Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Lastag’ op ou end toe nie so ‘lucky’
Ernie (Lastag) Solomon
Ernie (Lastag) Solomon in A Lucky Man, ’n fliek oor sy lewe.

Die gewese baas van die 28-bende, Ernie (Lastag) Solomon, wat Vrydag in sy BMW in Boksburg in ’n koeëlreën gesterf het, wou ’n varkboerdery op ’n kleinhoewe in Pretoria begin.

Sy oudste seun, Carlo, het die afgelope week nog ’n sleepwa met tien varke uit die Overberg na die Jakarandastad gestuur.

Die 36-jarige Carlo het gister aan Rapport gesê sy pa het ’n stukkie grond en wou met varkboerdery begin.

Die 62-jarige Solomon het die wit BMW bestuur waarin hy doodgeskiet is. Saam hom was sy dogter, Crystal Fiver, en haar tweejarige kind, asook ’n 35-jarige vriend van Solomon.

Volgens die spesialisondersoekbeampte Mike Bolhuis was Solomon ’n gerekende figuur in die onderwêreld.

“Hy was die hoofleier van die 28’s in Reiger Park (’n oorwegend bruin woonbuurt naby die Boksburg-omgewing) en in dele van die Kaap.”

In Mei vanjaar het Solomon ’n sluipmoordaanval oorleef by die Terrible Josters se “hoofkwartier”, ’n nagklub op Hawston naby Hermanus.

Solomon is vyf keer raakgeskiet en Carlo drie keer.

Twee veiligheidswagte, Euon Brouers en Vogan Kepkey, jaag met die erg beseerde baba na die hospitaal.

Bronne het toe aan Netwerk24 gesê die aanval hou verband met ’n mislukte sluipmoordaanval in Maart vanjaar op Solomon se neef Horatio (Voudie) Solomon, die vermeende leier van die Terrible Josters in Elsiesrivier, Delft, Wesbank en Kleinmond. Laasgenoemde se 13-jarige dogter is in die aanval dood.

Bronne het beweer Solomon was agter die aanval op Horatio en het toe bespiegel dat Horatio sy dogter se “bloed optel”.

’n Bron met diep kennis van die Kaapse bendewêreld het gister gesê “die jonges tussen 25 en 35 wil oorneem”.

“Ons het geweet Lastag gaan een of ander tyd val. Die woord hier is: Wie is volgende?”

Bolhuis sê Solomon was beslis nie met vakansie in die noorde nie. “Hy het ná die skietery noorde toe getrek en op ’n kleinhoewe by Erasmia kom wegkruip.”

Hy sê Solomon se aanvallers het skielik met ’n gesteelde Ford Ranger voor hom gestop.

“Solomon het toe met sy wit 3-reeks BMW in die Ford Ranger vasgery. Op daardie oomblik het ’n Ford Eco Sport langs hulle gestop. Twee insittendes het uit die Ranger gespring en met swaar semi-outomatiese aanvalsgewere, soortgelyk aan ’n R5 of ’n AK-47, op Solomon en die ander drie insittendes losgebrand. Ongeveer 40 skote is geskiet. Die twee skieters het toe in die Eco Sport gespring en gevlug. Die gesteelde Ranger het agtergebly.”

Hy het nie die tweede aanslag op sy lewe oorleef nie.

Op beeldmateriaal van die gemonteerde kamera van ’n voertuig wat op daardie stadium verby die toneel gery het, sien mens hoe die aanvallers na die BMW stap.

Sekondes later klink kort sarsies geweervuur op, nagenoeg 40 keer.

Charl van der Merwe, besturende direkteur van die veiligheidsmaatskappy Graphite Security, het gister aan Rapport gesê twee van sy maatskappy se taktiese offisiere, Euon Brouers (27) en Vogan Kepkey (34), was sowat 150 m van die toneel af toe die skietery uitbreek. Hulle het gedink dis ’n transitorooftog.

Hy sê die vlugtende aanvallers het op sy offisiere geskiet en die voertuig getref. Solomon se tweejarige kleinkind is aan die kant van haar maag en boud gewond.

Brouers en Kepkey het met die gewonde kleintjie hospitaal toe gejaag. Kepkey het sy hemp uitgetrek en die babadogtertjie daarin toegevou om die bloeding te probeer keer, sê Van der Merwe.

Kapt. Kay Makhubele, ’n polisiewoordvoerder, het gister gesê die kleuter is in ’n stabiele toestand in die hospitaal. Fiver en die vriend wat saam in die motor was, was volgens Carlo albei gister nog in ’n kritieke toestand in die hospitaal. “Hulle sukkel nog met hulle, maar die baba is darem oukei.”

Die polisie weerhou die naam van die hospitaal ter wille van die gewondes se veiligheid.

Carlo sê hy en sy pa was Donderdagaand “nog in lang Whats­App-gesprekke”, maar hy wou nie uitwei oor die aard en inhoud daarvan nie.

Volgens Carlo wil die polisie vir die familie niks sê nie, “nie eens van wie almal saam met my pa in die BMW was nie”.

“Dis hoekom my broer Tony gister Gauteng toe is, om te gaan uitvind wat presies gebeur het.

“Ek kan niks sê nie. Daar’s so ’n klomp stories. Kyk, dit is mos ’n high-profile case nou.”

In 2016 is ’n fliek, A Lucky Man, oor Solomon se lewe uitgereik. Hy word daarin uitgebeeld as ’n man op soek na sy identiteit.

Volgens Makhubele soek die polisie na vier verdagtes.

Klagte van moord en poging tot moord word ondersoek.

Meer oor:  Carlo Solomon  |  28-Bende  |  Lastag Solomon  |  Vermoor  |  Varkboerdery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.