Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Eiendomme
Treur nie oor leë kantore, pak dit vol

Soos die lappop op die ashoop, lê daar waarskynlik vir kantoorruimte ’n droewe tyd voor ná Covid-19. Al hoe meer mense werk minstens gedeeltelik van die huis af, wat beteken dat kantoorblokke, waarvoor eienaars reeds voor die epidemie gesukkel het om huurders te kry, toenemend kan leegstaan.

Wetton Works, die nuwe mini-nywerheidspark wat ontwikkel is uit ’n kantoorblok wat leeg gestaan het.

Dis nou tensy hulle vir ’n ander doel aangewend kan word. Ou kantoorblokke wat in onbruik verval het, word geruime tyd reeds omskep in wooneenhede, en nou het ’n Kaapse ontwikkelaar gewys dat ’n vervalle kantoorblok ook ’n tweede lewe kan kry as ’n mini-nywerheidspark.

Rael Levitt, uitvoerende hoof van Inospace, wat ’n verskeidenheid nywerheidsparke en stoorplekke in Suid-Afrika en Brittanje besit, het ’n ou kantoorblok in Wetton omskep in pakhuise en ’n verspreidingsentrum vir 35 ondernemings. Die gebou in die suidelike voorstede van Kaapstad heet nou Wetton Works. Dit was voorheen onooglik en is gereeld verniel.

Nou huur van kosprodusente tot e-handelaars nywerheidspasie in huureenhede van tot 200 m² elk. Daar is ’n gemeenskaplike ontvangsarea, ’n koffiewinkel en ’n raadsaal wat almal deel.

Gedurende die inperking weens Covid-19 het e-handel in Suid-Afrika na raming met tot 40% gegroei, nadat dit voor die pandemie minder as 2% van kleinhandel uitgemaak het.

Levitt sê baie handelaars wat tradisioneel fisieke winkels gehad het, het oorgeslaan na e-handel. “Hulle het vinnig besef dat hulle verspreidings- en stoorplekke nodig het en dit het die vraag na kleiner nywerheidsparke laat toeneem.”

Volgens Levitt is dit heelwat goedkoper om kantoorblokke in kleiner nywerheidsparke soos Wetton Works te omskep as wat dit is om wooneenhede daarvan te maak. “Stoorplekke is basies vier mure met ’n dak op. Die grootste werk is om die kantoor-komponente te verwyder – die res staan reeds daar,” sê hy.

’n Verlate Regent Street in Londen, tuiste van groot modewinkels, op 30 Maart. Foto: Getty Images

Die pandemie het kantoorruimtes wat reeds in ooraanbod was voor die pandemie ’n verdere knou toegedien. Wêreldwyd vra beleggers wat hulle kan doen om nuwe gebruike te vind vir winkelsentrums en kantoorblokke wat leegloop.

Nywerheidsparke met veelvuldige huurders is goedkoper om te huur as tradisionele kleinhandel- en kantoorruimtes.

Levitt beoog om in die volgende twee tot drie jaar meer kantoorblokke in nywerheidsparke te omskep.

“Daar is reeds ’n afname in die waarde van kantoorruimtes as ’n eiendomsbateklas. Ons verwag pryse sal nog verder daal,” sê hy.

Meer oor:  Inospace  |  Verhurings  |  Kantoorruimte  |  Kantore  |  Eiendomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.