Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leef
Hou só jou rondloperkat tuis

’n Venster-catio met kunsgras.
Is jy al moedeloos van kommer oor jou katte wat rondloop? Dalk is dit tyd vir ’n katstoep, skryf Jeanne-Marié Versluis.

Nadat vier van haar katte binne nege maande naby haar huis doodgery is, was Christine Henning radeloos.

Haar huis is reg langs die besige oprit van ’n groot meenthuiskompleks in Pretoria-Oos. Nadat die vierde kat doodgery is, het sy besef sy kan nie weer ’n kat kry tensy sy hom in haar erf kan hou nie.

Haar oplossing het gekom van Morné Combrink van Pet Safety Solutions, ’n maatskappy met takke in Pretoria en Kaapstad wat daarin spesialiseer om katte veilig in jou erf te hou.

Combrink het vir Henning die tuinmuur aan die agterkant van die huis aangepas sodat haar twee nuwe katte, Poppa en Kolla, nie oor die muur kan spring nie.

’n Gaasdraad (mesh) is teen ’n hoek aan die bo- en binnekant van die baksteenmuur aangebring. As die katte teen die muur opspring, is die draad soos ’n afdakkie.

Die boom naby die tuinmuur is bo die eerste mik horisontaal met gaasdraad afgesper. Die katte kan dus ook nie die boom as ’n ontsnaproete gebruik nie.

Christine Henning het ’n strikkie op die hoek van die draadheining aangebring sodat sy nie haar kop daarteen stamp nie.

’n Mens sien skaars die draad, want dit pas in by die kompleks se kleurskema.

Benewens katbestande omheinings soos Henning s’n bou Pet Safety Solutions ook “catio’s”.

“Dis is patio’s vir katte. Die catio is ’n verlengstuk van die huis en die kat kan van die huis na die catio gaan.”

Die goedkoopste oplossing is venster-catio’s vir R3 500 tot R4 000.

Catio’s word al lank in lande soos Nieu-Seeland, Australië en Engeland gebruik, maar dis nog onbekend in Suid-Afrika.

Combrink is ’n metallurgiese ingenieur, maar sy liefde vir diere het hom twee jaar gelede ’n heel ander rigting laat inslaan.

“Ek en my vrou het 15 katte, maar mense weet dit skaars omdat ons katte nie uit die erf kan gaan nie,” sê hy.

Hy maak aanpassings sodat dit nie afbreuk doen aan die huis en tuin se voorkoms nie. Die goedkoopste oplossing is venster-catio’s vir R3 500 tot R4 000.

Kolla die mannetjieskat kan net klim tot op die eerste mik. Dan keer ’n draadmandjie hom.

’n Houer word om die vensters gebou.

Dit herinner aan ’n komvenster waarin die kat kan sit of lê.

Groter catio’s, wat ’n verlengstuk van die huis is, word van aluminium of pale (gum poles) gebou. Dit kos gemiddeld R15 000, maar die prys word bepaal deur die eienaar se behoeftes.

Die kat moet skaduwee en ’n sonkol daarin hê en die grond moet verkieslik gelyk wees, sê Combrink. Die binneruim moet interessant wees, soos met krappale, hangmatjies en klimrame. Die vloer kan met kunsgras bedek word.

Vir ’n tuin-inperking kan gaasdraad of rollers op die muur aangebring word.

Vir ’n tuin-inperking kan gaasdraad of rollers op die muur aangebring word. ’n Roller werk soos volg: As ’n kat spring, moet hy met sy voorpote aan iets haak om oor te kom. Maar wanneer sy pote die rollers tref, gly hy net af. As die tuinmuur te laag is vir enige van dié aanpassings kan die muur verhoog word met gladde, deursigtige polikarbonaat-plate.

Bome kan ook beveilig word. Die kat kan klim tot op sekere takke, maar dan keer ’n draadmandjie verdere klimmery.

“Baie mense sê hul katte is gewoond daaraan om rond te loop en hulle kan nie die kat inperk nie. Maar wat mense nie besef nie, is dat dit baie stresvol vir katte is wat rondloop.”

Hulle moet heeltyd op die uitkyk wees vir ander katte, honde, roofdiere en motors. Hulle kan ook siektes kry.

Combrink sê baie woonkomplekse verbied inwoners om katte aan te hou weens probleme met rondloperkatte.

’n Catio van binne.

Hy glo sy oplossings kan mense in staat stel om wel hul troeteldiere aan te hou.

Hoe voel Kiets?

Karin Pienaar, hond-en-katgedragskenner van die Centre of Applied Pet Ethology, sê die kat se nuwe (kleiner) omgewing moet net so stimulerend soos die ou een wees.

As jy vir jou katte genoeg geleenthede gee om te ‘werk’ vir hul kos en jy hou aan om nuwe goed in die catio te sit, kan katte gemaklik aanpas. Maar as jy net die catio insit en niks verander ooit daarin nie, is dit net so sleg soos ’n hok.

Katte het oorspronklik “tot tien muise per dag” gevang. “Dis ’n goeie idee van hoeveel van hul wakker-tyd hulle veronderstel is om te jag en hul omgewing te verken. As jy vir jou katte genoeg geleenthede gee om te ‘werk’ vir hul kos en jy hou aan om nuwe goed in die catio te sit, kan katte gemaklik aanpas. Maar as jy net die catio insit en niks verander ooit daarin nie, is dit net so sleg soos ’n hok.”

Pienaar stel voor dat die kat se kos in verskillende bakkies verdeel en in die huis en catio versprei word. Só moet die kat “bietjie harder werk om sy daaglikse ete te kry”.

Sy sê Pinterest en Google het oulike idees vir katverryking en die meeste daarvan kan self gemaak word.

Horisontale en vertikale ruimte moet ten volle benut word. “As die kat ongelukkig is omdat sy vryheid beperk word, kan ’n mens gedragsprobleme verwag soos urine-merking en aggressie.”

Sy sê dis beter om eerder die grensheining te beveilig as om die kat net in die huis te hou.

Meer oor:  Katte  |  Inperking  |  Catio
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.