar se loononderhandelinge gaan verloor en gedwing gaan word om wel die verhogings, van bo die inflasiekoers, toe te staan. Die saak word in die eerste week van Desember aangehoor.

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se bestuurskool, sê in ’n verklaring die agentskappe se ontledings wys dat daar ’n “geloofwaardigheidsgaping” is oor of die MTBR en pres. Cyril Ramaphosa se heropbou-en-herstelplan deurgevoer gaan word.

moody's, fitch, s&P
Die stand van Suid-Afrika se kredietgraderings ná Vrydagnag se besluite.

“Die risiko’s vir inwerkingstelling word beskou as stygend. Daar is ’n gebrek aan vertroue of die moeilike besluite – soos oor die beperking van die problematiese salarisrekening – wel geneem gaan word ten einde die land se staatsdiensgeldsake te help stabiliseer.”

Khan sê dis kommerwekkend dat sowel Moody’s as Fitch die land nie net afgegradeer het nie, maar hul negatiewe vooruitsig behou het. Dit word alom beskou as ’n mosie van wantroue in die staat se plan vir fiskale konsolidasie.

Die onafhanklike landbou-ekonoom Fanie Brink sê die verhoogde rentekoste wat die afgradering veroorsaak, is nie die grootste probleem nie, “maar wel die buitensporige wanbesteding van belastingbetalers se geld, stygende begrotingstekorte en staatskuld wat nooit sal verminder nie”.

“Dit sal die ekonomie binne die volgende twee tot drie jaar finaal oor die afgrond laat stort.”

Brink trek te velde teen die kredietgradeerders, wat na sy mening nie genoeg kritiek op die staat se ekonomiese beleid uitspreek nie.

“Die kredietgradeerders sal veel eerder die ANC-regering moet oorreed om van sy vernietigende ideologie van sosialisme en kommunisme af te sien en ’n totale terugkeer na ’n kapitalistiese ekonomiese stelsel te maak. Hul eie land, die VSA, is vir baie dekades lank al die bastion van kapitalisme wat vandag die enigste stelsel is wat wêreldwyd ekonomiese groei van die vraag- en aanbodkant van die ekonomie kan skep wat deur die winsmotief gedryf word.”

Sowel S&P as Moody’s het wel gewys op die konflik binne die ANC tussen faksies wat hervorming voorstaan en dié wat daarteen gekant is. Moody’s sê die onbuigsaamheid van die arbeidsmark en die magtige vakbonde gaan hervorming moeilik maak.

Brink sê: “Die ANC-regering se beleid van sosialisme wat deur die leerstelling van kommunisme op die ekonomie en die land afgedwing word, behoort deur die kredietgradeerders verwerp te word as hulle regtig iets vir die land wil beteken, anders sal hul graderings verdere tydmors wees en geen verskil maak nie.

“Die regering en sy sosiale vennote, soos die arbeidsvakbonde en die georganiseerde sakesektor, se ‘nuwe ekonomiese herstelplan’, wat daarop gemik is om ‘die skade wat Covid-19 aangerig het te herstel’, is suiwer ’n skerm waaragter die regering gerieflikheidshalwe wegkruip om die vernietiging wat hy reeds aan die ekonomie aangerig het lank voordat die pandemie uitgebreek het te verberg.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.