Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Roof van transitogeld styg met 107,7%
Die toneel van ’n transitorooftog in Junie in Kaapstad. Foto:Jaco Marais

’n Transitorower is nie sommer ’n hierjy-misdadiger wat slaap onder ’n brug nie – hy staan langs jou in die supermark met ’n trollie vol kos.

“Hulle dra mooi klere, ry mooi karre en het mooi vroue aan hul sy, maar dis ’n baie gevaarlike mens. Dis die gevaarlikste mens in Suid-Afrika,” sê dr. Hennie Lochner, ’n kenner van transitorooftogte verbonde aan Unisa.

“Dit is eksklusiewe rowers wat geen respek toon vir lewe nie en hulle gebruik uitermatige geweld.”

Transitorooftogte in Gauteng – die land se brandpunt vir dié misdaad – het in die derde kwartaal met 107,7% gestyg teenoor dieselfde tydperk ’n jaar gelede, het Gauteng se waarnemende polisiekommissaris, genl.maj. Patricia Rampota, Dinsdag bekend gemaak.

Dié skokkende styging volg nadat transitorooftogte in Gauteng verlede jaar ’n geringe daling getoon het – van 62 gevalle in 2018-’19 tot 61 gevalle in 2019-’20.

Dit verteenwoordig steeds 37% van die 164 transitorooftogte wat volgens die SAPD verlede jaar in Suid-Afrika voorgekom het. Dié 164 gevalle is minder as die 238 in 2017-’18, maar presies dubbel soveel as in 2014-’15, toe slegs 119 sulke rooftogte aangemeld is.

Grant Clark, woordvoerder van die transitovereniging van Suid-Afrika (Citasa), het aan Rapport gesê daar was net vanjaar reeds 243 voorvalle landwyd.

Die Fidelity-groep sê 97 voorvalle is die afgelope drie maande aangemeld – 40 in Augustus, 30 in September en 27 verlede maand. Suid-Afrika se transitoroofsyfers is van die hoogste ter wêreld.

Lochner het met 21 rowers in vyf hoësekerheidsgevangenisse gepraat wat almal lewenslange vonnisse uitdien.

“Hulle skroom nie om uitermate geweld te gebruik in rooftogte nie. Hulle het ’n soort sakesin,” sê hy.

transitorooftogte

“Hulle wil die meeste geld steel met die minste risiko om geïdentifiseer te word en met die minste mense, want dan is daar meer om te deel.”

Yusuf Abramjee, ’n teenmisdaad­aktivis en aanbieder van Crime Watch op eNCA, beaam dit en voeg by: “Hulle kom met swaar skietgoed en skroom nie om dood te skiet nie.”

Lochner sê bendes bestaan gemiddeld uit 13 lede en hulle beplan tussen ’n jaar en 16 maande aan ’n transitoroof.

Sodra hulle die geskikte teiken identifiseer, tree hulle vinnig op. “Dis soos ’n jagluiperd wat ’n bok gesien het,” sê Lochner.

Vir rowers om as “eksklusiewe” rowers beskou te word moet hulle een derde van hul lewe aan misdaad wy.

Hulle begin gewoonlik klein.

“Eers is dit inbrake, dan huisrowe.

“Of ’n motordiefstal van onder ’n afdak by ’n winkelkompleks totdat hy later ’n motor kaap. Dan volg rooftogte by ondernemings en banke voordat hy ’n transitorower word.”

Bankrooftogte raak egter al hoe skaarser weens die hoë risiko daarvan om met gevorderde veiligheidstelsels geïdentifiseer te word.

Abramjee sê transitobendes het toegang tot verskeie motors, vuurwapens en ammunisie.

Drie wagte van die veiligheidsfirma G4S is onlangs weens ’n rooftog in Johannesburg vasgetrek en Fidelity-wagte weens ’n ander rooftog.

In die vroeë oggendure van Saterdag het ’n groot groep gewapende mans toegang verkry tot Fidelity se kantore in Pretoria.

Wahl Bartmann, uitvoerende hoof, sê twee veiligheidswagte is beseer en die rowers het weggekom met ’n beperkte bedrag geld.

Clark sê transitorowers daag soms met semi-outomatiese vuurwapens op wat hulle by die polisie en weermag gesteel het.

“Wanneer hulle daarmee skiet, skiet hulle regdeur die kontantvoertuie en beseer ons werknemers.

“Hulle laat niks in hul pad staan nie. Dit word met militêre presisie uitgevoer.”

Clark sê hul inligting wys dat van die rowers oor die Botswana- en die Zimbabwe-grens kom. Sommige het weermagopleiding.

Lochner sê egter van die rowers met wie hy onderhoude gevoer het, het net een ’n sterk militêre agtergrond. “Dis nie ’n bende militêre lede nie.

“My profiel van transitorowers wys die ou wat in Johannesburg roof, roof ook in Durban en Kaapstad. Party word slegs gehuur omdat hulle goed kan motor bestuur.

“En hulle stel nie belang as daar net ’n miljoen te steel is nie.”

Dié Fidelity-transitowag, wat al twee keer deur gewapende rowers gekonfronteer is, sê hy bid elke oggend en elke aand. Foto: Jana Smit
'God hou my veilig'

Elke oggend voordat hy gaan werk en weer saans bid hy dat hy veilig sal wees, sê ’n 34-jarige transitowag van Fidelity met ses en ’n half jaar ondervinding. Dié man, wat al vir sy dapperheid bekroon is, is vanjaar al twee keer deur rowers oorval. Die jongste voorval was op 25 Augustus by Pick n Pay Southdale, in die suide van Johannesburg. Hy het pas die geld in die kontantboks gesit toe hy iemand aan hom voel raak.

“Uit die hoek van my oog het ek twee mans gesien en ’n derde een wat ’n entjie weg gesit het.

“Een het ’n vuurwapen teen my kop gedruk. Hulle het nie gepraat nie, maar ek kon sien hoe hy die sneller begin trek. Ek het vir hulle die geld gegee en begin hardloop. Hulle het die geld gelos en op my begin skiet.

“Toe ek sien hulle hardloop weg het ek omgedraai en teruggegaan om te gaan kyk en het gesien hulle het die geld agtergelaat.”

Die man het al drie rowers gewond. “In hierdie werk moet ’n mens seker maak jy is altyd dapper.”

Die wag, wat nie getroud is nie, maar twee kinders het, sê hy het van die begin vir sy familie gesê sy werk is gevaarlik, maar hy het vertroue in homself en die selfvertroue om sy werk te kan doen.

“En ek het geloof. Ek glo dit is hoekom ek veilig is.”

Meer oor:  Kenner  |  Fidelity  |  Hennie Lochner  |  Transitoroof  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.