Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Begroting
‘Klap in gesig’ van onderwysers, res van staat

Die voorstel dat hulle daartoe instem dat hul salaris vanjaar en nog drie jaar daarna onveranderd bly – terwyl hul lewenskoste ook styg – word deur vakbonde beskryf as ’n klap in die gesig van hardwerkende staatsamptenare.

Lede van Cosatu betoog onlangs in Pretoria, onder meer teen die eensydige opskorting van salarisverhogings en teen geweld teen vroue. Foto: Isabel Venter

Daarby dreig vakbonde dat dit dienslewering gaan skaad, juis in departemente soos onderwys wat belangrik is in die stryd om die ekonomie te herbou.

Vakbonde het Donderdag te velde getrek teen Tito Mboweni, minister van finansies, se mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR), waarin die besnoeiing van die staat se salarisrekening die kruks is van die staat se poging tot fiskale konsolidasie.

Die MTBR verwag dat die salarisrekening van vanjaar tot 2024 met byna R311 miljard besnoei moet word. Sowat 80% van die besnoeiings moet plaasvind in gesondheid, onderrig en kultuur, en verdediging en veiligheid. Dit sluit die departemente van basiese en hoër onderrig, die Suid-Afrikaanse Polisiediens, weermag en gesondheid in.

Dis ’n oorlogsverklaring, ’n aanslag op kollektiewe bedinging – en dit gaan lei tot ’n agteruitgang in dienslewering deur staatsamptenare.

Die onderwysvakbond Sadtu sê die MTBR maak ’n bespotting van pres. Cyril Ramaphosa se beroep dat ’n bekwame en doeltreffende staat gebou moet word.

Honger, oorwerkte en gedemoraliseerde werkers sal nooit in ’n posisie wees om die gehaltediens te lewer waaroor die president van die land altyd praat nie.
Sadtu

“Honger, oorwerkte en gedemoraliseerde werkers sal nooit in ’n posisie wees om die gehaltediens te lewer waaroor die president van die land altyd praat nie.”

Sadtu sê Mboweni se verwysing daarna dat staatsamptenare se salaris die afgelope vyf jaar met gemiddeld 7,2% per jaar gestyg het, wat baie meer is as die inflasiekoers, “wek die indruk dat staatsamptenare daarom nie verhogings verdien nie”.

Sadtu sê onderwysers bevind hulle in die “verlore middelklas” en is baie kwesbaar. “Hulle word as te ryk beskou vir gratis tersiêre onderrig vir hul kinders, maar kan dit nie bekostig nie. Hulle word ook as te ryk vir behuisingsubsidies beskou, maar kan nie daarsonder huis koop nie.”

Sadtu sê enige ekonomiese herstelplan moet goeie onderrig as ’n belegging beskou; besnoeiing van die onderwysbegroting is strydig daarmee.

“Ons verstaan die land se skuldsituasie, maar – om die minister se woorde te eggo – ons kan nie van die staatsdiens verwag om die las van nasiebou alleen te dra nie.”

Mboweni het dié stelling opgevolg met ’n beroep dat salarisse van alle bestuurders in die staatsdiens en in staatsondernemings verminder word.

Maar daar is geld vir die SAL

Die Vereniging vir Staatsamptenare (VSA), een van die grootste vakbonde vir staatsamptenare, sê dis teleurstellend dat nog geld wéér vir die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) gevind word, plaas dat die regering geld vind om sy loonooreenkoms met staatsamptenare te eerbiedig.

mtbr2020
Tito Mboweni, minister van finansies, Woensdag in die parlement. Foto: Jaco Marais

Dis ’n verwysing na die driejaarooreenkoms wat in 2018 gesluit is wat verhogings van bo die inflasiekoers vir vanjaar beding het, en wat die regering eensydig besluit het om nie in werking te stel nie. Die hofsaak hieroor vind in Desember plaas, maar intussen het die tesourie die bom oor besnoeiings en bevriesings van salarisse in die MTBR laat bars.

Die VSA sê dis duidelik dat daar ’n aanslag op kollektiewe bedinging in die staatsdiens is en dat die regte waarvoor werkers so hard baklei het, geminag word.

“Staatsamptenare verseker dat dienste volgehou word, ondanks hierdie minagting van hul regte en aanslagte op hul integriteit. Dít terwyl baie van die geboue waarin hulle werk, uitmekaar val en daar ernstige personeeltekorte in kritieke departement is, wat tot buitensporige werkure lei.

“Daar is duidelik geen waardering vir staatsamptenare se werk nie.”

Aanslag op kollektiewe bedinging

Die VSA sê daar is nie sprake van onderhandelinge nie aangesien die regering nie die bedingingsraad vir die staatsdiens (PSCBC) genader het met sy voorstelle voordat dit in die parlement aangekondig is nie. “As die werkgewer gekies het om arbeid eers deur die PSCBC te nader, sou die minister se stelling dat daar vir vier jaar geen verhogings sal wees nie, nie deur en deur gesien word as ’n ondermyning van kollektiewe bedinging in die staatsdiens en ’n blatante disrespek vir vakbonde nie.”

Die VSA beskou die minister se stellings gevolglik as ’n “regstreekse oorlogsverklaring teen arbeid”.

Werkers het die reg om teen inflasie beskerm te word en op ’n bestaansloon sodat hulle na hul gesinne kan omsien.
Cosatu

Nehawu, ’n vakbond wat onder meer gesondheidswerkers verteenwoordig, waarsku dat die salarisbesnoeiings tot die ineenstorting van dienslewering sal lei, veral aan arm en plattelandse gemeenskappe.

Nehawu pleit by die ANC se uitvoerende komitee om Mboweni “tot orde te roep” sodat die ANC nie sy “kernkiesers” vervreem nie.

Die vakbond sê die MTBR gaan die ANC sy “legitimiteit, geloofwaardigheid en stemme” kos in volgende jaar se munisipale verkiesing en die nasionale verkiesing van 2024.

Die vakverbond Cosatu het sy “misnoeë” uitgespreek “met die tesourie se roekelose obsessie met die verswakking van die staatsdiens”. Cosatu sê die regering moet ophou om staatsamptenare te “boelie”.

“Die een oomblik is hulle noodsaaklike diens en heldhaftige frontlinie-werkers, maar wanneer dit by vergoeding kom, word hulle as weinig meer as slawe behandel nie.”

Cosatu sê hy aanvaar die bevriesing van senior bestuurders en politici se salarisse, maar beskou enige verwysing na die bevriesing van laer-inkomste-staatsamptenare se vergoeding as ’n aanval op kollektiewe bedinging.

“Ons sal die regering eers as ernstig beskou as hy die buitensporige salarisse en byvoordele van die uitvoerende en bestuursvlakke van alle regeringsfere verminder.”

Dit sluit in die byvoordele wat ministers geniet. Cosatu eis ook dat die aantal ministers en adjunkministers verminder word.

“Werkers het die reg om teen inflasie beskerm te word en op ’n bestaansloon sodat hulle na hul gesinne kan omsien.”

Cosatu sê die regering moet eerder vermorsing en korrupsie uitskakel voordat hy salarisse besnoei.

Meer oor:  Sadtu  |  Nehawu  |  Cosatu  |  Mtbr2020  |  Dienslewering  |  Begroting  |  Tesourie  |  Mtbr  |  Staatsdiens  |  Staatsamptenare  |  Stakings  |  Vakbonde  |  Staatskuld  |  Staatsondernemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.